Ramaphosa se kans om ʼn groter, sterker en beter ekonomie te bou

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa op 7 Februarie 2016 by die ou Peter Mokaba-stadion in Polokwane, Limpopo (Foto: ANA)

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa se verkiesing as die nuwe president van die ANC het goeie reaksie van die markte ontvang en ʼn gunstige impak op beleggingsentiment gehad.

Die rand het reeds met die aanloop tot die konferensie begin verstewig op die rug van gerugte dat Ramaphosa, wat wyd as meer sake-vriendelik beskou word, die leisels van die regerende party gaan oorneem.

Ná Maandagaand se aankondiging van Ramaphosa se oorwinning het die geldeenheid ʼn drie-maande hoogtepunt van R12,60 teen die dollar bereik. Dit het intussen weer verswak, maar kenners meen dit behoort die vlakke teen die dollar vir eers onder R13,00 te hou.

Ekonome en kommentators in die sakewêreld meen daar lê nou ʼn moeilike tyd vir die nuwe president van die ANC voor nadat hy ʼn oorwinning van minder as 200 stemme oor dr. Nkosazana Dlamini-Zuma behaal het, en die helfte van haar ondersteuners in die top-ses-leierskapposisies ingesluit is, wat saam met hom die ANC bestuur.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die sakeregtewaghond AfriSake, verwys na die 50/50-verdeling as Ramaphosa se RamaZuma-bedeling. Hy reken dit gaan ʼn groot uitdaging vir Ramaphosa bied om die twee kampe te versoen en te mobiliseer om sy beleide te ondersteun.

“Mense wat nou dink alles gaan sommer in ʼn japtrap in die ekonomie regkom, gaan ʼn ontnugterende tyd tegemoet. Ramaphosa bly ook verbonde aan die ANC-beleide wat reeds lank bestaan, hy het nie regtig ʼn ander uitkyk daaroor nie,” het Le Roux bygevoeg.

Kenners meen Ramaphosa maak die regte uitlatings en beskik oor die noodsaaklike leierskapsvaardighede om ʼn positiewe draaipunt vir die ekonomie te skep.

Wouter Snyman, finansiële adviseur, entrepreneur en uitvoerende hoof van attooh!, het gesê Ramaphosa se ondervinding in die sakewêreld kan hom en die Suid-Afrikaanse ekonomie goed te staan kom.

Ramaphosa is volgens hom die regte leier binne die ANC om beleggersvertroue in Suid-Afrika te herwin.

“Hy moet die sakewêreld en die Suid-Afrikaanse korporatiewe instansies oortuig om in die land te belê. Die onlangse politieke onstabiliteit het veroorsaak dat daar miljarde in besteding ingeperk is, maar as Ramaphosa vertroue kan skep, sal die beleggings terugkom. Hy kan deur sy optrede ook weer help om ʼn internasionale beleggingsomgewing te herstel.

“Ramaphosa sal ook geen toleransie vir enige vorm van korrupsie moet toelaat nie. Hy sal die Guptas moet laat vervolg en staatskaping aanspreek, maar ek dink die groter vraag is of die ANC hom hierin gaan ondersteun?”

Snyman meen een persoon, al is dit die president van die regerende party, kan nie alleen die verskil verteenwoordig nie, hy het ʼn span nodig.

Finansiële raad aan Ramaphosa

“Ek verstaan dit is ANC-retoriek om van radikale ekonomiese transformasie te praat, maar ek sou graag vir mnr. Ramaphosa wil sê dat hy veral moet aandag gee aan elke individu se ekonomie in Suid-Afrika. Dit is net so belangrik om die groter ekonomie te groei.

“Hy moet ʼn omgewing skep wat entrepreneurskap aanmoedig wat belê in Suid-Afrika. Hy moet ook ʼn belastingomgewing skep waar daar veral toegewings gemaak word vir klein sakeondernemings. Verder moet hy individue aanmoedig om ʼn bydrae tot die ekonomie te maak.

“Ramaphosa maak tans die regte geluide en sy ‘nuwe transaksie’ wat handel oor inklusiewe ekonomiese groei, kan ʼn mens opgewonde maak. As dit egter eintlik die 100 000 Suid-Afrikaners uit die ekonomie wil sluit wat ʼn miljoen of meer per jaar verdien, is dit nie goeie nuus nie. Hy moet die ekonomie en sy regering op so ʼn manier bestuur dat hierdie mense in Suid-Afrika wil bly.

“Om dit deur te voer sal hy moontlik ook sy top-ses moet teëgaan,” het Snyman gesê.

Le Roux meen Ramaphosa hoef eintlik nie enige nuwe planne of maatreëls in te stel nie.

“Hy kan eintlik maar net ophou om sekere goed te doen. Ek voel iets soos swart ekonomiese bemagtiging, hoë belasting en die staatsbeheerde maatskappy is van die elemente wat tans die skadelikste vir die ekonomie is, maar ek betwyfel of Ramaphosa werklik die politieke wil of vermoë het om dit te staak.”

Volgens prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool moet Suid-Afrika se openbare besteding gestabiliseer word en die staatsbeheerde maatskappye soos Eskom geherstruktureer word. Hy reken ook met Ramaphosa aan die stuur van sake kan verdere afgradering van kredietagentskappe vermy word en die vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie herstel word, mits Ramaphosa bereid is om die dringende ekonomiese verandering te maak wat die land se ware potensiaal kan ontsluit.

Finansiële raad aan lesers

Snyman het gesê sy raad vir die tyd waarin daar nog talle onsekerhede oor die politiek en ekonomie woed, is:

  • “Moenie enige onnodige korttermyn skuld aangaan nie. Onthou, skuld steel jou welvaart, daarom moet jy sommer vandag nog begin om dit te delg sonder om nuwe skuld te maak.”
  • “Rus jouself toe om meer waarde in ʼn moontlike groeiende ekonomie toe te voeg.” Dit kan gedoen word deur jou bestaande vaardighede op te skerp en uit te brei. “So kan jy maklik op die ou end jou eie salaristjek begin uitskryf, ʼn goeie situasie om in te wees,” het Snyman gesê.
  • “Behou jou optimisme! Ons het ʼn optimistiese land nodig wat steeds bereid is om bydraes te maak. Gaan maak ʼn verskil in jou gemeenskap, al is dit op net een persoon se lewe wat jy aanraak, ons het daardie verskil nodig.”

Le Roux het gesê AfriSake sal verbeterings onder die leiding van Ramaphosa se ANC verwelkom, maar bly intussen op koers. “Ons sal nougeset voortgaan om welwillendheidsinisiatiewe in die burgerlike samelewing te ondersteun, voorspraak vir vrye markte te maak, ons lede van ’n mededingende voordeel te voorsien, en uiteindelik te poog om besigheid staatsbestand te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Die ANC het homself vernietig en Cyril was deel van die NOK toe dit gebeur het! Hy het ook die bloed van die Marikana myners op sy hande! Hy is n ou slang in ‘n nuwe vel!

JP ·

Ons moet niks positiefs verwag nie. Solank Zuma die SA President bly het Mnr Ramaphosa geen mag om die sirkus te keer nie. Ons kan nou verwag dat die Zuma aanslag net gaan vererger want hy weet dit is sy laaste kans.

Moenie jouself flous nie! ·

Niemand kan RSA se ekonomie red nie.

Die ANC se “Gratis Alles beleid” het ʼn onomkeerbare scenario geskep, waar 45.5% van die land se huishoudings afhanklik is van Sosiale Toelae. . . . hoekom moet ek werk, as die staat vir my sorg. Hoe meer kinders, hoe groter my toelae??!!

Tans is daar meer Suid Afrikaners AFHANKLIK van Sosiale Toelae (meer as 17 miljoen) as wat daar werkende mense in die land is (slegs sowat 15.5 miljoen verlede jaar)
Bitter min van dié werkende bevolking dra enigiets tot die staatskas by, deur inkomste belasting

Die ANC het ʼn kultuur geskep van GRATIS onderrig, GRATIS medies, GRATIS behuising, Gratis / Gratis / Gratis
RW Johnson skets 2x scenario’s. Ramaphosa gaan staan bakhand voor die IMF vir ʼn “bailout” . . . eerste voorvereiste waarop die IMF gaan aandring, is die einde van Sosiale Toelae & die einde van “swart bemagtiging” . . . daarna sal die HELE land brand
Tweede scenario is dat Ramaphosa gaan bakhand staan voor die Chinese. Chinese LEEN NIE GELD NIE. Venezuela het China in olie betaal totdat hy bankrot is
Dan is daar natuurlik ook die derde hardekoejawel scenario wat Zimbabwe ingeslaan het.

Jakes ·

Die knaap Ceril voel niks vir wit nie .Moenie dink hy gaan ons wat wit is tegemoet kom nie .Hy het nie ‘n multi miljoener geword deur peanuts te eet nie.

Kat ·

Ek sien op Netwerk 24 dat Roelf Meyer n eier gele het waarin hy in CR glo.Hy het 1ste handset ervaring oor hoe CR met sy kop gesmokkel het.Dit kon ook nie te moeilik gewees het vir CR nie want hy het met 2 kluite geonderhandel.Meyer en De klerk.Die uitverkopers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.