Ramaphosa se riskante meestersklas

Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa se eerste staatsrede was ʼn meestersklas in politieke belofte en hoop, en het daarmee ʼn bykans onmoontlik hoë suksesvereiste aan homself gestel.

Ramaphosa het die nuwe era van optimisme in die land sedert die bedanking van oudpres. Jacob Zuma perfek saamgevat om ʼn positiewe en inklusiewe toekomsbeeld te skep, en om opposisieleiers te laat met min om te kritiseer.

Selfs die EFF-leier, Julius Malema, het hande geklap eerder as om die parlement te ontwrig, en DA-LP’s se applous was by tye harder as die applous vanuit die ANC-banke.

Maar soveel beloftes beteken die potensiaal om op baie vlakke te misluk, en met die min geld in die staatskatkis en die min beweegruimte wat die land se begrotingstekorte hom toelaat, is dit moeilik om te dink hoe hy alles gaan bekostig wat hy onderneem het om te doen.

Dit was byna roekeloos ryk aan belofte.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het gesê dit is onmoontlik om die onteiening van grond sonder vergoeding in te stel sonder om die ekonomie te benadeel en daar is in elk geval nie genoeg geld om al die beloftes na te kom nie.

Malema het gesê hoewel die EFF bereid is om Ramaphosa ʼn kans te gee, sal hulle hom streng dophou en verantwoordbaar hou want sy beloftes is nie onderworpe aan ʼn behoorlike begroting nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê ná so ʼn lae eb as wat Suid-Afrika onder Zuma ervaar het, is dit maklik om hoop te skep, maar dat die VF Plus alles moontlik sal doen om onteiening sonder vergoeding te beveg.

Ramaphosa se styl was in uiterse kontras met die stamelende, onbegrypende pogings van sy voorganger, Zuma. Hy was in beheer van die inhoud en het vele van die ampstale gebruik, insluitend ʼn stuk vlot Afrikaans om hom teen diskriminasie uit te spreek.

Ramaphosa se skerp uitsprake teen korrupsie het nie altyd dieselfde ywerige applous uit die ministersbanke as elders ontlok nie. Sy stellings oor die herstrukturering van staatsbeheerde openbare ondernemings is met ʼn kille stilte begroet deur die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown.

Toe hy streng optrede teen korrupsie aankondig, het die EFF begin dreunsing: “Aaaaace, Aaaaaace”, ʼn verwysing na die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, wie se Vrystaatse administrasie diep geïmpliseer word in Gupta-geassosieerde korrupsie.

DA-lede het met gewrigte oorkruis gevou aan ANC-lede gewys hoeveel van hulle tronk toe sal gaan as sulke stappe teen korrupsie sou volg, en Faith Muthambi, minister van staatsdiens en administrasie, het baie ongemaklik rondgeskuif toe Ramaphosa aandui hy gaan die kabinet verklein en sorg dat direksies van staatsinstellings op nuwe maniere aangestel word sodat ervaring en kundigheid ʼn rol speel.

Onder al die vermaaklikheidswaarde en oratoriese vernuf het ʼn paar skerp inhoudelike punte en tasbare voornemens geskuil:

* Die land se fiskale posisie is benard;

* ʼn Werkskeppingsberaad gaan binne die volgende paar maande plaasvind;

* Mynboubedrywighede gaan uitgebou word (maar daar was geen aanduiding van hoe dit gaan gebeur nie);

* Omstrede minerale- en petroleumwetgewing gaan weer in die parlement ter tafel gelê word;

* Werkgeleenthede in die landbou gaan uitgebrei word;

* Terselfdertyd gaan grondonteiening sonder vergoeding begin;

* ʼn Nasionale minimumloon gaan op 1 Mei aangekondig word;

* Gratis hoër onderwys vir eerstejaarstudente uit huishoudings met ʼn gesamentlike huishoudelike inkomste van minder as R350 000 per jaar sal vanjaar ingestel word;

* Die konstitusionele hof se bevindings oor welsynsuitbetalings sal volledig en onverwyld geïmplementeer word;

* Die eerste programme van die nasionale gesondheidsversekeringsplan sal vanjaar al ingestel word;

* Die kabinet sal verklein en hersaamgestel word;

* Die probleme by die nasionale vervolgingsgesag en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sal opgelos word;

* Streng stappe sal teen korrupsie gedoen word.

ʼn Nuwe era het potensieel met hierdie staatsrede aangebreek, en Suid-Afrikaners sal moet dophou met hoeveel vrug dit gaan ontvou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Carolina

Die klimaat in die land is beslis meer positief maar daar is steeds baie wat my bekommer. Nr 1 is korrupsie so “entrenched” dat baie mense nie eers weet hulle optrede is korrup nie. Nr 2 is net so problematies: die hoë vlakke van geweld en misdaad. Nr 3 die rampspoed in die onderwys. Nr 4 die bedreiging van regte van minderheidsgroepe. Nr 5 Grondonteiening sonder vergoeding – dalk verstaan ek te min hiervan maar dit maak my bang. Nr 6 die Nasionale gesondheidsplanne. Nr 7 die handjievol belastingbetalers wat die res moet dra en al hoe swaarder kry. Ek… Lees meer »

Bossie

Plaasmoorde? Geen woord daaroor sê ALLES!

Anton Valks

Ramaphosa het hom baie streng uitgespreek teen diskriminasie van enige aard maar kort daarna belowe dat verskeie regstellende aksies asngepak gaan word. Wat is regstellende aksie anders as diskriminasie. Dit tesame met grond onteiening sonder vergoeding beteken maar net een ding: die radikale stert in die ANC gaan die hond swaai.

Sarie

Die staatsrede was baie goed aangebied, uitstekend voorgedra maar daar is net te veel van die ou belofts wat jaar na jaar die afgelope nege jaar deur Zuma gemaak is maar nooit uitgevoer is nie. Ek hoop Ramaphosa gaan al sy beloftes tot uitvoer bring. Dink ook ‘n slag aan die pensioenarisse. Wat kan ‘n mens met R1500 per maand doen? Hoe oorleef hulle op die bedrag met alles wat so ongelooflik duur is. Gee tog vir die pensioenarisse n ordentlike verhoging hierdie jaar!

My eiendom los

Ek wil dit baie duidelik stel dat my eindom nie beskikbaar is nie en ek sal nie dit afgee aan diewe nie, klaargepraat. Die staat het klaar so baie grond, gebruik dit produktief.