Ramaphosa spreek weer vanaand die land toe

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sal vanaand weer die land toespreek rakende die jongste verwikkelinge rakende die Covid-19-pandemie.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het dit aan verskeie media-instansies bevestig. Dit is net na 17:00 aangekondig dat Ramaphosa die land om 20:00 sal toespreek.

Volgens berigte het die nasionale Covid-19-bevelsraad en die kabinet die afgelope week weer vergader en sal Ramaphosa verdere aankondigings maak oor die land se risiko-aangepaste strategie om die verspreiding van Covid-19 te beheer.

Die Sunday Times berig dat die president moontlik weer ʼn aandklokreël, strenger maatreëls rakende die verkoop van alkohol en verdere beperkings op provinsiale reise kan instel.

Maroela Media het vroeër berig die nasionale Covid-19-bevelsraad is versoek om die uitwerking van alkoholverwante voorvalle op die gesondheidsorgstelsel te oorweeg.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag tydens ʼn besoek aan die Tshwane-distrikshospitaal gesê die kwessie is aan die bevelsraad voorgelê om te oorweeg nadat talle klagtes ontvang is oor alkoholverwante voorvalle en die druk wat dit op hospitale plaas.

Dr. Zweli Mkhize (Foto: Zweli Mkhize/Twitter)

Hy het gesê die gedeeltelike opheffing van die drankverbod ingevolge vlak 3-regulasies het ʼn 40%‑ tot 50%-styging in die getal traumagevalle gehad.

Die verbod op alkoholverkope is gelig met die inwerkingtreding van vlak 3 op 1 Junie. Drankverkope was aanvanklik verbode toe die staat van algehele afsondering einde Maart deur Ramaphosa aangekondig is.

Daar is ook ʼn verbod op die verkoop van tabakprodukte ingestel wat steeds geldig is. Die regering is al hof toe gesleep oor die kwessie en die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) se aansoek om verlof tot appèl word op 15 Julie in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Suid-Afrika het 264 184 bevestigde Covid-19-gevalle en die algehele sterftesyfer staan in hierdie stadium op 3 971.

Ramaphosa het die land op 17 Junie laas toegespreek. Hy het toe aangekondig dat nog bedrywe kan oopmaak nadat daar op 1 Junie na risikovlak 3 beweeg is. Daar is onder meer aangekondig dat restaurante weer kan oopmaak vir aansitetes en dat flieks, teaters en casino’s ook weer hul deure mag oopmaak.

Persoonlikesorgdienste soos haar- en skoonheidsalonne is hervat en niekontaksportsoorte soos gholf, tennis en krieket mag weer begin het.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer. -RED

Volg die toespraak regstreeks hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hydi

Blah-blah-blah…

Boortor

Ons was “reg” vir die virus maar…..blah blah blah. Terug vlak vyf toe julle stouter kabouters!

Oros Soros

‘n Taktiese skuif om die land se aandag weg te neem van die veldtog teen plaasaanvalle en dat die regering die kritiek begin aanvoel? Die ‘streng” maatreëls het nie in die begin gewerk nie en verskerping daarvan gaan nie tot iets positiefs lei nie. Die taxi’s sal hul weereens hierteen verset en dit nie nakom nie. Die gewone burger op die straat sal hom/haar nie veel hieraan steur nie en aangaan soos normaal. Al verskil sal wees dat diegene in die regering sal dink hulle (die “Command Council”) is in beheer.

Flip

Vat die mense wat die wet oortree behoorlik vas, insluitend julle maats wat vir die regering werk en als plunder! Dan sal selfs n dronkgat tweekeer dink voor hy aanjaag. Te veel regte vir kriminele…

Willem

Net om ons te vertel hulle beheer ons doen en late