Ramaphosa se ‘luislang-strategie’ wurg Zuma-faksie

‘n Argieffoto van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, oudpres. Jacob Zuma en pres. Cyril Ramaphosa by die viering van die ANC se 107de herdenkingsfees in Durban in 2019. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die inhegtenisneming van oudpres. Jacob Zuma Woensdag stuur ʼn belangrike boodskap na dwarstrekkers binne die ANC dat hul streke nie langer geduld sal word nie. Dit plaas pres. Cyril Ramaphosa ook nou in ʼn sterker posisie, al kan sommige ANC-ondersteuners moontlik nou wegbly van die stembus.

Só het politieke kenners aan Maroela Media gesê ná die historiese gebeure van die afgelope week toe Zuma homself aan die polisie in Estcourt oorgegee het.

“Zuma se inhegtenisneming het ʼn simboliese en sielkundige effek, omdat dit die mistiek rondom hom as hooffiguur of vaderfiguur van daardie ANC-faksie verwyder,” sê prof. Dirk Kotzé van Unisa se departement politieke wetenskap.

“Hy kon nog altyd loskom. Vir die eerste keer ná tien jaar is hy nou in die tronk.

Volgens Kotzé stuur dit ʼn boodskap aan iemand soos Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, dat sy opsies al minder word. Ook Magashule moet nou besef dat hy tronk toe kan gaan.

“Politieke druk het nie meer die impak wat dit gehad het nie. Daar is ook geen politieke uitweg of skikking nie. Daar kan dalk agter die skerms gesprekke daaroor wees met die minister van justisie en korrektiewe dienste, maar ons weet nie daarvan nie,” sê Kotzé.

Roland Henwood van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria sê die Zuma-gebeure wys die tyd vir maak soos jy wil en daar is nie gevolge nie, is verby. “Dis nog net een persoon (Zuma) agter tralies, maar die dae van praat is verby. Jy gaan pa staan vir jou dade. Die reëls word toegepas en jy kan nie meer jou ANC-affiliasie gebruik om jou te beskerm nie.”

Henwood meen dis juis die boodskap aan Magashule, dat hy nie beskerm gaan word nie. “Daar gaan nie soos in die verlede skielik ʼn aanklaer van sy saak verwyder word en ʼn nuwe een kom en laat vaar die klagte teen hom nie. Die party gaan jou nie help as jy teen hom draai nie.”

Ramaphosa se posisie

Oudpres. Jacob Zuma bly agter tralies – vir eers – nadat die hof sy aansoek van die hand gewys het. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Henwood meen vir Ramaphosa is die Zuma-gebeure ʼn “gemengde pakkie”. Hy het buite die proses gebly en Zuma selfs in die openbaar as leiersfiguur met respek behandel en geraadpleeg. Ramaphosa se boodskap na buite was nog altyd “eenheid” – nie ʼn ek en jy nie. Volgens Henwood is Ramaphosa nou in ʼn sterker posisie as twee jaar gelede.

Hy meen ook Ramaphosa is nou in ʼn veiliger posisie om sy kabinet te skommel. “Hy sal egter steeds die verskillende bene van die ANC in ag moet neem en versigtig moet wees.”

Kotzé meen Ramaphosa het opsigtelik nie by die hele Zuma-debakel betrokke geraak nie. “Dit tel in sy guns want hy distansieer homself van die politieke dialoog.”

Oor die protes by Nkandla sê Kotzé politieke demonstrasie het nie meer die impak wat dit voorheen gehad het nie. “Besluite word elders geneem en dis waarom die howe nou die enigste forum is.”

Volgens Kotzé is die ANC se ontbinding van die ANC Militêre Veteranevereniging (MKMVA) daarop gemik om die spiespunt van Zuma se mobiliseringsproses te verwyder. “Hulle word hul politieke suurstof ontneem,” sê Kotzé.

Hy noem dit Ramaphosa se “luislang-strategie”, wat daarop gemik is om die prooi stadig dood te druk deur sy suurstof weg te vat. Dis in teenstelling met die “leeu-strategie” wat met drama, die jag van die prooi, bloed en fanfare gepaardgaan.

Kotzé sê mense raak ongeduldig en gefrustreerd met Ramaphosa se proses want vordering is stadig. “Dis moeilik om die sukses daarvan te beoordeel want jy sien nie die proses nie. Hy stel homself nie bloot nie, maar daar is ook nie ʼn plan op die tafel wat almal kan sien nie.”

Volgens Kotzé is Ramaphosa se strategie om risiko’s te minimaliseer. Hy stel homself nooit op as teiken vir sy teenstanders nie. Daarom gebruik hy kommissies van ondersoek, die spesiale ondersoekeenheid en ander instellings om ondersoeke te doen en bevindings te maak. Hy is dan nooit die een wat lyk asof hy die proses teen sy teenstanders dryf nie.

Steun vir die ANC

Kotzé reken nie die Zuma-gebeure gaan ʼn dramatiese invloed op die ANC se steun hê nie. “Kleiner partye maak hier en daar wins, maar dis nie grensverskuiwend nie.”

Henwood voorspel ook nie enige skeuring in die ANC nie, want die geskiedenis het bewys daar is nie juis vir wegbrekers ʼn politieke lewe buite die party nie. Hy verwag wel ʼn moontlike afsplintering soos Julius Malema se EFF, Mosiuoa Lekota se Cope en Bantu Holomisa se UDM. “Die eerste keuse van die ander faksie is egter om binne die ANC te bly.”

Wat die impak van die Zuma-gebeure op die ANC by die stembus kan wees, meen Henwood die geskiedenis wys dat ontevrede groepe in die ANC nie gaan stem nie. Hulle trek terug. Wat wel kan gebeur op die platteland van KwaZulu-Natal is dat die IVP weer sterk na vore kan tree. Hy reken die EFF kan ook in stedelike gebiede wins slaan uit die ANC se binnegevegte.

Henwood meen Ramaphosa se beeld na buite is dat hy die leier is wat “slegte goed” aanvat. Hy posisioneer hom duidelik vir sy tweede termyn. “Sy skuiwe in die volgende 12 maande gaan baie belangrik wees.”

“Die ANC is verswak deur interne gevegte, maar in die oë van die kiesers is die ANC onder Ramaphosa sterker as wat hy 12 jaar gelede was,” sê Henwood.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

marius ·

En hy het nog nie ‘n woord gerep nie. Smoke and mirrors soos die engelse se.

Cherokee ·

Sò, Wat daarvan? Die Andries Cornelissens doen dit vir hom. Húlle is ‘n ondersteuningsbasis, selfs uit die Afrikaanse geledere.

Elise Georgina Irene ·

Hoera, hoera, hoera Ramaphosa! Doe so voort’
Maar maak ons beperkte dop kry en restaurante tog oorlewe as jy vir jou burgers bietjie omgee…

Cherokee ·

‘n Goeie Begrip het ‘n Halwe Woord nodig. Miskien Werner, is jý by die verkeerde berig.

Willem ·

Die toesluit van Zuma ten spyt – Ramaphosa is nie te vertrou nie. Hy is ‘n produk van die ANC en by hulle kom die party eerste.

Werner ·

Lyk my eerder of Zuma se oorlog strategie op die stadium n groter effek het.Lyk my hulle het nou nie veel van ou Cyril se lesse geleer nie.Al les hier te leer is is dat ons in die begin staan van n burgeroorlog.Hierdie regering het nie die vermoe om dit te keer nie.Die media probeer so hard om alles nog in te kleur dat alles normaal voorkom en ou Cyril nog in beheer is.Slegte nuus hulle is besig om beheer te verloor.

Thom ·

Hy is absoluut in beheer ___ presies dieslfde gedoen met Roelf Meyer en trawante .

Kokerboom ·

Maak nie saak watter strategieë hy gebruik, sy land brand en stort oor afgrond en hy en sy party besef dit nie!!!Of hul gee nie ‘n duit om!!Ek het regtig gedink die man sal uit die boks kan dink en hom bo sy verrotte partypolitiek sal vehef en die land eerste stel!! Maar nee , het my lelik vergis!!Hy leef in die vette van kapitalisme en dwing siek sosialistiese beleide op ondergeskiktes af!!

Maggies ·

Indien die president sterker staan as tevore waarom laat hy toe wat huidiglik gebeur.
KZN brand en daar word dieselfde gedreig in ander provinsies, soos Gauteng.
Nou is die tyd dat onse President wys waar hy staan.
Vir die land of vir ANC?

TO ·

Hoop die res van die ANC clan word dieselfde hanteer, ook die Zuma opstokers. Waar is covid protokol nou! Sies mnr president, waaroor is daar 2, Stelle reëls in SA. ‘n man wat gaan melk koop vir sy baba word gearresteer, ‘n surfer word gearresteer, maar die Zuma cronies loop vry rond, om te brand, plunder en op te stook. Zuma se dogtertjie hoort ook agter tralies met haar opstokery. Wys ons jyt ‘n ruggraat mnr president

Oom Hennie Pennie ·

Goeie Nuus, GEBED is besig om te werk! Bly BID vir die regering en die land en hou op kritiseer en jy SAL verandering sien.

Werner ·

Dit help nie jy bid vir die verkeerde goed nie dan sal niks regkom nie.Ons volk moet hom verootmoediging nie die reenboog bog nie.

Piet parys ·

Wonder kan n jakkals bloos. ? As n jakkals kon bloos sou Zuma dit reg kry met al sy jakkals draaie wat hy gooi.

Samuel ·

In die politiek kan jy niemand vertrou nie, selfs nie jou broer nie. En ja, Ramaphosa is en bly ‘n ANC kader, ‘n sosialis.

annie ·

En CR ween saam met diegene wat diepe pyn ervaar oor die pyn van die smartvolle Zuma… Snik. En hoe voel Cyril oor die verlies en pyn van besighede; die 25 trokke wat opgedons is deur diegene wat soveel pyn beleef. Is dit nou diegene wat die ex ryk gemaak het of diegene wat hartseer is dat ‘n leier sweet blow all noemenswaardig vir SA gedoen het en ons goeie naam tot badprop laat zink het… laat daal het tot by rommelhoopstatus.

Naomi ·

So, die padda en warm water-taktiek het nou na die luislang-taktiek verander.

Alleen Wolf ·

Jy moet uiters naief wees om te glo CR het ‘n strategie om sy makkers vas te vat, hy is ruggraatloos en net ‘n pion.

annie ·

Ramazuma is ‘n tandlose ou slang wat verblyk in die staatsmerc se agterruit pryk. Niemand skrik dit nie. Boeties in die Tanzania-dae toe pap en vleis met skinkborde aangedra is na die groot leiers/lyers van/vir Afrika. Wat het Zuma destyds gedoen om so vereer te word as hoof van MK? En om later vir sowat twee termyne sy amp as prez te verdien? Wat is die geheime sesamè waarmee hy sy onderane bekoor?

Jannie van Niekerk ·

Alles net vertoon om mense soos sekere Wynlandgoedeienaars aan die neus rond te lei om hulle stemme te kry. Agter die skerms word daar lekker gelag vir die opposissie wat vir hierdie storie val. Ek waarborg jou Zoempies een Kareltjie Krompraat kry tienster behandling agter die skerms. En die kastige betogers se bankrekeninge is skielik vol geld.

Jack ·

Ek hoop dat die luislang cele op gereedheid het vir die anargie wat kan volg sodra die zumas agterkom wat die slang beplan. Op die oomblik doen hulle net wat hulle wil in kzn. Wonder of die rooi pette iewers betrokke is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.