Ramaphosa se repliek op die staatsrede

Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2018 (AP Photo/Ruvan Boshoff, AP via ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa het vanmiddag met ʼn vaardige en uitgeslape repliek op die staatsrede verwarring gesaai onder ʼn opposisie wat stoei met die veranderings sedert sy bewindsaanvaarding vyf gebeurtenisvolle dae gelede.

Ramaphosa is weer met sy aankoms staande toegejuig deur LP’s van sowel die ANC as die opposisie, en het ʼn sterk aanduiding gegee van die bestuurstyl wat die land in die toekoms van hom kan verwag.

Daardie styl kan dalk ten beste in sy eie woorde opgesom word – dat jy altyd moet en kan onderhandel, mits jy presies weet wat jy uit die onderhandelinge wil hê. Daardie versigtig geformuleerde klaarblyklike pragmatiese teenstrydigheid behoort goed bestudeer te word deur enigeen wat belangstel in hoe sy presidentskap gaan ontvou, want dit kan rigtinggewend wees vir die toekoms.

Dit was bepaald vanmiddag ter sake in sy repliek op die debat oor sy eerste staatsrede. In heldere en welkome kontras met oudpresidente Mbeki en Zuma het hy gewys dat hy die kern van debattering verstaan – luister goed wat jou opponent sê, en wys hom of haar dan vriendelik en vernietigend tereg op grond van feite of beter logika eerder as verdraaiing of belediging.

In die proses blyk Ramaphosa se tegniek jeens opponente te wees om hulle met vriendelikheid oor te wen en dan die lus styf te trek sodat hulle sit soos ‘n insek in die web van ‘n spinnekop, te vas om te beweeg.

Hy is ook ‘n baie slimmer en sterker opponent as waaraan spesifiek die DA en die EFF die afgelope jare gewoond was. Dat die denkende kern van die EFF begin vermoed dat ‘n luislang dalk besig is om hulle in ‘n aanvanklik gemoedelike maar onheilspellende greep beet te kry, het gister en vandag baie duidelik geword uit wat mens van die parlementêre persgalery af kon sien. Leidende EFF-LP’s soos Julius Malema, Floyd Shivambu, Hlengiwe Mkhalipi, Godrich Gardee en dr. Mbuyiseni Ndlozi luister baie aandagtig, opwegend en op die oog af bekommerd na hul nuwe opponent. Weg is die malse uitbundigheid van Vrydagaand se EFF-reaksie op die staatsrede. Dit lyk nie asof die manne en vroue in rooi oorpakke sy “my liewe kameraad Julius Sello Malema”-uitsprake voortaan so heeltemal op sigwaarde gaan aanvaar nie.

By tye was Malema en Shivambu in diep gesprek, soms met groot handgebare.

Aan die kant van die DA is drie reaksies tans waarneembaar. Daar is ‘n klomp van die LP’s wat Ramaphosa gereeld toejuig. Daar is ‘n tweede groep wat meen die huidige wittebrood sal van korte duur wees met môre se taai begroting of die grondkwessie wat die Ramaphosa-trein sal laat ontspoor. En daar is ‘n derde groep wat, soos die EFF, ‘n luislanggreep begin vermoed.

Hoe het Ramaphosa vanmiddag daardie rol vertolk? Hy het vernuftig gereageer op opposisieleiers se stellings, en klaarblyklik die aanvoorwerk vir sy eerste groot belofteverbreking gedoen.

Daardie potensiële verbreking of versagting het gehandel oor die verkleining van die kabinet – altyd ‘n riskante handeling binne ‘n regerende party waarin ‘n leier so ‘n klein meerderheid soos Ramaphosa geniet. Sy stelling vanmiddag was dat hy wel die kabinet sal verklein, maar eers oor ‘n paar maande.

Oor die voorste kwessie van ons tyd – grond – het hy eweneens ‘n klaarblyklik teenstrydige standpunt gehuldig. Aan die een kant het hy die Grondwet gehuldig en opgeëis, en ‘n “Madiba-tipe oplossing” voorgestaan, wat bietjie na ‘n opeising van die Madiba-opvolgmantel wou klink. Aan die ander kant het hy weer onteiening sonder vergoeding beloof. Is die twee oplossings versoenbaar? Was die Madiba-oplossing dan nie hoeka die Grondwet nie?

Ook op dr. Pieter Groenewald van die VF Plus se oproep om ‘n spertyd vir regstellende aksie omdat dit teen jong wit mense diskrimineer, het Ramaphosa ‘n tweeslagtige antwoord gebied. Aan die een kant het hy gesê enigiets wat jong wit mense soos tweederangse burgers laat voel, moet ondersoek word. Aan die ander kant het hy statistiek aangehaak dat die werkloosheidskoers onder swart Suid-Afrikaners 30% is, en onder wit Suid-Afrikaners minder as 7%.

Sussende woorde dus, en geen beleidsverandering nie.

Hoewel Ramaphosa hom verbind het tot leefstyloudits vir kabinetslede (met geen tydskaal nie), het hy kabinetslede wie se bande met die Gupta-familie gemene saak is (soos Malusi Gigaba van finansies en Mosebenzi Zwane van minerale hulpbronne) verdedig teen wat hy as gemene persoonlik aanvalle deur die opposisie bestempel het.

Ramaphosa put kennelik baie nut uit sy huidige stap- en draftogte deur die diverse samelewings van die Kaapse Skiereiland. Vanoggend s’n was deur Gugulethu en Athlone. Dit verskaf aan sy toesprake ‘n aardse “ek en die volk”-grein wat hoë eise aan sy opponente stel. Nie almal stap so baie nie.

Daar is duidelik ‘n nuwe vertoning in die dorp. Dit het ‘n nuwe arenameester met ‘n nuwe aanslag, inslag en kwinkslag. Wees bedag as jy nie wil agterbly nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Annalien ·

Uitstekende artikel. Baie goed geskryf. Net tyd sal leer. Ten minste is daar hoop onder gewone burgers.

Ella ·

Met verwysing na die werkloosheidsyfer: van watter werkloosheidsyfer praat ons hier? Statistiek SA se metode wat slegs mense meet wat aktief werk soek en nie kry nie? Noodwendig ‘n verwronge beeld in ‘n gemeenskap waar baie nie aktief werk soek nie omdat hulle weet dat hulle geen kans het om te kry nie. Want daar is geen manier wat die werkloosheidsyfer onder die blanke mense wat ek ken net 7% is nie…en ek leef nie eens in die mees teruggehoue gemeenskap nie.

Gerhard ·

Meeste mense verstaan nie hoe word werkloosheid gemeet nie. Hulle dink dit sluit almal in wat nie werk nie en verstaan nie dit sluit sleg mense in wat aktief werk soek nie.

Heleen ·

Slim soos die houdjie vd galg…smeer almal heuning om die mond..ek vertrou hom nie..

Callie ·

Jan Jan ly aan n heldeverering sindroom of iets. Daar is duidelik laat verstaan parlement bly so, wit jeug het geen toekoms, grond gaan gevat word, hy verdedig van die Gupta konneksies ens. SO, wat verander. Net grondonteiening kom by. Steeds niks van plaasmoorde. En almal wil sy lof besing

Jerry ·

Jan, die voorste kwessie is versoening. Versoenende optrede gaan van alle partye verwag word in, gee en neem onderhandelinge mbt grond, topposte, onderwys, gesondheid, vervolging ens. Die Afrikaner onder Solidariteit en Afri-Forum sal die ergste geraak word mbt versoening, want versoenende optrede gaan vereis dat grond terug gegee word aan die regmatige eienaars, op welke manier ookal. Akademia en Sonop ens gaan hulle deure moet oopstel vir alle Suid Afrikaners. Topposte by Universiteite, kolleges en maatskappye wat wit is moet versoen tot transformasie. Gerrie Nel mag nie vir Grace en Zuma vervolg nie ens. Maak vas die gordels, hier kom n komiese gespartel.

Hanna ·

In my derdejaar in Ondernemingbestuur aan die Universiteit van Pretoria, lank gelede in 1999 toe ons lesings nog in Afrikaans was, was een van ons onderwerpe dié van “onderhandeling”. Dit het my altyd bygebly dat ons Prof vir Cyril Ramaphosa toe al uitgesonder het as ‘n voorbeeld van iemand met uitstekende onderhandelsvaardighede. Ek is seker ons, en die opposisie, sal nou kan sien hoekom my Prof so gesê het! Ek skat die intelligensievlakke van ons LP’s gaan op ‘n nuwe vlak getoets word.

Gerhard ·

Die meeste Afrikaners besef dit nie maar hulle was gelukkig om Zuma te he so sleg soos wat hy was.

Sarel swartbrand ·

Miskien net miskien is hy die de la Rey wat ons moet kom lei maar net tyd sal leer of hy n ware leier is of n BEE opertunis soos hy bekend staan in die sake wereld.

Luislang se wurg greep ·

Wél; sy toespraak het my 2x gegradueerde kinders (22 & 25 jaar oud) finaal laat besef dat hulle ALTYD in dié land, aan die kortste ent gaan trek.
Hulle is nou besig om aktief, permanente werk, oorsee te soek

Kieser ·

Mnr Lekota moet dalk begin om stemme te werf.Hy is die enigste een met rugraat en wat sterk genoeg is vir Ramaposa.Hy benodig egter duisendes wat agter hom moet staan en ek is een van hulle.

Beste Ding ·

My twee studente kinders gaan ook die pad vat wanneer hulle klaar is met studies.Ek weet ook van baie ander.
Sodra SA dalk weer eendag leefbaar en sonder moorde op die blankes is sal hulle terugkeer.

snoefie ·

jou twee studente kinders en die baie ander se grade gaan egter niks bereken oorsee nie. maar daar is daeem nog au pair.

thinus erasmus ·

Ja die nuwe president is slim. Maar as hy ‘n Christen is, waarom is sy beleid van wegneem sonder vergoeding en nie self skenk nie? Hy self het seker heelwat plase en taamlike sakewelvaart. Waarom is dit nie tyd vir vergewe en vergeet nie?
Hy wil die onreg van apartheid regstel – wat van die Afrika gewelds onreg teenoor die Europese pioniers en ontwikkelaars. Wat van die grond en infrastruktuur wat tydens apartheid gratis aan tuislande gegee is, wat van die grond wat Piet Retief gekoop het – met geld en lewens. Ek vra jou mnr. President as jy die score wil settle, dink mooi die saak het twee kante!
en o ja, wat het hy nou weer gese oor misdaad in SA?

Eish ·

Puik artikels uit die skrywer se pen. Logies beredeneerd en n goeie verdiskontering van die werklikheid.

John Scott ·

Ofskoon die blankes se werkloosheidskoers volgens statistiek dan 7% beloop, neem dit nie daardie persentasie in ag wat reeds juis agv werkloosheid hul heil elders oorsee moes gaan soek nie.

Vir die jeug van die wit gemeenskap van die Suid Afrikaanse bevolking is daar dus een van twee opsies vir oorweging beskikbaar: (a) sprei jou vlerke na oorsese lande vir `n werksgeleentheid (b) skep vir jouself `n werksgeleentheid plaaslik dmv `n ambag te volg.

Na my mening is dit die opsies wat daar vir die wit jeug beskikbaar is eerder as om op die regering of korperatiewe instellings aangewese te wees vir enige sodanige werksgeleentheid.

DIE SKRIF IS HEEL DUIDELIK AAN DIE MUUR!

Akademi Buktu ·

Wat ‘n mens ookal in sy beleidsantwoorde wil sien of nie sien nie, die feit bly dat hy die kinderagtige leierskappe van die DA en EFF groot ore aangesit het. In die proses moet dit duidelik wees dat die DA met hul huidige leierskap geen hoop vir die toekoms bied nie.

m.d.r ·

Thabo Mbeki het in absolute ontkenning geleef oor VIGS.
Dit lyk of Ramaphosa in ontkenning leef oor Wit minderheids
onderdrukking.
Hy moet een ding deeglik besef–hy is nou in ‘n demokratiese
politieke wereld—die parlement is nie ‘n maatskappy raadsvergadering
waar hy die uitvoerende voorsitter is nie–as hy statistieke gaan uithaal,
gaan ander partye dit ook doen….
Ek hoop nie Ramaphosa gaan ‘n groot fout wees nie….!

Alida ·

Ek dink ons almal span die wa voor die perde. Gee hom ‘n kans om te wys wat hy beplan. Enigiemand verdien ‘n regverdige kans.

Willem ·

“Tweeslagtige” antwoord?! Tja, Afrikaans verval nou so vinnig lat hy wragtig maar liewers moet doodloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.