Pres. Cyril Ramaphosa sê hy wil óók hê dat die nasionale ramptoestand opgehef word, maar hy “gaan nié roekeloos wees nie”.
“Ek gaan ordelik wees. Ek gaan die land binne dae toespreek en verduidelik presies waarheen ons op pad is… Ons gaan die ramptoestand binnekort ophef en ons gaan regulasies instel wat almal in staat stel om veilig te voel.”
Só het Ramaphosa Donderdag in die Nasionale Vergadering gesê toe hy deur parlementslede tydens ’n vraag-en-antwoordsessie gepols is oor die regering se reaksie op die Covid-19-pandemie.
“Hoe regverdig jy dit om Suid-Afrika se ekonomie op sy knieë te hou deur die ramptoestand te verleng?” wou opposisieleier John Steenhuisen by die president weet.
Ramaphosa het in antwoord hierop gesê dat die Covid-19-pandemie nié verdwyn het nie. Suid-Afrika sal daarom nog geruime tyd op gesondheidsmaatreëls soos maskers moet steun, hoewel die strenger maatreëls mettertyd opgehef sal word.
“As jy ’n probleem daarmee het, is ek jammer. Ons is die regering. Ons moet regulasies in werking stel.”
Ramaphosa het Steenhuisen mooi laat verstaan dat hy nié aan bewind is nie. “Jy het nog altyd ’n probleem gehad. Van dag een af.”
Volgens Ramaphosa was die opposisieleier tot op hede nog net by een vergadering positief oor die regering se hantering van die Covid-19-pandemie.
“Jy het sedertdien aanhou sê dat jy nie die ramptoestand nodig het nie. En ons het aanhou sê dat ons deur die wetenskap gelei word en dat ons vooraanstaande wetenskaplikes het – waarmee jy verskil. Dit is jou reg. Jy is geregtig om van wetenskaplikes te verskil.
“Maar ons word deur hierdie wetenskaplikes gelei.
“Jy kan soveel skree soos wat jy wil. Maar ons tree as die regering in die belang van Suid-Afrikaners op en dís hoekom hulle ons verkies het.
“Ons het alles moontlik gedoen om hierdie pandemie te bestuur. Ons mense se belange wanneer dit by hul lewens en lewensbestaan kom, was vir die grootste deel van die laaste twee jaar my grootste bekommernis.”
Die regering is die afgelope week uit talle oorde – en nie net uit opposisiegeledere nie – gekap oor sy besluit om die nasionale ramptoestand opnuut tot 15 April te verleng.
Dit is nou twee jaar sedert die ramptoestand vir die eerste keer in Maart 2020 aangekondig is in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 in Suid-Afrika te beperk.
Ramaphosa het die land einde November laas toegespreek toe hy aangekondig het dat die land voorlopig op vlak 1 van die inperkingsmaatreëls sal bly.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
44 Kommentare
so sal julle maar moet luister as kopdoek gepraat het! Geen warm kos, sandale ens. ens….
Dit is so n show. Hierdie. Dis net hartseer. Mense word mislei en Lei letterlik dag tot dag. Ons Kan net bid,
as mense dit nog nie sien nie Sal hul nooit.
Die ANC bestuur die land in die afgrond in. Dis al waarvoor hulle goed is. Nog niks het positief uitgedraai wat die ANC bestuur het nie. Net mooi niks nie.
Wat ‘n patetiese reaksie van Ramaphosa. Ons sal graag die wetenskaplike bewyse van sy beplande regulasies wil sien – seker geborg deur die Bill Gates Stigting en Pfizer?
Is hy nog besig om te dink?