Ramaphosa: ‘Staatskaping totaal onaanvaarbaar’

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Cyril Ramaphosa, die president van die ANC en adjunkpresident van die land, het Donderdag gesê dit is “totaal onaanvaarbaar” dat maatskappye in staatsbesit die slagoffers van kriminele elemente geword het wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika se kredietgradering tot rommelstatus afgradeer is.

Ramaphosa, wat in Desember vir pres. Jacob Zuma as president van die ANC opgevolg het, het gesê die sukkelende ekonomie se herstel hang van die stabiliteit van staatsondernemings af. Volgens Ramaphosa staar staatsondernemings ernstige uitdagings in die gesig, wat beleggers nog verder bekommer tesame met die land se beleidsonsekerheid.

Ramaphosa het by ʼn ontbyt-geleentheid gepraat in aanloop tot sy leiding van ʼn Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) volgende week.

“Ons moet ʼn plan maak met die verrotting wat by staatsinstansies ingetree het. Dit is onaanvaarbaar, totaal onaanvaarbaar dat staatsinstansies wat deur die nasie besit word, wat op die been gebring is om te dien in die belange van ons mense, gekaap is deur sekere belange,” het hy gesê.

Twee van die wêreld se grootste graderingsagentskappe, S&P en Fitch, het verlede jaar Suid-Afrika se kredietgradering tot rommelstatus afgradeer en aangevoer politieke en beleidsonsekerheid en die onstabiliteit van staatsentiteite is die rede daarvoor.

Ramaphosa het vanoggend gesê wetstoepassingsagentskappe het reeds begin met die stryd teen korrupsie, maar die volgende uitdaging is om die momentum te verskerp en individue wat betrokke is by die oortredings in hegtenis te neem.

“Die belangrikste ding is om die kwessie van korrupsie en staatskaping aan te spreek. Ons verwelkom dus die kommissie van ondersoek wat deur die president op die been gebring is,” het Ramaphosa gesê.

Hy het ook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) geloof dat hulle stappe gedoen het teen maatskappye wat na bewering die staat bedrieg het.

Die NVG se batebeslagleggingseenheid het goedkeuring bekom om bates ter waarde van R1,6 miljard van McKinsey en Trillian Capital, wat bande met die omstrede Gupta-familie het, te bevries.

Die maatskappye is in Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer (OB), se staatskapingsverslag genoem dat hulle na bewering onbehoorlike invloed op Eskom en ander staatsentiteite uitgeoefen het.

“Ons wil sien dat daar opgetree word teen diegene wat verkeerde dinge gedoen het. Ons sien nou die beginprosesse van presies dit. Die NVG begin beweeg en ons verwelkom dit,” het Ramaphosa gesê.

“Ons wil hê hulle moet met dringendheid optree en die tempo van hul optrede nog meer versnel. Die bevriesing van bates is ʼn belangrike komponent daarvan, maar ons wil nog baie meer sien wat dit opvolg, iets wat hulle al lank terug moes gedoen het.”

Ramaphosa het gesê die ANC, wat al sedert 1994 aan bewind is, staar nou die uitdaging in die gesig om ʼn “sosiale kontrak” met Suid-Afrikaners aan te gaan om hernuwing en eenheid te bevorder. Hy het gesê Suid-Afrika se oorkoepelende boodskap by die WEF in Davos, Switserland, sal wees dat die land nou sekerheid en bekwame leierskap het om die land uit sy ekonomiese donkerte te lei en dat SA se deure oop is vir besigheid en beleggings.

Hy het bygevoeg indien korrupsie aangespreek word, sal dit beleggersvertroue in die land herstel en beleggers weer teruglok.

Ramaphosa se afvaardiging na die WEF jaarlikse vergadering sal bestaan uit beamptes van die regering, sakesektor, arbeidsektor en burgerlike gemeenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Miskien moet jou kommentaar gestoor word vir later oproep, veral jou laaste sin, waarmee ek nie saamstem nie. Hy het die tweede hoogste posisie in die land beklee en niks gedoen oor die rommel waarin die land beland is nie. Geen rede om te dink dat hy skielik ‘n gedaanteverwisseling sal ondergaan nie.

Eddie ·

As Rampie nie met Zumpie begin nie ,sal sy aansprake en beloftes nooit geloofwaardig wees nie ! Ek dink die ” Old Boys Club” se bande is nog te sterk en te lojaal aan mekaar !

Vryheid ·

Cyril jy moet iets se van jou comrade zuma!
Dit lyk my jy het n gemaskerde tong- se net wat mense wil hoor maar doen min.

Adam ·

Cherokee, ek sekondeer. Die eerste keer toe bang Cyril vir Zuma teegegaan het, het hy binne 48 uur om verskoning gevra saam met Magashule en Thembu. Hy praat baie en noem mooi dinge, maar sy aksies sal uiteindelik die bepalende faktor wees.

Raai Wie ·

1 USD = R12.15…..Die nek aan nek stryd teen me. Zuma spreek boekdele.
Kon net so wel Zuma 2 as nuwe president gewees het. 1 USD = R18.00 +++
Groot taak wat voorlê.
Sterkte.

Rina ·

My opinie Mnr Ramaphosa moet nog steeds die Anc se beleid uitvoer so mense wat glo dat grondvergrype sonder vergoeding en afskafffing van afrikaans by skole en instellings gaan stop leef in ñ droom wèreld.Hy dalk ñ beter persoon as sy voortganger maar dit gaan niks verander nie.Rasseveroordeling teen een groep sal verskerp word,so ook B.E.E en ander sake. Dis te laat in dag om sekere sake te verander. Indien wel kort ons ñ nuwe party aanbewind met nuwe denke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.