Ramaphosa ‘stel teleur’ met nuwe kabinet

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: GCIS)

AfriForum sê pres. Cyril Ramaphosa maak nou ’n gewoonte daarvan om landsburgers teleur te stel.

Die burgerregteorganisasie het Vrydag in reaksie op die jongste kabinetskommeling gesê Ramaphosa se keuses van ministers toon slegs dat die publiek se belange die laaste ding is waaroor die president besorg is.

“Die kabinetskommeling bewys net weer eens dat Ramaphosa en die ANC nie ’n duit omgee oor die man op straat nie, maar eerder net hul eie mag wil uitbrei.”

Die organisasie wys in ’n verklaring spesifiek na Bheki Cele wat steeds as minister van polisie sal dien. Volgens AfriForum is dit “onverklaarbaar” dat Cele nog nie afgedank is ná sy “rampspoedige” hantering van die onlangse geweld en plundery in KwaZulu-Natal nie.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens verkrummel onder Cele se leiding, of eerder, tekort daaraan. Altesaam 58 mense word daagliks in Suid-Afrika vermoor, maar Ramaphosa kies steeds om só ’n onbekwame persoon in een van die belangrikste ampte in sy kabinet te hê,” sê Jacques Broodryk, veldtogbestuurder by AfriForum.

“Cele se grootste prioriteit blyk te wees om mense wat nie sosiale afstand handhaaf nie vas te trek, terwyl korrupsie en geweldsmisdaad hoogty vier.”

AfriForum meen die aanstelling van Thandi Modise as die nuwe minister van verdediging laat ook veel te wense oor. “’n Persoon wat nie eers verantwoordelikheid vir die diere op haar eie plaas kon neem nie, is nou verantwoordelik vir die land se verdediging.”

Maroela Media het vroeër berig Modise is privaat vervolg op aanklag van dieremishandeling. Die saak is egter vroeër vanjaar laat vaar.

Die organisasie sê voorts die besluit om die intelligensiediens onder die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, in te skuif, is nog ’n groot rooi vlag.

“Die intelligensiediens is veronderstel om apolities te funksioneer, maar ’n mens kry die indruk dat Ramaphosa die intelligensiediens nou in ANC-faksiegevegte wil inspan. Ons weet hoe die diens deur die Zuma-administrasie misbruik is en ek is bevrees dat dit baie naïef sal wees om te dink Ramaphosa sal nie dieselfde doen nie,” sê Broodryk.

Medici opgewonde oor minister van gesondheid

Joe Phaahla se aanstelling as minister van gesondheid word wel uit verskeie oorde verwelkom, onder meer dié van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama).

“Dr. Phaahla is ʼn mediese dokter wat in verskeie provinsies in openbare gesondheidsinstellings gewerk het. Ons glo dat hierdie ervaring hom in staat stel om die uitdagings wat die gesondheidsektor sowel as gesondheidsorgwerkers beleef, beter te verstaan,” sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama.

Coetzee het egter daarop gewys dat Phaahla se nuwe rol enorme uitdagings inhou. “Ons gesondheidsektor sukkel en ons gesondheidsorgwerkers is fisiek en emosioneel moeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Werner ·

Ou Cyril weet hier is n staatsgreep oppad en probeer sy bes om te oorleef.Hy is toe nie die tier waaroor die liberales so oor lieies raak nie.

Kobus ·

Niks meer van ons slaprug president verwag nie.Stel mense onder verdenking aan om sy eie bas te red.Blykbaar versigtig vir etniese teenstand.Waarom /wat verbied die president om ‘n persoon wat kundig is aan te stel? Is dit so ‘n groot kwessie? Kan hy maar ‘n ekonoom aanstel as minister van finansies ipv ‘n minister wat reeds ‘n twyfelagtige rekord het nie? Was dieselfde vorige minister van gesondheid nie ook voorheen as twyfelagtig beskou nie? Nee wragtag mnr die president,jy is amper erger as jou voorganger. Jou modus operandi is net anders.

Persheks Adri ·

Inderdaad is hy ‘n teleurstelling! Nie ‘n president se dinges nie hy dans rond soos ‘n puppet en skommel beslis nie in die belang van burgers nie. Plaas hy die kabinet kleiner gemaak het, maar nee sit met onbevoegde kaders!

koos10 ·

Wel dis nog ‘n bewys dat dit nie saak maak wie die President is nie. ANC word altyd bo die land gestel.

Misky ·

Hy het nou die kans gehad om reg te maak, maar het nie. Dwase besluit

Adam Adriaan ·

Dit is waar wat die Woord vir ons sê” Wee die land waar die slaaf koning word”

Dup ·

In Afrika wis hulle mekaar uit net om n magsposisie te kan beklee.Hiermee verwys ek na faksiegevegte,politieke moorde en taxi oorloë wat ñ alledaagse gebeurtenis in SA geword het.Die aangestelde kaders gee nie n duit om vir die mense nie en is net daar om hulleself te verryk.

Pieter ·

By die ANC word ministers aangestel op grond van politieke invloed en onderdanigheid. Bekwaamheid is heel laaste op die lys. Die vrugte hiervan is duidelik en so word die land oor die afgrond bestuur. Wat verkeerd is, is goed. Wat goed is, is boos.

SjN ·

Van die uitheemse name kon Cr self nie eens reg uitspreek nie.

Elizabeth ·

Ramaphosa sal veroorsaak dat Cele dink hy is bo die gereg

Hasie ·

Die mense moes Cele gesê het die “looters”is op die strand .Hy sou baie vinnig daar gewees het .

annie ·

Hoekom het Cyril voorheen op so baie rade gedien? Wat was sy bydrae of was dit om den money? Om een vet jakkals uit ‘n trop te haal en van hom te verwag om nou wag te hou oor jou skape, is dalk bietjie veel gevra. Daai jakkals is nie verniet spekvet gevreet nie. Hy is uiters slinks juis daarom. Nou wonder ons en wroeg ons, ons moeg. Waarom doen hy ok dit? Snik, snik…

Jack ·

Cele het heel waarskynlik saam met zuma n dik leer op al die belangrige anc kaders en is reg om dit te openbaar sou hulle hom skeef aankyk. Dit is anc styl.

john ·

Hy speel net musical chairs en die feit dat die inteligensie diens nou onder die precedency geplaas is is kommer wekkend.

Frank John ·

Ek hoop dat waneer al die skuldige beloftes van die verlede afbetaal is sal beter besluite geneem word en beter aanstellings. Maar dit is Afrika GNA, koning het meer as een “troonopvolger” en elk bou ‘n gevolg op, die twee vaksies baklei wie moet koning word en die een verloor, vlug suid, begin sy eie stam en sy gevolg sê genirasies later dat hulle bly nog altyd hier. So dan belowe hulle mekaar terugbetaaling later as hulle help en dan kom payday.

Nationalist ·

As if he would’ve ever surprised us with the right decisions. Coward president.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.