Ramaphosa sing ander deuntjie oor Reserwebank

Die Reserwebank. Foto: ANA

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, weerspreek oor die regering se voorneme om die Suid-Afrikaanse Reserwebank te nasionaliseer.

Ramaphosa het by ʼn sakeontbyt in Johannesburg gesê die regering is geensins van voorneme om met die bank se onafhanklikheid in te meng nie.

Dit kom nadat Magashule Sondag in ʼn onderhoud met eNCA na afloop van die ANC se verkiesingsmanifes-bekendstelling gesê het die besluite wat in Desember 2017 by die party se nasionale konferensie geneem is, sal oor die volgende vyf jaar geïmplementeer word, insluitend die omstrede besluit om die Reserwebank te nasionaliseer.

Ramaphosa het egter vanoggend gesê die regerende party se siening oor die saak is dat die Reserwebank bloot in staat moet wees om ʼn ogie oor indiensneming te hou. “Niemand hoef bekommerd te wees oor ANC-uitsprake oor die Reserwebank nie, die mandaat word nie verander nie. Die onafhanklikheid van die Reserwebank is heilig,” het hy gesê.

“Wat die regerende party in effek sê, is dat ons ʼn brandende kwessie het rakende indiensneming en ons wil hê almal moet op werkskepping fokus. Duidelik is niks daarmee verkeerd nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa by ‘n sakeontbyt in aanloop tot die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF)-kongres volgende week (16 Januarie 2019). Foto: Verskaf/ANA

Die ANC het oor die naweek ʼn beroep op die Reserwebank gedoen om ʼn buigsame monetêre beleid saam te stel met ʼn oog op werkskepping en die staat se tweede fase van transformasie. Volgens Ramaphosa is dit presies wat die Reserwebank besig is om te doen, maar is daar geen voorneme dat die bank se mandaat verander moet word nie.

Die Reserwebank is tans gedeeltelik onder beheer van private aandeelhouers wat na verneem word geen direkte invloed oor monetêre beleidsbesluite het nie – ʼn reëling wat ten doel het om konflik van belange te verminder en deursigtigheid verseker. Om die bank te nasionaliseer sal beteken dat die beheer van afhanklike aandeelhouers na die minister van finansies skuif.

Tito Mboweni, minister van finansies, het ook Ramaphosa se boodskap herhaal deur te sê dat politieke partye geregtig is om kwessies te opper waaroor hul lede wonder. “Daar is egter geen rede om paniekerig te raak oor uitsprake deur politieke partye oor die Reserwebank nie. Daar is niks om te vrees rakende die Reserwebank nie,” het Mboweni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Krummel ·

Mens kan nie ‘n woord glo wat hy se nie, het ons nou al geleer uit ondervinding. Onbetroubaar met geen integriteit.

Sarel ·

Hoekom laat die ANC toe dat lede sulke uitsprake maak as dit nie uiteindelik gaan gebeur nie? Oor drie maande van nou af is nasionalisasie weer hoog op die lus, of hoe? Dit veroorsaak maar steeds onstabiele markte en tendense. Ai!

Anoniem ·

Nee wat ‘n mens kanie vir Hom stem nie (Oggend en Aandpraatjies ?????????????)

Paul ·

Dit lyk my elkeen in die ANC het sy eie siening oor wat ANC beleid is en hoe die manifes toegepas moet word. Klap die skoot hier, spring en daar, klap die skoot daar, spring ek nog entjie verder.

Thinus Erasmus ·

Ja Paul wees verseker, onder die ANC sal die reserwe bank oorgeneem word (onteiening sonder vergoeding) en elke rand in die Staatpensioen fonds sal aan die staat geleen word – en dan is alles klaar.

Se maar net ·

Dit is noual duidelik dat hy slegs daar is om die “good cop” se rol te speel. Asb moet nie glo wat hy se nie. Die anc se besluite is gegiet in klip en hulle sal nooit daarvan afwyk nie.

ne ·

CR se oggend en aand praatjies kom nie ooreen nie. Wat vir hom heilig is en vir my verskil hemelsbreed.

Henk ·

My Oupa het altyd gese n jakkals verhaar maar verloor nooit sy streke nie. Die anc is nie n politieke party nie maar n struggle organisation soos hulle hulself noem. Daarom sal hulle vir ewig struggle. Ramaphosa het ook nou ongelukkig reeds telkemale gewys dat sy oggend praatjies en sy aand praatjies nie ooreenstem nie. Sy geloofwaardigheid is onder verdenking

De Villiers ·

Net soos CR laas jaar aanvanklik ontken het dat die Bosasa oorbetaling eintlik vir sy seun, Andile, bedoel was. En dat hy genoem het dat grondonteiening sonder vergoeding so sal plaasvind dat dit glad nie die ekonomie sal skade aandoen nie. Wel, net die uitsprake daaroor het die Rand/Dollar wisselkoers laat verswak.
CR is onbetroubaar en kan nie geglo word nie.

Verder is dit nie die Reserwebank se plig om na indiensneming te kyk nie. Die Reserwebank doen oudits op die banke en sorg dat hulle binne die reëls werk, en hulle bestuur o.a. die lenings na en terugbetalings vanaf die banke en sorg dat die banksektor gesond bly.

CR het ‘n wanpersepsie oor die werksaamhede van die Reserwebank.

Grassie ·

Hier is nou twee “leiers”. no 1 en no 3, wat teenstrydige verklarings maak. Wat erg is, is dat albei beweer hul verklarings is ANC beleid. Een van die twee lieg en tyd sal leer watter een. Ons moet in gedagte hou watter een die afgelope tyd die meeste gelieg het. Dit dui ook op tweespalt binne die party wat vorentoe nog gaan oorkook.

Dirk Breytenbach ·

Ruggraatloos! Moet niks glo wat hy en die ANC kwytraak nie.

Ja Nee ·

Eers wanneer als ten gronde is en die Rand 10000000 tot een is en die massas honger ly dan sal die anc besef (of miskien nie) dat hulle slim planne misluk het. Dan kan die anc onvoorwaarlik die struggle party genoem word.

Johannes ·

Benoude spronge van ‘n benoude kat op ‘n sinkende skip!

Francois ·

Alles val nou in plek.
Dit is vervolmaak.
Die finale plan om die land totaal te vernietig.
Perfek

Pieter ·

Is Cyril nog nuuswaardig? Glo niks van hom nie. Herman Toerien vertel die verhaal van die stamkaptein wat by elke huishouding se vuur vertel wat die huishouding graag wil hoor. Sulke huigelery is nie deel van my kultuur en geloof nie. Sal waardeer indien slegs na sy kernboodskap verwys word in die vervolg, slegs om ‘n idee te kry van hul diskoers. Cyril moet besef sy woorde dra nie gewig nie.

Kerneels ·

Uit wie se hand ek eet uit wie se mond ek spreek…. alllles mooi broodtjies om stemme te werf….GEEN INTEGRITEIT…..as hy sy mond oopmaak is dit net “tiny bubbles”

Amanda ·

Hier sit ons langs Zim wat deur presies dieselle manier in die grond in gedryf is deur die regerende party…en steeds hou hulle aan met dit waarmee hul besig is…?

Hendrik ·

Die kop is nie bewus wat die hand doen nie, dis n algemene probleem van ANC

Nel ·

CR moet nou Magashule se vuur wat hy aangesteek het met paaiery oftewel liegery probeer blus, want die buiteland sal nie ‘n blou duit hier belê as die Reserwebank genasionaliseer word nie.

Jeremia ·

Sal met Reserwebank gaan soos met die onteiening van eiendom sonder vergoeding.
In laasgenoemde geval sal uitgangspunt glo “openbare belang” wees.
Breë rieme gaan uit, ons weet wie, se velle gesny word op grond van daardie vet Afrika-verskoning.
Die Reserwebank is soos die Staatdienspensioenfonds én pensioenfondse – ‘n yslike versoeking vir diegene wat maar net nie hulle hande uit die kasregister kan hou nie.
Eintlik lê die karkasse van al die gróót versoekings rond. Noem maar op: SABC, Eskom…… Kaalgepluk.
En die gans wat die goue eiers lê se kop is afgekap.

Staak saam ·

Ou Cyril is so ver verwyder van die werklikheid, dit laat mens wonder wie nou eintlik in beheer is, is dit Cyril, Ace, JuJu, die ministers of is daar bo in die wolke n vakuum??

Therese ·

Natuurlik moet Ramaphosa die deuntjie so effe verander voor Davos.
Ongemaklike vrae is tog so lastig.

JAN ·

Wie is in beheer / besit van ons goudreserwes?
Het ons nog goud reserwes? Is die Randwaarde aan goud gekoppel soos in die verlede?

Jakes ·

Net deur die mag te he oor wie in watse pos aangestel word is net n manier om beheer te kry (slinkse nasionalisering). Verder het hy 250 000 werksgeleenthede belowe, staat gaan net n swaarder las op die land raak

Stripes ·

Dis duidelik dat die normale bronne waar geld by die bakkie vragte gelaai was nou begin leeg raak. Nuwe faksie in beheer soek nuwe plekke waar die bakkies nou kan parkeer om geld te laai. Die land is reeds op die knieë en as die anc die reserwebank oorneem is daar binne weke niks oor van die land nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.