Ramaphosa skors Moyane met onmiddellike inwerkingtreding

Tom Moyane (Foto: ANA)

Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), is Maandag met onmiddellike inwerkingtreding geskors.

“Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag vir Moyane van sy skorsing hangend die instelling van dissiplinêre stappe ingelig. Volgens Ramaphosa is dit in openbare belang om die SAID se geloofwaardigheid onverwyld te herstel,” het die presidensie in ʼn verklaring gesê.

Ramaphosa het volgens die presidensie in ʼn brief aan Moyane gesê die verwikkelinge by die SAID onder sy leierskap het daartoe gelei dat die publiek se vertroue in die instelling gedaal het en openbare geld in gedrang gebring is. “Ter wille van die welstand van die land en die ekonomie mag die situasie nie voortgaan of vererger nie.”

Volgens die presidensie was ʼn groot kwelpunt die manier waarop Moyane die saak van Jonas Makwakwa, voormalige senior belastingbeampte, hanteer het, veral “sy hantering van die verslag wat hy ontvang het en sy versuim om dit onmiddellik by die minister van finansies aan te meld”.

ʼn Ander bekommernis was ook die bestuur van BTW-terugbetalings wat moontlik die integriteit van die SAID as invorderaar in gedrang gebring het.

Die skorsing volg ná ʼn vergadering tussen Ramaphosa en Moyane. Ramaphosa het glo vir Moyane die geleentheid gebied om met onmiddellike inwerkingtreding te bedank, maar hy het dit van die hand gewys.

Ramaphosa meen Moyane het ʼn hoë pos beklee wat vertroue in die bestuur van die land se openbare geldbronne betref. “Dit was daarom noodsaaklik om onmiddellik op te tree, die instelling te beskerm en dit op ʼn pad na herstel en stabiliteit te plaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Spark Plug ·

As my tax geld nou nie eers meer veilig is nie. Jaag hulle almal weg…krap die hele nes oop en sluit die lot van hulle toe. Moet net nie my tax geld gebruik vir hulle hof saak nie

Jerry ·

“Evil only truimphs, when good people do nothing”. CR maak die regte versoenende uitsprake en sy optredes teen die korruptes spreek boekdele van sy intensies om hulle staatskapingsgreep te breek ten einde n beter Suid Afrika tot stand te bring vir alle Suid Afrikaners.

Lerato ·

Stem saam Jerry. In ‘n kort tydjie het hy baie vermag. Dis n steil berg wat hy moet klim om van alle skelms ontslae te raak.

jean ·

“Geskors”…nie afgedank…met ander woorde die salaris word steeds uitbetaal. Wonder vir hoelank dit sal wees….

Absoluut ·

Absoluut, my kwelling ook, dan werk hy heel niks vir al daai geld en draai die ding vir jare uit. Hy moet sy eie regskoste dra, maar met die reuse groot paypakkie is dit nie onmoontlik.

Deloris ·

Bravo….President… maar wanneer gaan jy aandag gee aan die plaasmoorde?

Hannelie ·

En so rol die koppe. Ons moet maar net terugsit en kyk…….

marianna ·

die eerste goeie nuusbrokkie vir die dag maar wie kom in sy plek ?

Johann ·

Geskors? Maw hy word nog steeds betaal? Met AL sy voordele? Die wat deel is van sy absurde pakket PLUS wat hy homself toe eien! Sidder om te dink hoe die Zumaikie die kontantlaaie leeg geskraao het vir hom en sy pelle en bloot wegstap met dit. Onaantasbaar!

PJC ·

Dit lyk vir my CR werk met ń plan. Stadig maar seker raak hy van die vrot appels ontslae.

cor ·

So begin die staatskapers en korruptenare se wiele afkom een vir een. Daar moet net vinniger opgetree word met dissiplinere en regssake sodat hulle nie feitelik lewenslank nog salarisse ontvang nie want dan dien die skorsing geen doel nie.

SjN ·

Hoop hulle verhaal die salaris terug wat hy ontvang tydens sy skorsing by skuldig bevinding.

Jerry ·

Deloris die slegte nuus is dat die president nie aandag aan plaasmoorde sal gee solank as wat die forum en TLU in onversoenende en slegte buurmanskap teenoor die president staan. Die goeie nuus is dat die president aandag sal gee aan plaasmoorde wanneer die Forum en TLU hulle trots en agenda in hulle sak druk en in goeie buurmanskap n hand van vriendskap uitreik en CR vra om staatsvermoe in te span om boere te beveilig. Dit is hoe maklik dit kan wees en kan gebeur!

Casper Labuschagne ·

Iets wat nooit moes gebeur het nie is nou reggestel. Die vraag is hoeveel, en of al die badwater nie dalk al reeds uitgeloop het nie, voordat die prop nou weer ingedruk is.

Dit neem dekades om ‘n doeltreffende staatsinstelling op te rig en dit neem slegs ‘n kort tydjie om skade aan te rig wat nie gou reggestel sal word nie.

Skerp Spioen ·

Dankie Vader ons versugting is verhoor. Mag dit asb vinnig so wees dat onse Shaun se wolle geskeer word. Skielik raak dit makliker om asem te haal noudat ons nie meer die magtelose vernedering in die aangesig van die onwelvoeglike hoef te ervaar nie.

eddie ·

Geagte President , moenie skors nie , maar dank af! Hy kan sy saak na die Arbeidshof neem sou hy dink hy is onskuldig !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.