Ramaphosa se ‘onteiende’ iPad nie ewe snaaks vir almal

‘n Video van die president se vermiste iPad is reeds duisende kere gekyk. (Skermgreep: eNCA)

Suid-Afrikaners is gewoonlik nie bang om die spot te dryf met ernstige situasies nie en daar kan oor haas enigiets ʼn grappie vertel word – maar pres. Cyril Ramaphosa se oënskynlike grappie oor sy “onteiende” iPad het nie almal vandeesweek ewe dik van die lag gehad nie.

Ramaphosa, wat Dinsdag ʼn regstreekse aankondiging oor die verbetering aan Suid-Afrika se hawens moes doen, het nie dadelik met sy toespraak begin nie omdat sy iPad tydelik soek was.

“Iemand het besluit om my van my iPad te onteien. Ek soek my iPad. Hulle het dit gesteel.

“Ek het my iPad gehad. Weet julle waarheen hulle my iPad gevat het? Dis die probleem as jy altyd jou goed aan ander mense uitdeel,” het Ramaphosa praatjies gemaak.

“Dit is beter dat ek die goed altyd by my het, die heeltyd. Ek het my iPad gehad; ek het dit in my hand gehad. Nou is dit weg. Dit lyk of ek dit verloor het.”

Suid-Afrikaners was nie links nie en het sommer kort na dié ongemaklike spulletjie op die podium met die situasie begin spot. ʼn Video van die president wat rondpeuter terwyl almal wag vir die toespraak om te begin, het ook soos ʼn veldbrand versprei.

Dit het darem ook gewys dat die meeste mense – en selfs die president van ʼn land, al sy helpers ten spyt – soms ook effe verlore sonder hulle staatmakertoestelle is.

David Scott van The Kiffness het sommer vinnig ʼn aansteeklike deuntjie oor die president se vermiste iPad gedeel. The Kiffness het al soortgelyke video’s oor onder andere die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, ook gedeel.

Op sosialemediaplatforms het gebruikers ook met die een na die ander kwinkslag vorendag gekom.

Sommige mense het gespot dat die land oënskynlik summier tot stilstand knars wanneer die president sy katottertjie verloor.

Die situasie was egter nie vir almal ewe snaaks nie. Veral nie vir Suid-Afrikaners wat dikwels voel dat hulle ook – en dikwels heeltemal onskuldig – van dinge wat vir hulle belangrik is, ontneem word nie.

Die drukgroep Action Society het in ʼn brief aan Ramaphosa daarop gewys dat Suid-Afrikaners daagliks veel erger situasies as ʼn vermiste toestel moet trotseer.

“Iemand het my kinderjare gesteel. Iemand het my maagdelikheid gesteel. Iemand het my vertroue in mans gesteel. Iemand het my onskuld gesteel. Iemand het my waardigheid gesteel. Iemand het my veiligheid gesteel. Iemand het my lewe gesteel,” lui die brief aan Ramaphosa.

Action Society skryf in die brief hulle hoop die iPad-dief is aangekeer omdat dit sleg is wanneer dinge by mense gesteel word en dit hulle hulpeloos en kwaad laat. Die organisasie sê dit is ʼn gevoel wat slagoffers van geslagsgeweld, vrouemoord en seksuele misbruik maar al te goed ken.

“Jy het dalk jou ‘gesteelde’ iPad teruggekry, of jy het dit reeds vervang, maar elke dag in Suid-Afrika word honderde kwesbare mense beroof van veel meer as ʼn iPad; hulle word beroof van dinge wat geen versekeringsmaatskappy kan vervang nie.”

Action SA sê terwyl daar na Ramaphosa se iPad gesoek word, word daar ook gesoek na die uitslae van DNS-toetse wat reeds jare lank agterstallig is, daar word gesoek na aanspreeklikheid, geregtigheid en veiligheid.

Onteien van leierskap, onteien van beskerming, onteien van eerlikheid, onteien van regte, onteien van veiligheid. Waar is my president?

Die presidensie het na afloop van Dinsdag se petalje gesê die president se iPad was nie eintlik vermis of gesteel nie. “Die president het ʼn lighartige punt gemaak terwyl hy gewag het vir die iPad om na hom gebring te word – wat gebeur het voor hy sy opmerkings aan die media gemaak het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Misky ·

Dit was skreeusnaaks en wys net hy skryf nie sy eie toesprake nie. Seker hele span mense daar agter die gordyne wat op sy iPad skryf en hy lees mos net alles voor. En hulle lieg alweer….. was g’n grappie terwyl hy gewag het nie. Hy werklik gedink dis weg en kon aan sy lyftaal sien

Anton J ·

Gaan jy n beter toespraak kan lewer? Sy toespraak word geskryf deur profesionele kundiges wat geleerd is en universiteids grade daarvoor het. Maar hulle skyf slegs die toespraak profesioneel oor vanaf n raamwerk wat alreeds uitgeskryf is. m.a.w die navorsing van die toespraak rus op die een wat die toespraak gaan lewer (President) die toespraak word dan profesioneel verwoord deur kundiges. Ek vra weer, sou jy dit profesioneel beter kon doen?

Anoniem ·

o la la, dit is seker maar vir die …………………………………… Kinderfonds geskenk, is mos aan die orde van die dag

Anel ·

Nogal siek as hy ‘n grap kan maak oor diefstal. Mense verloor daagliks meer en as hy van ‘n klein dingetjie ‘n grap maak hoeveel te meer van die diefstal en alle ander verlies in die land…!

Petrus Klipkop ·

Absoluut. Hy is dan ‘n voorstander van onteiening sonder vergoeding, so waaroor kla hy? Bwhahaha.

Pampoen ·

Dis nou regtig ‘n storm in ‘n teekoppie wat deur elke Jan Rap en sy maat uitgebuit word. Kom ons kla eerder oor dinge wat die moeite werd is om oor te kla.

Piet parys ·

Snaaks nou lieg hulle oor die vermiste i pad maar hyt dan gesê sy eye pad is weg . Oog operasie kan dit wees een oog toe met die eye pad want hy hy sien net die helfte van wat gebeur in die land

Sandra ·

Nee man Action Society, julle maak nou ‘n grappige situasie in ‘n erger ding. Al doen julle goeie werk om GBV onder mense se aandag te bring, is daar ‘n tyd en ‘n plek vir alles.

Belinda ·

Wel as jy voorbereid is dan sal jy nie so stres nie. As ek na ons oud-presidente kyk, het hul toesprake gelewer om skaars op n skerm te lees want dis hoe ons geleer was, jy berei voor. Vandag se mense “”e”” mos voor elke 2de woordtjie, dis n indikasie van onvoorbereiding. Is seker maar bietjie moeilik ook as dit nie jou huis taal is nie en jy moet jou bewoording reg he. ..

Anton J ·

Gaan jy n beter toespraak kan lewer? Sy toespraak word geskryf deur profesionele kundiges wat geleerd is en universiteids grade daarvoor het. Maar hulle skyf slegs die toespraak profesioneel oor vanaf n raamwerk wat alreeds uitgeskryf is. m.a.w die navorsing van die toespraak rus op die een wat die toespraak gaan lewer (President) die toespraak word dan profesioneel verwoord deur kundiges. Ek vra weer, sou jy dit profesioneel beter kon doen?

Anton J ·

Kom ons sit jou daar in die toespraak, jy sal dalk nie “e” nie maar “am” ek het nie n clue nie!

Visentjips ·

Ek dink Mnr. P moet eerder die wapens en ammunisie soek wat ook nie eintlik “weggeraak” het nie…heel “onbeholpe” grapple.

Karina ·

Nee wat hy het nie ‘n grappie gemaak nie, sy gesig en lyftaal het boekdele gespreek, hy was ernstig gewees. Ai en toe kon hy nie praat nie want hy kon nie die toespraak aflees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.