Ramaphosa se gewildheid taan – studie

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Soos wat Suid-Afrika se afsonderingsregulasies al hoe meer verslap word, daal steun vir pres. Cyril Ramaphosa se hantering van die Covid-19-pandemie ook al hoe meer.

Volgens ʼn aanlyn meningsopname van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Sentrum vir Maatskaplike Verandering en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) se afdeling vir ʼn ontwikkelende, vaardige en etiese staat, was daar onder alle sosio-ekonomiese groepe ʼn afname in Ramaphosa se gewildheid.

Steun vir Ramaphosa onder inwoners van informele nedersettings het van 86% tot 71% gedaal en steun onder studente het van 77% tot 62% gedaal.

Wit volwassenes se steun vir die president het met ʼn allemintige 49 persentasiepunte afgeneem van 90% tot 41% en volwasse Indiërs se steun vir die president het van 82% tot 33% geduik.

Diegene wat glo mense moet toegelaat word om sigarette te koop, het van 29% tot 55% gestyg en diegene wat meen alkoholverkope moet toegelaat word, het van 13% tot 32% toegeneem. Die verbod op die verkoop van tabak én alkohol is intussen opgehef.

Tóg is Suid-Afrikaners steeds bereid om sommige van hul regte prys te gee om die verspreiding van Covid-19 te help bekamp – hoewel die grootste steun hiervoor onder ANC-ondersteuners was, het die navorsers bevind.

Die getal mense wat vantevore heeltemal bereid was om hul regte prys te gee, daal egter deurlopend. Dit het van 78% (tydens die vorige opname) tot 70% gedaal.

Bereidwilligheid om sekere regte prys te gee:

  • ANC: 78%
  • EFF: 74%
  • DA: 53%
Karoo_kerk_stiltetyd_pixabay.jpg

(Argieffoto: pixabay)

Volgens die navorsers is ANC-ondersteuners meer bereid om hul reg om te werk prys te gee, terwyl diegene wat die EFF steun, eerder die reg om skool by te woon sal prysgee.

Hoewel aanbiddingsplekke een van die eerstes was om ná die aanvanklike afsondering heropen te word, was die reg om na ʼn plek van aanbidding te gaan ook die eerste reg wat mense bereid was om prys te gee. Suid-Afrikaners is egter nie ewe haastig om hul reg op privaatheid sommer net op te sê nie.

Watter regte sal mense prysgee?

  • Reg om na ʼn aanbiddingsplek te gaan: 56%
  • Reg om tussen plekke te reis: 52%
  • Reg om skool en universiteit by te woon: 34%
  • Reg om te werk: 30%
  • Reg op privaatheid: 19%
  • Nie bereid om enige regte prys te gee nie: 22%

Die navorsers het bevind diegene wat die president vertrou, is meer bereid om hul regte prys te gee in ʼn poging om die pandemie te help stuit. Wit Suid-Afrikaners en meer gegoede Suid-Afrikaners is die onwilligste om enige regte prys te gee.

“Mense wat kwaad, gefrustreerd of hartseer voel, is minder geneig om die president te vertrou en ook minder bereid om enige regte prys te gee om ander te beskerm. Diegene wat bang voel, is meer geneig om die president te vertrou en ook meer bereid om hul regte prys te gee om die verspreiding van die virus te help stuit.”

Onderwys

(Argieffoto)

Terwyl duisende leerders volgende week weer na skole terugkeer, is die meeste mense wat aan die studie deelgeneem het, gekant teen die heropening van skole dié jaar.

Net 13% van mense meen skole moet vanjaar weer vir alle grade heropen, 21% meen skole moet net vir gr. 7- en gr. 12-leerders heropen en 60% van mense het aangedui skole moet vanjaar glad nie weer heropen nie.

Diegene in hoër inkomstegroepe is meer geneig om ten gunste van die heropening van skole te wees. Altesaam 41% van mense wat meer as R20 000 per maand verdien, glo skole moet heropen, terwyl 67% van mense wat minder as R1 000 per maand verdien, meen skole moet gesluit bly.

Gehoorsaamheid aan regulasies

Die navorsers het bevind net sowat 73% van volwassenes gee gehoor aan afsonderingsregulasies.

“Dit is nie genoeg om die verspreiding van Covid-19 te stuit nie en maak dit meer waarskynlik dat beperkings weer ingestel sal moet word,” het die opname bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pieter ·

Ou mugabe se gewilheid het ook getaan maar zanu pf regeer nog steeds. Gaan orals in afrika so.

Erik ·

Wat Ramaphosa se gewildheid betref… Ek weet baie van ons is gekant teen hom, en ek verstaan hoekom aangesien hy my ook uiters teleurgestel het. Ek kan net nie dink aan iemand anders om hom op te volg nie. Kopdoek is erger, en die adjunk president is so stil soos ‘n muis en blykbaar ook erg korrup. Ons is so soortvan in doodloopstraat!

JohanR ·

Dit is ‘n President en ‘n ANC, wat die deure van Cradle of Hope gesluit het, en ‘n polisie wa voor die deur parkeer het, net om te verhoed dat kinders ‘n grondboontjie toebroodjie en ‘n piesang te eet kry vir die dag. Maak daai gedagte groot in jou kop die dag dat jy weer voor ‘n stem brief staan! Nie een minister het honger gegaan vanaf 26ste Maart. Daai salaris het elke einde van die maand in die rekening in geval. As dit nie vir nie regerings organasasies was nie wat sou in die laaste 5 maande van die land geword het?

Niklaas ·

Wel , wat is die alternatief dan , EFF ? Neewat. Die meeste lande se leiers het weens die ekonomiese agteruitgang ook dieselfde tendens . Kyk na Donald Trump. In Januarie was hy besonder gewild en niemand sou hom wou uitskop nie. Nou , met o.a. CNN se volgehoue beeld afkraak en slegmaak en sovele pogings om hom te laat vervang , is ek nie meer so seker nie.

Blikke ·

@Erik
Ons is so soortvan al vanaf 1994 af in n doodloopstraat.

Erik ·

Ons was al lank voor 1994 in doodloop straat. Apartheid was aaklig.

Erik ·

Die afduime is ‘n groot ontnugterig vir my. Nie geweet daar is nog mense oor wat apartheid as iete goeds beskou nie. Seker nie kerkmense nie…

Kokerboom ·

So sito sito het hy die venster van geleentheid om ‘n verskil te maak laat verbygaan

Porseleintjie ·

Korreksie….. ons het niks prysgegee nie. Dis eenvoudig weggevat.

Jaco ·

Dit is omdat die president nie inbeheer is nie. Of so lyk dit. Hy sal moet beheer uit oefen. Daar kan net een persoon in beheer wees. Dit word n grap.

Elize ·

Die dag toe parrapot as president aangedui is het ‘n swart vrou vir my gesê dat ons moeilikheid nou eers begin het want hy is groter skelm as zuma. Sy was sommer hartseer oor wat vir ons voorlê en stem ek vandag saam met haar. Hierdie is groter gemors as zuma want hy kry dit reg om sy skelmstreke beter weg te steek

Nico ·

Hoekom word drinkplekke oop gemaak, kerke word nog geaffekteer, word wakker maak die kerke oop.

Antjiepat ·

Ja en dan bid ons nogal : God seen SA… maar ons staan eerste in die ry om te se dit is reg maak die kerke toe. Ons staan eerste in die ry vir ‘n zol en ‘n bottel bier maar wee die een wat die kerk se deure wil oopmaak.. Ja God seen SA, maar wil SA werklik die seen he?

wimpie ·

ANC sal die reg tot werk opgee want die regering sal vir hulle sorg
EFF sal die reg tot skool opgee want dan is daar meer tyd om self education tedoen deur middel van bou boardroom dancing en sang lesse (strikes) en as dit nie werk nie dan na die anc teval met honderde verskonings en redes hoekom hulle nie kan werk nie en hoekom die regeering dan vir hulle ook moet sorg
Die witmense wil nie NOG regte prys gee nadat soveel regte alreeds weggevat is maar op die einde van die dag moet die kos nogsteeds van die wit boer se land afkom of nee vra onverskoning dit val mos uit die lug uit tot op die winkel se rakke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.