Ramaphosa se repliek op die staatsrede

Cyril Ramaphosa tydens die staatsrede 2018 (AP Photo/Ruvan Boshoff, AP via ANA)

Pres. Cyril Ramaphosa het vanmiddag met ʼn vaardige en uitgeslape repliek op die staatsrede verwarring gesaai onder ʼn opposisie wat stoei met die veranderings sedert sy bewindsaanvaarding vyf gebeurtenisvolle dae gelede.

Ramaphosa is weer met sy aankoms staande toegejuig deur LP’s van sowel die ANC as die opposisie, en het ʼn sterk aanduiding gegee van die bestuurstyl wat die land in die toekoms van hom kan verwag.

Daardie styl kan dalk ten beste in sy eie woorde opgesom word – dat jy altyd moet en kan onderhandel, mits jy presies weet wat jy uit die onderhandelinge wil hê. Daardie versigtig geformuleerde klaarblyklike pragmatiese teenstrydigheid behoort goed bestudeer te word deur enigeen wat belangstel in hoe sy presidentskap gaan ontvou, want dit kan rigtinggewend wees vir die toekoms.

Dit was bepaald vanmiddag ter sake in sy repliek op die debat oor sy eerste staatsrede. In heldere en welkome kontras met oudpresidente Mbeki en Zuma het hy gewys dat hy die kern van debattering verstaan – luister goed wat jou opponent sê, en wys hom of haar dan vriendelik en vernietigend tereg op grond van feite of beter logika eerder as verdraaiing of belediging.

In die proses blyk Ramaphosa se tegniek jeens opponente te wees om hulle met vriendelikheid oor te wen en dan die lus styf te trek sodat hulle sit soos ‘n insek in die web van ‘n spinnekop, te vas om te beweeg.

Hy is ook ‘n baie slimmer en sterker opponent as waaraan spesifiek die DA en die EFF die afgelope jare gewoond was. Dat die denkende kern van die EFF begin vermoed dat ‘n luislang dalk besig is om hulle in ‘n aanvanklik gemoedelike maar onheilspellende greep beet te kry, het gister en vandag baie duidelik geword uit wat mens van die parlementêre persgalery af kon sien. Leidende EFF-LP’s soos Julius Malema, Floyd Shivambu, Hlengiwe Mkhalipi, Godrich Gardee en dr. Mbuyiseni Ndlozi luister baie aandagtig, opwegend en op die oog af bekommerd na hul nuwe opponent. Weg is die malse uitbundigheid van Vrydagaand se EFF-reaksie op die staatsrede. Dit lyk nie asof die manne en vroue in rooi oorpakke sy “my liewe kameraad Julius Sello Malema”-uitsprake voortaan so heeltemal op sigwaarde gaan aanvaar nie.

By tye was Malema en Shivambu in diep gesprek, soms met groot handgebare.

Aan die kant van die DA is drie reaksies tans waarneembaar. Daar is ‘n klomp van die LP’s wat Ramaphosa gereeld toejuig. Daar is ‘n tweede groep wat meen die huidige wittebrood sal van korte duur wees met môre se taai begroting of die grondkwessie wat die Ramaphosa-trein sal laat ontspoor. En daar is ‘n derde groep wat, soos die EFF, ‘n luislanggreep begin vermoed.

Hoe het Ramaphosa vanmiddag daardie rol vertolk? Hy het vernuftig gereageer op opposisieleiers se stellings, en klaarblyklik die aanvoorwerk vir sy eerste groot belofteverbreking gedoen.

Daardie potensiële verbreking of versagting het gehandel oor die verkleining van die kabinet – altyd ‘n riskante handeling binne ‘n regerende party waarin ‘n leier so ‘n klein meerderheid soos Ramaphosa geniet. Sy stelling vanmiddag was dat hy wel die kabinet sal verklein, maar eers oor ‘n paar maande.

Oor die voorste kwessie van ons tyd – grond – het hy eweneens ‘n klaarblyklik teenstrydige standpunt gehuldig. Aan die een kant het hy die Grondwet gehuldig en opgeëis, en ‘n “Madiba-tipe oplossing” voorgestaan, wat bietjie na ‘n opeising van die Madiba-opvolgmantel wou klink. Aan die ander kant het hy weer onteiening sonder vergoeding beloof. Is die twee oplossings versoenbaar? Was die Madiba-oplossing dan nie hoeka die Grondwet nie?

Ook op dr. Pieter Groenewald van die VF Plus se oproep om ‘n spertyd vir regstellende aksie omdat dit teen jong wit mense diskrimineer, het Ramaphosa ‘n tweeslagtige antwoord gebied. Aan die een kant het hy gesê enigiets wat jong wit mense soos tweederangse burgers laat voel, moet ondersoek word. Aan die ander kant het hy statistiek aangehaak dat die werkloosheidskoers onder swart Suid-Afrikaners 30% is, en onder wit Suid-Afrikaners minder as 7%.

Sussende woorde dus, en geen beleidsverandering nie.

Hoewel Ramaphosa hom verbind het tot leefstyloudits vir kabinetslede (met geen tydskaal nie), het hy kabinetslede wie se bande met die Gupta-familie gemene saak is (soos Malusi Gigaba van finansies en Mosebenzi Zwane van minerale hulpbronne) verdedig teen wat hy as gemene persoonlik aanvalle deur die opposisie bestempel het.

Ramaphosa put kennelik baie nut uit sy huidige stap- en draftogte deur die diverse samelewings van die Kaapse Skiereiland. Vanoggend s’n was deur Gugulethu en Athlone. Dit verskaf aan sy toesprake ‘n aardse “ek en die volk”-grein wat hoë eise aan sy opponente stel. Nie almal stap so baie nie.

Daar is duidelik ‘n nuwe vertoning in die dorp. Dit het ‘n nuwe arenameester met ‘n nuwe aanslag, inslag en kwinkslag. Wees bedag as jy nie wil agterbly nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Annalien

Uitstekende artikel. Baie goed geskryf. Net tyd sal leer. Ten minste is daar hoop onder gewone burgers.

Ella

Met verwysing na die werkloosheidsyfer: van watter werkloosheidsyfer praat ons hier? Statistiek SA se metode wat slegs mense meet wat aktief werk soek en nie kry nie? Noodwendig ‘n verwronge beeld in ‘n gemeenskap waar baie nie aktief werk soek nie omdat hulle weet dat hulle geen kans het om te kry nie. Want daar is geen manier wat die werkloosheidsyfer onder die blanke mense wat ek ken net 7% is nie…en ek leef nie eens in die mees teruggehoue gemeenskap nie.

Heleen

Slim soos die houdjie vd galg…smeer almal heuning om die mond..ek vertrou hom nie..

Callie

Jan Jan ly aan n heldeverering sindroom of iets. Daar is duidelik laat verstaan parlement bly so, wit jeug het geen toekoms, grond gaan gevat word, hy verdedig van die Gupta konneksies ens. SO, wat verander. Net grondonteiening kom by. Steeds niks van plaasmoorde. En almal wil sy lof besing

Jerry

Jan, die voorste kwessie is versoening. Versoenende optrede gaan van alle partye verwag word in, gee en neem onderhandelinge mbt grond, topposte, onderwys, gesondheid, vervolging ens. Die Afrikaner onder Solidariteit en Afri-Forum sal die ergste geraak word mbt versoening, want versoenende optrede gaan vereis dat grond terug gegee word aan die regmatige eienaars, op welke manier ookal. Akademia en Sonop ens gaan hulle deure moet oopstel vir alle Suid Afrikaners. Topposte by Universiteite, kolleges en maatskappye wat wit is moet versoen tot transformasie. Gerrie Nel mag nie vir Grace en Zuma vervolg nie ens. Maak vas die gordels, hier kom… Lees meer »