Ramaphosa sê plaaslike regerings moet sokkies optrek

(Argieffoto: GroundUp)

Pres. Cyril Ramaphosa het die swak vertoning van tientalle plaaslike munisipale owerhede gekap en gesê Suid-Afrika kan nie bekostig dat plaaslike regerings misluk nie.

Ramaphosa het Donderdag die Suid-Afrikaanse plaaslike regeringsvereniging (Salga) toegespreek.

“Ons kan nie munisipaliteite hê wat so wanfunksioneel is dat mense voel hulle moet geweld gebruik net om gehoor te word nie,” het hy gesê.

Die jongste verslag van die ouditeur-generaal (OG) dui op ʼn ernstige gebrek aan behoorlike regering en finansiële bestuur by munisipaliteite. Net 20 van die land se 257 munisipaliteite – oftewel 8% – het skoon oudits gekry. En dit blyk dat die situasie jaarliks versleg.

Ramaphosa sê daar is enorme agterstande in die lewering van basiese dienste, groot ongelykheid, ʼn swak inkomstebasis en ʼn stygende vraag na dienste.

“Ons het boonop ʼn situasie waar baie munisipaliteite swak toegerus is om die verantwoordelikhede wat van hulle verwag word, na te kom.”

Die president sê sommige munisipaliteite vaar betreklik goed, terwyl ander nie eens die basiese goed kan regkry nie, om nie eens te praat van die ontwikkelingsrol wat hulle veronderstel is om te speel nie.

“Saam met institusionele swak plekke soos korrupsie en nepotisme, is ʼn geloofwaardigheidskrisis besig om talle van ons munisipaliteite in die gesig te staar.”

Hy sê plaaslike ekonomieë moet groei as die land probleme soos armoede en werkloosheid wil oorkom.

Ramaphosa sê hoewel daar nou skole, biblioteke en klinieke staan waar daar vantevore niks was nie, moet dringend aandag gegee word aan die instandhouding van munisipale infrastruktuur. Skoon drinkwater is meer mense beskore, huise het krag en strate is geteer, maar op talle plekke is die gaping tussen mense en hulle regering steeds te groot.

Die president sê die distriksontwikkelingsmodel wat die kabinet in Augustus verlede jaar goedgekeur het om swak plekke in dienslewering, beplanning, begroting en inwerkingstelling te pak, moet dié gaping help vul.

Die model is veronderstel om te help om die staat se kapasiteit te bou en plaaslike regeringstelsels te versterk. Ramaphosa sê ten spyte van die Covid-19-pandemie was daar reeds vordering en drie loodsprojekte is van stapel gestuur.

“Die sukses van die distriksontwikkelingsmodel berus op groter samewerking en koördinasie tussen alle vlakke van regering. Die Covid-19-pandemie het ons vermoë in hierdie verband reeds bewys. Ons kon nasionale, provinsiale en distrikkoronavirusrade en -sentrums op die been bring en het die vlakke van regerings suksesvol laat saamwerk.

“Terwyl ons nou ons ekonomie herbou, moet dié benadering tot samewerking op ʼn plaaslike vlak gebruik word om groei te bevorder en werk te skep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Persheks Adri ·

Bedank die lieflike ANC cartel pffft alles waaraan julle vat is ‘n gemors tsek

Rentia ·

Kom ons sien…. swak bestuur: gaan al so sedert 1994. Korrupsie: ons is amper gewoond daaraan, glad nie iets nuuts nie. Kan nie bekostig dat munisipaliteite misluk, hmmm…. het een in ANCa beheer ooit regtig goed gewerk?? Paaie geteer: is jy seker daarvan CR? Dis in so chaotiese toestand omdat als gebrand kan word, en niks word gedoen om dit te stop nie. Meer gate as pad. Moet sokkies optrek: jy vry na stemme vir volgende jaar CR…

Phillip ·

Wel eersdaag gaan Brits die eerste dorp wees wat grond paie in die dorp gaan he. Paie onherstel beskaadig gaan meer kos vir reg maak as om dit grond pad temaak wel kom by ANC

Jacobus ·

Ou Siril wat vertel jy ons nou. Jou ANC beheerde rade het byna eiehandig julle beleid van totale verwoesting deurgevoer. Die ergste dit is “our people” wat ly.

Boerkind ·

Stel nog kaders (of is dit kadawers?) aan… SKANDE ANC!!!

Jaco ·

Die meerderheid munisipaliteite kry swak oudits en lewer swak dienste. Die meerderheid munisipaliteite is ook onder ANC beheer. Vreemd. Swak dienslewering en verryking van raadslede sal tog sekerlik net voorkom by “die rassistiese DA” wat nog vol “wit monopolie kapitaal” is. Iets maak dus nie sin nie.

Kanjynoumeer ·

Potholes of feitlik geen pad…oplossing maklik…
daar word net n bord opgesit “Potholes” probleem opgelos.
Na Bloemfontein via Christiana na Hertzogville ry jy op die kant van die teerpad, want die teerpad is onbegaanbaar.
Word wakker plaaslike regerings en publieke werke. Magtag julle diens stink! Die ergste is ons as belasting betalers betaal daarvoor, maar moet tevrede wees!?
Dit is om van naar te raak!!

PH ·

Hou op praat praat praat en DOEN IETS daaraan. Of is dit te veel werk en te ingewikkeld?

groenboer ·

Daar is eenvoudige maniere om plaaslike bestuur te verbeter. Eerstens, verban partypolitiek uit plaaslike regering – mense stem nie meer vir ‘n party nie, maar vir spesifieke kandidate, wat nie met enige party geaffilieer is nie. Tweedens, alle verkose munisipale personeel MOET woon in die dorp waar hulle verkies is, en mag slegs van plaaslike dienste gebruik maak – hul mag nie kragopwekkers of boorgate besit nie, en hul kinders moet ‘n plaaslike staatskool bywoon.

In geval van arm dorpe kan die regering geld voorskiet vir dienste en infrastruktuur, maar die aanwending daarvan word plaaslik bestuur deur dorpsrade wat aan die plaaslike kiesers, nie enige party nie, verantwoordbaar is.

Op hierdie manier los die probleem homself op binne ‘n verkiesingsiklus of twee. Dit is die regering se obsessie met sentrale beheer wat die probleem veroorsaak het, en nou is hul “oplossing” om selfs meer sentrale beheer te probeer uitoefen.

henndrik ·

“Talk is cheap” Dit is jou mense mnr Ramaphosa en die ANC keur dit goed

Jakes ·

Dat slegs 20 skoon oudits gekry het is n groot skande en moet CR en sy comrades pa staan daarvoor.
Die groot probleem begin by obevoegdheid en luiheid. Beruurders word aangestel na willekeur en voeg darby korrupsie en nepotisme dan is dit n resep vir chaos.

Sarel ·

Van waar Gehasi….
Munisipaliteite is bankrot bestuuren dsn kry skuldiges bevordering

Casper ·

Ag ou Rampie,jy raak nou vervelig.Onbevoegde mense met helse salarisse.Solank regstellende aksie bevorder word en bekwame mense nie aangestel word nie sal dit nooit weer goed gaan in hierdie land nie.

ES ·

Kyk maar na Metsimaholo in die Vaaldriehoek, sowel as die plaaslike munisipaliteit in Harrismith… dis skokkend om die vlak van korrupsie te sien.

Chris ·

Hy is in geheel uit gevoel met “our people” , dra nie sokkies nie

Nie Verbaas ·

Woorde help niks Ramaphosa. ANC se BEE beleid en gevolglik aanstellings van onbekwame personeel die rede. Kry vir julle ANC, dis julle skuld.

Yvonne ·

Hulle moet hulle sokkies optrek…of wat………lee woorde geen aanspreeklikheid nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.