Ramaphosa sê Khoisan se griewe word ondersoek

Chief Khoisan SA (Foto: ANA)

Adjunkpres. Cyril Ramaphosa het Sondag, namens pres. Jacob Zuma, ʼn memorandum in ontvangs geneem van ʼn afvaardiging van die inheemse Khoisan-stamme.

“Adjunkpres. Ramaphosa het die afvaardiging verseker dat die memorandum die nodige oorweging sal geniet. Hy het ook die groep in kennis gestel van ʼn wetsontwerp deur die nasionale vergadering wat herkenning bied aan die Khoisan-gemeenskap en sy erfenis,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Ramaphosa het gesê die volgende stap sal wees dat die wetsontwerp aan die nasionale raad van provinsies voorgelê word. “Hierdie proses wys die regering se vasberadenheid om die besware van die gemeenskap aan te spreek op ʼn verantwoordelike en konsultatiewe manier.”

Ramaphosa het die memorandum naby die Nelson Mandela-standbeeld by die Uniegebou ontvang waar die groep kamp opgeslaan het om grond- en identiteitskwessies aan die lig te bring.

Die groep, wat ongeveer 20 000 inheemse persone verteenwoordig, het Sondag die perseel in goeie luim verlaat en hul dankbaarheid betuig aan die duisende Suid-Afrikaners wat hul saak ondersteun. Die mans het hul 24 dag lange betoging beëindig ná Ramaphosa met hulle vergader het. Die groep het weke lank ʼn beroep op Zuma of sy adjunk gedoen om hul memorandum te ontvang. Hulle het ook verlede week by die ANC se nasionale verkiesingskonferensie in Johannesburg opgedaag, maar hulle is verbied om die gebou te betree.

Die Khoisan-stamme eis erkenning van die Suid-Afrikaanse regering as “eerste burgers” van die republiek. Hulle eis ook dat hul taal ʼn amptelike taal moet word, en dat die Wet op Grondbesit van 1913 moet geskrap word, omdat dit hulle verhoed om enige grondeise in te dien. Die vierde eis is dat die bruin identiteit geskrap moet word.

Die groep het van die Oos-Kaap na Pretoria gestap, vasbeslote om met Zuma of Ramaphosa te vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Justice ·

Dit gaan die ANC se planne met grond onteining sonder vergoeding sleg in die hek laat duik noudat die “eerste burgers” ook op die voorgrond getree het. Volgens hulle is hul nou die grootste aanspraakmakers daarop. Hulle voorvaders het genoegsame rotskuns oor die hele land nagelaat om hul argument te staaf.

Gerrit ·

Die beste manier in Suid Afrika om n probleem te ontduik veral as dit by die anc kom is om te sê die saak word ondersoek en net soos die geval by die sapd is dit billie.

Basjan ·

Netso Gerrit! Die saak word ondersoek, of daar word ‘n komissie van ondersoek aangestel. Daarna gebeur niks verder nie.

Onthou ·

Onthou dat hulle nomadies was/is en dus gaan rondtrek agter die lekkerste weiveld, kos ens. Nkandla, hier kom ons!!

John ·

Hoe bewys hierdie mense hulle is afstammelinge van die eerste khoisan? Hulle lyk maar soos enige ander swart bevolkingagroep.

Issie ·

Ek is seker nou bietjie mosterd na die maal maar hierdie Khoisan bevolkingsgroep het in 2000 soveel erkenning gekry as wat ‘n groep maar kan geniet. Ook is hulle verewig op die Suid Afrikaanse ‘Coat of Arms’ as ek dit nie mis het nie – so ook hulle taal. ek plaas ‘n insetsel hier ( kon net die Engels kry) …
‘The present coat of arms of South Africa was introduced on Freedom Day 27 April 2000. It replaced the earlier national arms, which had been in use since 1910. The motto ǃke e: ǀxarra ǁke is written in the Khoisan language of the ǀXam people and translates literally to “diverse people unite”. ‘
Die figure op die ‘wapen’ lyk ook baie soos Khoisans. .. en dis op muntstukke gedruk wat daagliks deur miloene mense in SA hanteer word.
Ons hoop hulle saak geniet nou aandag

Jacques venter ·

Hallo John
DNS toetse is deesdae so akkuraat. Dit kan jou voorsate oor baie generasies opspoor

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.