Ramaphosa: Staak ‘stigmatisering’ van Covid-19-pasiënte

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Net soos Suid-Afrikaners saamgestaan het om die stigmatisering van MIV-positiewe mense te stuit, moet dit ook nou gedoen word met diegene wat positief vir Covid-19 toets. Pres. Cyril Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief Suid-Afrikaners moet hulle ook nie deur gerugte nie, maar deur feite oor die siekte, laat lei.

“Daar was die afgelope ruk onrusbarende berigte van mense wat deur hul gemeenskappe verwerp word en van gemeenskappe wat betoog teen die opneem van koronavirus-pasiënte in plaaslike hospitale en klinieke. Dit moet einde kry,” sê Ramaphosa.

Ramaphosa sê die stigmatisering word veroorsaak deur onkunde en vrees om self die siekte op te doen, maar die beste manier om oordrag te voorkom is om gehoor te gee aan higiëneprotokolle. “Die vrees vir infeksie is gegrond en werklik. Terselfdertyd weet ons wat ons moet doen om onsself en ander te beskerm.”

Daar was die afgelope ruk verskeie berigte van gesondheidsorgwerkers wat oorweldig word deur die toename in pasiënte. News24 het onder meer berig verpleegpersoneel by die Dora Ngiza-hospitaal werk nou stadig weens klagtes dat daar te min personeel beskikbaar is. By sommige ander hospitale staak werkers weens ʼn gebrek aan oortydbetaling.

Ramaphosa sê talle gesondheidsorgwerkers was onder diegene wat reeds weens Covid-19 gesterf het, en dat gesondheidsorgwerkers voortreflike beroepslui is wat die siekes versorg en steun en vertroosting in hospitale bied aan diegene wat in afsondering van hul geliefdes gehou word.

“Dat die mans en vroue wat dié eerbare en edele werk doen self siek word en sterf is ʼn verwoestende slag. Hulle is in die voorste linies besig om die virus te beveg. Hulle werk onder groot druk en moet die sielkundige las van die wete dat hulle die virus kan opdoen dra. Hulle is die ware helde in die stryd teen die koronavirus.”

Ramaphosa sê die dapper Suid-Afrikaners wat sonder versuim aanmeld by die land se gesondheidsorgsentrums moet geëer word. “Nes hulle hul plig doen, het ons ook ʼn plig om hulle en hul gesinne te beskerm. Hulle gesondheid en veiligheid moet prioriteit geniet.

“Ons bring hulde aan die gesondheidsorgwerkers wat dood is terwyl hulle die siekes versorg het.”

Die president sê danksy die steun van die Solidarity Fund, asook ruim skenkings van ondernemings, individue en ander regerings, kan persoonlike beskermingstoerusting vir dié werkers aangekoop word. In sommige gebiede waar daar steeds tekorte is, word daar dringend werk van die situasie gemaak.

Ramaphosa sê ook die kwessie van personeeltekorte kry dringend aandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Haai my President ek is reg vir die week met jou pep praaitjie, en jou Maandag more rah rah rah! Het jy al gesien my president dat daar 31 plaas aanvalle was in die laaste maand met heelwat sterftes, om seker nie te praat van die verminktes, en die trane nie. Maar my President dit is meesstal wit mense soe kom ons beweeg aan……”Ramaphosa sê ook die kwessie van personeeltekorte kry dringend aandag.” Kom daar nog 100 Kubane en 50 Chinese my President teen ‘n koste van R600 miljoen? Oor twee dae is dit einde Junie Cyril. Hou elke vlak nie net ‘n maand vir een of ander rede, en dan beweeg ons aan na die volgende vlak. Soe kan ons Woensdag aand die 30ste Junie verwag om jou op die kassie te sien. Ons weet as jy op die kassie verskyn praat jy vir 60 minute en se eintlik niks, maar ons hoop darem dat jy sal Vlak 2 aankondig , en miskien ook soe bietjie wind in jou broek kry en aankondig dat sigarette weer verkoop mag word. Maar met jou my President hou ek nie asem op nie!

Boerenooi ·

Die bestee manier om te voorkom dat jy nie siek word nie, is om te bid daaroor en positief te bly daaroor en te glo jy gaan, maak nie saak wát gebeur nie, OK wees.

Jacobus ·

Goed so Sirrel. Hou ook nou op met die stigmatisering van ‘n minderheids deel van jou bevolking. Hulle is werkskeppers, werkers en belastingbetalers. Ons is nie meer geneë met die gestigmatiseerde image wat jy skep nie. Ons kry die swaarkry deel van sie bevolking bitter jammer want hulle kry nou te doen met die tromp op afskeep en verarming deur langvinger kaders.

PH ·

Dis nou al maande. Die “dringende” sake moes lankal opgelos gewees het.

Anel ·

Hulle het gekies om opgelei te word in hierdie beroepe. Niemand keer hulle ook om te bedank nie. Dis soos enige beroep. Jy het ‘n keuse. En dan het jy’ n verantwoordelikheid om dit na die beste van jou vermoë te doen. As jy dit slegs doen vir geld en erkenning dan hoort jy nie daar nie. Kry dan iets ander om te doen. Daar is baie wat graag die werk sal wil doen maar nie mag nie. Redes voor die hand liggend.

Isabella ·

PLAASMOORDE ….die boere voed ons almal….hul lewens is SO BELANGRIK WANT HUL MOET VOORSIEN EN LEEF ELKE DAG IN VREES

Anoniem ·

Wat!!! Ramaphosa het gesê ons moet laat FEITE ons lei! Maar die ANC kyk dan ander rigting as dit by feite kom, hoe nou dan gemaak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.