Pres. Cyril Ramaphosa se wildplaas Phala Phala Wildlife in Bela-Bela ontken bewerings dat die president betrokke is by trofeejag.
Die bewaringsorganisasie People for the Ethical Treatment of Animals (Peta) het onlangs Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy nié net wilde diere by Phala Phala Wildlife vir die jagmark teel en verkoop nie, maar ook belange het in die jagmaatskappy Tsala Hunting Safaris wat glo jagtogte vanaf Ramaphosa se plaas Diepdrift reël.
Volgens Peta reël Tsala Hunting Safaris jagtogte op 42 spesies waaronder die “Groot Vyf”. Dit sluit in luiperds. Die organisasie beweer dat Ramaphosa in Tsala Hunting Safaris se winste deel en doelbewus probeer om sy jagbelange uit die openbare oog te hou.
“Die Suid-Afrikaanse omgewingsowerhede reik nie permitte uit vir die jag van luiperds nie. Tsala reël jagtogte in Namibië en Mosambiek om die Suid-Afrikaanse verbod te omseil en wins te maak.
“Suid-Afrikaners moet bewus gemaak word daarvan dat die president direk wins maak uit die jag van die land se mees ikoniese en geliefde spesies,” sê Jason Baker, Peta se senior visepresident vir internasionale operasies.
Tyrone Seale, woordvoerder van Ramaphosa, sê egter nóg die president nóg Phala Phala Wildlife het belange in die trofeejagbedryf of in Tsala Hunting Safaris.
“Phala Phala is sedert 2010 in bedryf en word bestuur volgens die strengste bewarings- en wildbestuursbeginsels. [Die plaas se aktiwiteite] voldoen aan die beste etiese en wettige praktyke in die sektor. Nóg Phala Phala nóg president Ramaphosa is op enige wyse besig met onwettige of onetiese aktiwiteite.”
Seale sê Phala Phala Wildlife dun jaarliks van sy wild uit soos rooibokke, buffels, koedoes en wildebeeste om sodoende nie oortollige getalle te dra nie – ’n wettige jagpraktyk. Phala Phala Wildlife het dus ’n ooreenkoms met Tsala Hunting Safaris aangegaan om bogenoemde wildsoorte te jag wat in elk geval van kant gemaak sou word.
Phala Phala het egter reeds aangedui dat hy die ooreenkoms gaan beëindig in die lig van die bewerings.
“Hierdie besluit strook met Phala Phala se verbintenis tot gesonde bewaringsbeginsels asook die voldoening aan etiese en wettige standaarde vir wildbestuur.”
Volgens Seale is dit nie die eerste keer dat Peta glo valse aantygings teenoor Ramaphosa maak nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
16 Kommentare
Jy ontken darem baie vinnig Cyril so daar trek ‘n rokie mmmmmmm sal my nie verbaas nie niks verbaas my meer nie!
Waar ‘n rokie trek is daar gewoonlik’ n vuurtjie. Niemand kan hom in elke meer glo nie. Maar net so skelm soos die res van sy gevolg.
En watse invloed het die stukkie nuus nou op sy presidentskap van SA? Was al ‘n paar keer op Phala Phala en die mense wat daar werk kyk mooi na die plaas en die wild.
‘ n Plaas wat kan praat is beter as ‘n stommerik wat net sit en mompel . Heeldag .
Ons benodig meer swart wildsboere wat van jag hou.