Ramaphosa se Zondo-verklaring bekendgemaak

Pres. Cyril Ramaphosa tydens ‘n mediakonferensie. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie van ondersoek na staatskaping, het Vrydag pres. Cyril Ramaphosa se beëdigde verklaring bekendgemaak waarin hy sy kant van die saak stel oor staatskaping en ongebreidelde korrupsie in Suid-Afrika.

Zondo het gesê hy het Ramaphosa gevra om die eerste leier te wees om ʼn beëdigde verklaring in te dien oor moontlikheid dat hy ʼn verhouding met die voortvlugtende Gupta-familie, hul maatskappye en die eertydse Bosasa (nou African Global Operations) kon gehad het.

“Die president het aanvaar dat dit nodig was en het aangedui dat hy ʼn verklaring by die kommissie sou indien waarin hy erkennings maak. Hy het ook onderneem om ministers en adjunkministers, voormalige sowel as huidige ministers en adjunkministers, aan te moedig om hul samewerking te gee indien hulle deur die kommissie genader word. Ek het die president se verklaring vroeg in Julie ontvang,” het Zondo gesê.

“Hy het versoek dat die verklaring aan die publiek beskikbaar gemaak word sodat daar geen bespiegeling oor die inhoud daarvan sal wees nie. Ek het besluit om sy versoek toe te staan en dit aan die media beskikbaar te stel. Ek beklemtoon dat hy spesifiek versoek het dat die verklaring beskikbaar gestel word, want ek wil nie die indruk skep dat elke keer wanneer ons ʼn verklaring ontvang ons dit sal bekendmaak voordat die betrokke persoon voor die kommissie getuig het nie.”

Ramaphosa erken in sy verklaring dat hy twee van die Gupta-broers “by drie of vier geleenthede” ontmoet het. Een hiervan was in 2012 tydens ʼn mediakonferensie in Bloemfontein en ʼn ander ontmoeting was in 2014 in soortgelyke omstandighede ná die verkiesing. Die president sê in sy verklaring hy het nooit enige gesprekke van belang met die Gupta-broers gehad nie en sy gesprekke met hulle was bloot om te groet en beleefde geselsies te maak.

Volgens Ramaphosa was die enigste gesprek waarvan hy deel was toe daar iets substantiefs bespreek is, toe die Gupta-broers versoek het om met ANC-beamptes te vergader rakende die sluiting van hul bankrekeninge. Die president sê hy het tydens dié vergadering die kwessie rakende die Guptas se vliegtuig wat by die Waterkloof-lugmagbasis geland het geopper.

Zondo het bygevoeg dat Jacob Zuma, die voormalige president, wat verlede week voor die kommissie verskyn het, nie die enigste leier is wat gevra is om sy kant van die saak te stel nie. Zuma het gekla dat die kommissie op die been gebring is om hom persoonlik te teiken.

Zondo het gesê hy het aan Ramaphosa gesê dat die werk van die kommissie nie ten volle afgehandel kan word sonder getuienis en verklarings van regeringsleiers en persone in die ANC nie.

“Dit is belangrik dat persone in die leierskap kom en getuig oor wanneer hulle dalk besef het daar is staatskaping aan die gang en wat hulle daaromtrent gedoen het … en deur die kommissie dit aan die volk te verduidelik. Ek het daarom vir oudpres. Zuma ingelig dat hy adjunkpresident was vir ʼn paar jaar wat genoem word in die bewerings voor die kommissie, en dat dit daarom nodig is dat hy verskyn en getuienis lewer oor sommige van hierdie kwessies.”

Zondo het gesê dieselfde geld die ANC aangesien dié party die mandaat gegee is om die land te regeer en daarom het die mense van Suid-Afrika die reg om vrae te vra oor wanneer die ANC besef het daar was staatskaping aan die gang en wat die party gedoen het om dit te beëindig.

[pdf-embedder url=”https://s3-eu-west-1.amazonaws.com/rak2.spens.co.za/maroelamedia/affidavit-president-ramaphosa.pdf”]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann cb ·

Byna almal stel hulle kant van die saak, maar het Regter Zondo iemand vervolg/laat vervolg en veroordeel? Suid-Afrika wil hoor en sien dat skukdiges aan die pen ry! Dit is waarvoor die Regter en sy span dáár is!!!

Santie ·

Een van die dae is ons regering loos. Dit klink dan vur my of almal in die prentjie is.

Dorie ·

Ek glo nie dis in Zondo se beste om te vervolg nie, as ek dit nou reg verstaan, na afloop vandi kommissie se ondersoek, kan hy slegs n verslag opstel , en aanvevelings maak. Ek glo ons almal wil sien dat reg en geregtigheid sal geskied, maar dit gaan nie oornag gebeur nie.

James ·

Jip en so het die ‘helde’ geval.
Reg deur die bank korrup.
Dalk is Zondo deel van die ‘clan’ en daarom geen vervolging nie.

Swanna ·

Hierdie is net weer ‘n sirkus toneel wat afspeel in die NUWE!!!!!!! SUID AFRIKA en al die fat cats (ANC clowns) lag lekker vir die hele land en AL sy mense. Regter ZONDO is die “RING MASTER”.

LHS ·

Nee Cyril, niemand stel belang oor hoeveel keer of wanneer jy die Guppies gesien of wat gepraat is nie, die feit is ,wat het buitelanders elke keer daar gemaak of was Zumpie so gaaf om alle buitelanders in SA so te trakteer. Wat almal eintlik graag wil weet is, wie almal van hoogverraad aangekla behoort te word en tweedens waarom het die sogenaamde onskuldigdes niks gedoen om dit stop nie, die is almal dan net so skuldig.

Jerry ·

Ek het so n spesmaas dat die kommissies dien as waarheid en versoeningskommissies. Almal gaan versoen met die sogenaamde waarheid en mekaar vergewe en dan gaan die nasie gevra word om ook te vergewe, te genees en aan te beweeg! Bitter min kaders gaan vervolg word en diegene wat wel vervolg word, gaan nie noodwendig agter tralies beland nie. Die arme gangsters is van A-Zuma, slagoffers van apartheid en kwytskelding sal help om hulle pyn wat deur jaloesie en haat veroorsaak is, sodanig (kamtig) te genees. Die kombinasie van gewetenlose wraaksug en geldgierigheid kan egter slegs genees word deur langtermyn straf anders sal dit vererger en alles rondom dit saam met dit verswelg en vernietig en die kanse dat dit gaan gebeur, gegewe hoe diepliggend die wortel van die kwaad strek, is uitstekend!

Strandloper ·

Hy lieg soos n tande trekker! Dink seker ons is stupid(sic). Waar kom sy miljoene vandaan?

Bach ·

Die Guptas se landing op Waterkloof is geopper. Wanneer gaan ons hoor wat bespreek is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.