Pres. Cyril Ramaphosa se mondelinge vraesessie in die parlement wat vanmiddag sou plaasvind, is op kort kennisgewing uitgestel.
Na wat verstaan word, maar nie amptelik bevestig kon word nie, is die president ongesteld. Dit kom nadat die presidensie Dinsdag laat weet het dat Ramaphosa ʼn reis na die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) uitgestel het nadat hy met boonstelugweg-infeksie gediagnoseer is.
“Die president sou Maandag 15 Oktober na Kinshasa gereis het, maar is deur dokters aangeraai om eers van ʼn boonstelugweg-infeksie te herstel voordat hy so ver reis. Die president ontvang mediese behandeling en herstel goed,” het Khusela Diko, die president se woordvoerder, gesê.
Die vraesessie sal nou op Dinsdag 6 November plaasvind.
Die eerste van die ses vrae wat op daardie dag aan die president gestel sal word, handel oor nuwe regulasies vir die petroleum- en gasbedryf, en sal gestel word deur die ANC-LP Bheki Radebe.
Die tweede vraag, deur Xolani Ngwezi, IVP-LP, fokus op die regering se planne om geweldsmisdaad uit te roei.
Derdens sal ʼn vraag van genl. Bantu Holomisa, UDM-leier, oor die hantering van gewelddadige protesoptrede deur ontevrede gemeenskappe dien.
Die vierde vraag behoort aan die ANC-LP Francois Beukman en handel oor hoe Suid-Afrika sy rol in die Verenigde Nasies sien.
Dan volg ʼn vraag deur die ACDP-leier, eerw. Kenneth Meshoe, oor die aard van die lening wat China aan Suid-Afrika toegestaan het.
Die laaste vraag behoort aan die ANC-LP Shelley Makhubela-Mashele en handel oor die uitbou van vroueregte.
Die DA probeer tans nog ʼn vraag inglip oor die ineenstorting van die VBS Bank, maar tot dusver het die speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, nog nie daartoe ingestem nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
7 Kommentare
Nou waar is die vraag oor die plaasmoordontkenning?
“stir-all” soek tyd om sy volgende liegstories uit te werk, skaamteloos, swak, teleurstellend
Vra hom of hy kan klassifiseer wat ‘our people’ beteken.
Wie dit is en wie dit nie is nie.
O Ja en vra ook waarom hy so prontuit gelieg het oor die plaasmoorde?
Sonder om te blik of te bloos. Dit is ‘n duidelike teken dat hy dit gereeld doen – lieg.
Vra ook waarom hy so blatant gelieg het oor die plaasmoorde in S A.
Wat het hom besiel?
Sou baie graag daardie antwoord wou hoor.