Ramaphosa se energie-aksieplan was fout – DA

Kgosientsho Ramokgopa, minister vir elektrisiteit, tydens ’n besoek aan die Tutuka-kragstasie (Foto: SAgovnews/Twitter)

’n Verdoemende verslag oor die prestasie van Eskom se steenkoolkragstasies is ’n bewys dat pres. Cyril Ramaphosa se energie-aksieplan liederlik misluk het, het die DA Maandag gesê.

Die nasionale tesourie het die omvattende verslag, wat uit ’n onafhanklike ondersoek by die kragverskaffer se kragstasies spruit, Vrydag bekendgestel. ʼn Duitse konsortium het die verslag opgestel nadat daar tussen Maart en Mei verlede jaar ʼn hersiening gedoen is van die bedryfsituasie van Eskom se steenkoolvloot.

Samantha Graham-Maré, die DA se woordvoerder oor elektrisiteit, sê die verslag “bevestig onweerlegbaar” dat die president die uitdagings by Eskom se steenkoolkragstasies “heeltemal verkeerd gediagnoseer het en ingrypings nastreef wat die onderprestasie van die stasies vererger”.

Kgosientsho Ramokgopa tydens een van sy besoeke aan Eskom se kragstasies. (Foto: GCIS)

Sy meen daar moet onmiddellik met die aksieplan weggedoen word om op die korttermynverbetering van steenkoolkragstasies te fokus terwyl investering in hernubare energie – vir energiesekerheid op lang termyn – opgeskerp en bespoedig word.

“Anders as Ramaphosa se mislukte energieplan, is die tesourie se verslag saamgestel deur kundiges met dekades se ondervinding in die bedryf en die instandhouding van steenkoolkragsentrales.

“Die energieplan, wat in Julie 2022 bekendgestel is, het verkeerde aanbevelings gedoen wat versuim het om aanlegprestasie te verbeter en die energiebeskikbaarheidsfaktor (EBF) tot ’n algehele laagtepunt laat daal het.”

Die bloutjies wat volgens die DA geloop is, sluit onder meer in:

  • Die misplaaste oortuiging dat beurtkrag sal verminder wanneer die oorblywende eenhede by Kusile en Medupi weer aanlyn is.
  • Die fokus om onderdele van oorspronklike toerustingvervaardigers te kry en die versuim om vennootskappe met dié vervaardigers te sluit in die bestuur van nuwe aanlegte.
  • Verhoging van die begroting vir kritieke onderhoud om aanlegte ten alle koste aan die gang te hou, terwyl die begroting vir die instandhouding van aanlegte beperk is.
  • Hoewel die ontbondeling van Eskom noodsaaklik is, het die energieplan versuim om Eskom se ingewikkelde personeelstruktuur te takel wat rompslomp verhoog en tegniese doeltreffendheid by aanlegte in gedrang bring.

Graham-Maré sê die verslag draai nie doekies om nie en skets ʼn ware prentjie van wat werklik nodig is om kragopwekking te bevorder, naamlik:

  • Vennootskappe met vervaardigers van oorspronklike toerusting om aanlegte soos Medupi en Kusile te bedryf ten einde ’n deurlopende verbeteringsproses te verseker.
  • Dringende afwenteling is nodig om bestuursverantwoordelikheid na kragsentralevlak oor te dra. Luidens die verslag sluit hierdie bemagtiging die volle begrotingsverantwoordelikheid en aanspreeklikheid deur die hoofbestuurder van die kragstasie in.
  • Om kragverliese te verminder, is ’n omvattende, sistematiese en gestandaardiseerde instandhoudingsbenadering nodig om aanlegprestasie te verbeter. Die huidige praktyk, aldus die verslag, is dat “die aanlegte gedwing is om voort te gaan om te werk ten koste van hul tegniese toestand”.
  • Weens ʼn tekort aan tegniese vaardighede op aanlegvlak moet ’n “tussentydse eksterne kundige span … wat direk aan die nasionale tesourie rapporteer … permanent op elke terrein teenwoordig wees om sleutelrisikogebiede op te volg en in te gryp indien nodig”.

“As Eskom die aanbevelings wat in die tesourie-verslag vervat is, implementeer, het Eskom ’n realistiese kans om die opwekkingsuitset van Eskom se kragsentrales te verbeter en die energietekort op kort termyn te verminder,” sê Graham-Maré.

“As die ANC-regering egter voortgaan om hom vir Ramaphosa se gediskrediteerde en oorbodige energieplan te beywer – deur die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa – sal die gevolge toenemend in die hoë aantal kragverliese weerspieël word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.