Ramaphosa se kabinet: Verwag nog skuiwe

cyril-ramaphosa-oor-nuwe-kabinet-2018-02-27

President Cyril Ramaphosa het sy nuwe kabinet op Maandag 26 Februarie by die Uniegeboue in Pretoria aangekondig. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die samestelling van pres. Cyril Ramaphosa se nuwe kabinet en die manier waarop die aankondiging daaroor eers uitgestel is, is ʼn teken dat hy sterk druk moes weerstaan om dit saam te stel.

Dit was die mening van politieke ontleders wat Dinsdag met Maroela Media gesels het ná Ramaphosa sy keuses vir ministers in sy kabinet Maandagaand meer as 90 minute later as beplan, regstreeks vanuit die Uniegebou in Pretoria bekendgemaak het.

Ramaphosa het omstreeks 22:15 nie minder nie as tien ministers die trekpas gegee, terwyl daar 21 ministers geskuif of nuut aangestel is. ʼn Verdere vyf nuwe adjunkministers is aangewys en nog vier ANC-lede is Dinsdag as parlementslede by die Nasionale Vergadering ingelyf sodat hulle ook as ministers in Ramaphosa se nuwe kabinet kan dien.

“Daar was geweldig baie konsultasie met al die belanghebbendes en dit is deel van die ANC se ietwat lompe prosesse om ʼn kabinet saam te stel. Tog dink ek vir Ramaphosa om op die dag van die bekendmaking oor sy nuwe kabinet die aankondiging met meer as ʼn uur en ʼn half te moet uitstel was beslis ʼn bewys dat daar nog tot op die nippertjie toe druk was oor hoe die kabinet moes lyk en saamgestel word,” het Theo Venter, ʼn politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom, gesê.

Venter het gesê die grootste verrassing vir hom was Ramaphosa se besluit om David Mabuza, die premier van Mpumalanga en adjunkpresident van die ANC, ook die adjunkpresident van die land te maak.

“Mabuza staan teenoor Ramaphosa soos wat Jacob Zuma destyds teenoor Thabo Mbeki gestaan het as sy adjunkpresident. Zuma het soveel aantygings van korrupsie teen hom gehad dat Mbeki hom uiteindelik moes afdank.”

Venter reken dieselfde scenario kan nou weer uitspeel met Mabuza as Ramaphosa se adjunk. “My vraag is: Was daar nie genoeg vraagtekens oor Mabuza se agtergrond en bewerings van korrupsie teen hom dat daar vir eers ʼn bietjie gewag kon word met sy aanstelling as adjunkpresident nie?”

Talle Suid-Afrikaners het hulle na sosialemediaplatforms gewend om hulle ongelukkigheid uit te spreek oor Ramaphosa se besluit om ministers soos Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini te behou en net na nuwe portefeuljes oor te plaas.

Daniel Silke, ʼn onafhanklike politieke ontleder, het egter gesê hy reken die kabinetskommeling kon daarin slaag om gedeeltelik van die “verrotting van die Zuma-era ontslae” te raak, maar die ingewikkeldheid van die ANC se politiek en kompromie wat gemaak is, het ʼn totale omwenteling in die kabinet verhoed.

“ʼn Mens moet regverdig wees teenoor Ramaphosa. Hy is ʼn nuwe president met ʼn redelike swak mandaat en die kompromieë in sy kabinet bewys dit. As hy egter kan slaag in sy planne vir hernuwing van die land se ekonomie, sal hy veel meer beheer in die toekomstige skuiwe hê, maar daarvoor moet sy planne eers slaag,” het Silke bygevoeg.

Silke en Ben Theron van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), meen albei dat Ramaphosa beslis daarin geslaag het om stewig beheer te neem oor ekonomiese kluster met sy nuwe kabinet.

“Ons verwelkom die terugkoms van Nhlanhla Nene en Pravin Gordhan, wat voorheen deur Zuma summier verwyder is terwyl hulle eintlik ʼn positiewe bydrae gemaak het tot die bestuur van die staat se finansiële sake,” het Theron gesê.

Dié organisasie het sy vertroue uitgespreek dat Nene en Gordhan kan help om wanbestuur en korrupsie in die regering aan te spreek terwyl hulle die paaie gelyk kan maak vir verdere ondersoeke in staatskaping en die kapitaaluitgawes van die Suid-Afrika se sukkelende semi-staatinstellings.

Venter het gesê Ramaphosa se besluit om Nene weer as minister van finansies aan te stel is ʼn regstelling van die fout wat Zuma in Desember 2015 gemaak het. “Die aanstelling van Nene en die afdanking van Des van Rooyen is ʼn regstelling waarvoor Suid-Afrikaners vir die beste deel van twee jaar gewag het en ek dink dit was ook ʼn effense klap in Zuma se rigting.”

Venter het verder gesê dit is vir hom opvallend hoeveel verteenwoordigers die ANC van KwaZulu-Natal nou in Ramaphosa se kabinet gekry het. “Daar is nou minstens sewe ministers, dalk selfs meer, wat van dié provinsie afkomstig is en nou seniorposisies in die kabinet gekry het. Dit is vir my duidelik dat Ramaphosa met hierdie besluit die eenheidsgedagte binne die party baie ernstig opgeneem het. Ek reken ook die ANC in KwaZulu-Natal sal meer tevrede voel met die verteenwoordiging wat hulle nou het.”

ʼn Nuwe premier van die Vrystaat sal binnekort aangewys moet word, aangesien Ace Magashule nie sekretaris-generaal van die ANC en terselfdertyd premier van ʼn provinsie kan wees nie. Verder sal daar ook ʼn premier in KwaZulu-Natal aangewys word ná die hofbeslissing oor die provinsie se provinsiale verkiesings voor die leierskonferensie in Desember.

“Ek het ook verneem die president is nie gelukkig met die Noord-Kaapse premier nie, so ek verwag daar sal binnekort minstens drie nuwe premiers aangestel word.” Venter reken dit sal redelik vinnig gebeur en dat iemand soos Fikile Mbalula, wat nou die trekpas as minister van polisie gegee is, moontlik vir een van hierdie premiersposte oorweeg sal word.

“Dit was net die eerste ronde in Ramaphosa se skuiwe in die kabinet. Ek vermoed ons sal ʼn tweede kabinetskommeling in April kry om die kabinet te verklein. Die volgende groot kabinetskommeling sal dan volgende jaar ná die algemene verkiesing plaasvind,” het Venter bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wikus Lee ·

Goeie dag,
U verwys in u berig dat daar nou ‘n vakature vir premier in Limpopo is na die aanstelling van mnr. Cassel Mathale as adjunk-minister. Net ‘n regstelling: Mnr. Mathale was van Maart 2009 tot 17 Julie 2013 premier. Sedert 18 Julie 2013 is mnr. Stanley Mathabatha die premier van Limpopo.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Wikus

Baie dankie vir jou valkoog! Die berig is nou gewysig.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

jaco ·

Daar is net 1 Indiër en net 1 blanke in die nuwe kabinet, maar geen Kleurling nie. Nou wonder ek maar net: watter kwotastelsel gebruik Ramaphoza dan?
Toe Helen Zille se kabinet ‘n paar jaar gelede net ‘n raps te wit was, het dieselfde ANC waarvan Ramaphoza lid is, ‘n groot lawaai oor rassisme gemaak.

Paul ·

Die ja stemme oor grondonteiening sonder vergoeding vandag in die parlement en die voorhou van krom statistiek soos deur die nuwe minister van waterwese, maak die goeie wat bedoel was met die ekonomie deur die aanstelling van die nuwe ministers toetentaal ongedaan. Wonder of daar nie nou weer ‘n afgadering op die tafel is nie. Ramaphosa se wit paddas word nie eens meer stadig gekook nie, die water is verby kookpunt en die totale aanslag teen wit mense het nou éérs momentum gekry, ons kan maar net hulpeloos toekyk hoe FW se wigte en teenwigte inskop.

Paul ·

Ja, terloops, die wat hande vir Ramaphosa geklap het oor sy aanstellings in die kabinet, het hy egter wol om die oë gesit, en siedaar, grondonteiening sonder vergoeding en ‘n heksejag teen Cyril se wit paddas het sopas die groenlig gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.