Ramaphosa se plettervat op ‘muilbandwet’

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Nege jaar nadat die omstrede muilbandwet deur die parlement aanvaar is, het pres. Cyril Ramaphosa dit terugverwys na die parlement vir heroorweging. Dit is omdat verskeie klousules volgens Ramaphosa teenstrydig is met die Grondwet.

Die “muilbandwet” is hoe die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting in die volksmond bekend geraak het weens die drakoniese wyse waarop dit vryheid van spraak, mediavryheid, toegang tot inligting en ander vryhede wou inperk.

Die parlement het dit in 2011 reeds aanvaar, maar nooit van krag gemaak nie. Dit lê die afgelope nege jaar op die president se tafel om onderteken te word. Die wet is destyds wyd veroordeel deur kerke, vakbonde, media-organisasies, universiteite, balies, prokureursordes en buitelandse ambassades.

Nou het Ramaphosa in sy brief van 18 bladsye elke klousule van die muilbandwet wat hy meen ongrondwetlik is, ontleed aan die hand van die Grondwet en bestaande regspraak, en dit na die parlement terugverwys vir heroorweging.

Ramaphosa voer eerstens aan dat vryheid van spraak en mediavryheid aan die hart van die grondwetlike demokrasie lê, en dat dit in onaanvaarbare mate ondermyn word. Net soos daardie regte nie absoluut is nie, kan die inperking daarvan ook nie absoluut wees nie; die hof moet die jurisdiksie en die mandaat hê om elke geval op eie meriete te oorweeg en te hanteer.

Dan beweeg sy argument na die grondwetlike reg op vryheid van toegang tot inligting as ʼn kernwaarde van die Suid-Afrikaanse demokrasie.

Die president gee vervolgens een van die belangrikste besware teen die wetgewing toe, naamlik dat die definisie van “nasionale veiligheid” te wydlopend is. Dieselfde geld vir die definisie van “staatsekerheidskwessie”, veral omdat dit nie duidelik is oor wat alles by die term ingesluit en uitgesluit word nie.

Komende by die kern van die openbare besware wat met die aanvaarding van die wetsontwerp vanaf die publiek ingestroom het, verklaar Ramaphosa dat staatsamptenare daarvolgens te veel diskresionêre magte geniet, en dat die reg op appèl te veel berus by die mense wat die inligting aanvanklik as geheim geklassifiseer het.

Die openbarebelang-verweer moet volgens Ramaphosa uitgebrei word, en hy maak twee punte oor “geheime” inligting in die openbare domein. Tans bly inligting “geheim” selfs nadat dit as potensieel korrup aangemeld is en mense kan steeds vervolg word vir die publikasie van voorheen “geheime” inligting wat nog nie gedeklassifiseer is nie, selfs al is dit reeds gepubliseer, en dus in die openbare domein sodat dit glad nie meer geheim is nie.

Ramaphosa meen albei bogenoemde bepalings is in stryd met grondbeginsels van die gemenereg.

Ramaphosa onderskryf in sy brief die beswaar dat enige hoof van ʼn staatsinstelling inligting geheim kan verklaar. Daar is voorheen in beswaarskrifte uit die burgerlike samelewing uitgewys dat daar ʼn magdom staatsinstellings is – byvoorbeeld meer as ʼn duisend net in die departement van kuns en kultuur. Volgens die president skep dit die gevaar van oormatige klassifikasie.

Laastens lys Ramaphosa redes waarom hy dink die parlementêre proses waarvolgens die wetsontwerp in 2011 aanvaar is, was gebrekkig.

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thandi Modise, het die wetsontwerp, tesame met Ramaphosa se besware, na die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie verwys. Die komitee sal slegs die klousules in die wetsontwerp kan wysig waarteen die president beswaar het – hulle kan nie die hele wet lukraak oorskryf nie.

Dit is tot vandag toe die enigste wetsontwerp waarvoor elke opposisieparty ʼn teenstem uitgebring het. Die ANC het alleen gestaan in die aanvaarding daarvan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Porseleintjie

Is dit nou ‘n silwer sterretjie werd?