Ramaphosa steun Gordhan se aansoek teen OB

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn ondersteunende beëdigde verklaring by die hooggeregshof in Pretoria ingedien met betrekking tot die minister van openbare ondernemings se hofaansoek teen die openbare beskermer.

Ramaphosa dui in die beëdigde verklaring sy steun vir minister Pravin Gordhan se aansoek aan in soverre die verligting wat die minister soek verband hou met die president.

Die president voer in sy voorlegging aan dat dit duidelik is uit minister Gordhan se hersieningsaansoek dat daar ’n bona fide beregbare geskil tussen Gordhan en Busisiwe Mkhwebane is oor die wettige geldigheid van haar ondersoeke, bevindinge en die remediërende optrede wat sy in haar verslag aanbeveel.

Gordhan het ook ʼn probleem met Mkhwebane se aanname dat die president wetlike bevoegdhede het om toepaslike dissiplinêre stappe te doen teen hom as minister as die minister nie tot die kabinet aangestel word as ’n werknemer wat onderworpe is aan dissiplinêre stappe nie, maar eerder as ’n minister solank as dit die president behaag.

Busisiwe Mkhwebane. Foto:
Phando Jikelo/African News Agency(ANA)

Ramaphosa voer aan dat enige toepaslike dissiplinêre stappe wat hy teen die minister mag doen, bepaal moet deur of die ondersoek en bevindinge van die openbare beskermer wettiglik is en of die president dissiplinêre magte oor lede van die kabinet het.

Ramaphosa meen dit sal onder dié omstandighede voortydig wees om te poog om “toepaslike dissiplinêre optrede” teen minister Gordhan te neem terwyl die hoofhersieningsaansoek steeds hangend is.

Volgens Ramaphosa steun hy dus Gordhan se aansoek dat die remediërende optrede opgeskort word in afwagting van die hoofhersiening.

Gordhan het verlede week ʼn dringende aansoek ingedien vir ʼn interdik teen die implementering van remediërende stappe wat deur die openbare beskermer aanbeveel is.

Mkhwebane het vroeër verskeie regeringsfunksies, onder andere pres. Ramaphosa en die polisie, versoek om teen Gordhan op te tree vir sy rol in die destydse stigting van die sogenaamde “rogue”‑eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Gordhan het nou egter die hof genader en versoek dat die OB se remediërende stappe opgeskort word totdat die geregtelike hersiening van die verslag afgehandel is. Hy versoek die hof ook vir ʼn interdik om die kantoor van die OB en Mkhwebane te verhoed om die remediërende stappe af te dwing totdat die hersiening van die verslag afgehandel is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wonder net ·

Wat is die konneksie tussen Mkhwebane en die EFF? Lyk of hulle n ‘spesiale’ verhouding het?? Sy is heeltyd besig met EFF se agenda teen Pravin. Plaas sy sorteer VBS bankskandaal wat in the interest of the public is.

lanie ·

Raak ontslae van die korrupte lot en stel behoorlik gekwalifiseerde mense aan.

Adri ·

Burgeroorlog in SA kan al geruik word, dis seker die lang lont wat brand. Cyril, begin iets doen want daardie dame is soos ‘n remskoen en sy hou nie van jou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.