Ramaphosa stuur ministers na Noordwes

Pres. Cyril Ramaphosa (14 Maart 2018) Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n interministeriële taakspan aangestel om dringend aandag te gee aan kwessies van bestuur en risiko’s in die geweldgeteisterde Noordwes.

Ramaphosa het Donderdagaand in ’n verklaring gesê die aanstelling van die taakspan volg nadat hy die provinsie op 20 April besoek het. “Die kabinet het Woensdag tydens sy vergadering beraadslaag oor die onstabiele situasie wat in Noordwes ontvou het en wat talle dienste, veral gesondheidsorg, beïnvloed.”

Daar is onder meer ook besluit dat die sentrale regering die provinsiale gesondheidsdepartement se bestuur sal oorneem en dat die taakspan ministers na die provinsie sal stuur sal om te sien of ander bestuursfunksies ook oorgeneem moet word.

Volgens Ramaphosa word daar van die taakspan verwag om terugvoer aan die kabinet te gee oor die risiko’s en die stand van regering in die provinsie. Die taakspan bestaan uit minstens 10 ministers, waaronder die ministers van gesondheid, polisie, staatsveiligheid en finansies.

Gewelddadige betogings woed in Mahikeng in Noordwes (19 April 2018). Foto: ANA

Woedende Noordwes-inwoners het die afgelope week die strate van verskeie gebiede in die provinsie ingevaar om te eis dat Supra Mahumapelo as premier van die provinsie bedank.

Mahumapelo het intussen ook sy stilte gebreek en gesê hy berou die situasie tans in die provinsie. “Dit is betreurenswaardig en ek dink nie ons sou in die situasie gewees het nie as al die partye van die begin af van die sake anders beskou het.”

Mahumapelo sien egter die situasie as ’n geleentheid. “So moeilik as wat dit is, beskou ek dit as ’n geleentheid vir al die sektore en inwoners om byeen te kom.”

De kabinet het vroeër benadruk dat hy nie besluit het om Mahumapelo as premier te verwyder nie. Daardie besluit berus by Noordwes se wetgewer.

Premier Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Die Noordwes-regering het intussen ook aangekondig dat geen steen onaangeraak gelaat sal word in die stryd teen misdaad en korrupsie in die provinsie nie. “Ons het 29 forensiese ondersoeke van stapel gestuur en 22 van die ondersoeke is reeds afgehandel. Van die ondersoeke sluit onder meer in paaie waarvoor daar betaal is, maar werk wat nie afgehandel is nie en die verkoop van staatsgrond en -eiendomme,” het Sello Lehari, LUR vir onderwys en sportontwikkeling, aan verslaggewers gesê.

Volgens die polisie in Noordwes is meer as 400 mense reeds in hegtenis geneem sedert die betogings in Mahikeng begin het.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

pieter ·

En weereens is die man kop in die sand. Supra, nes Zuma, is jou halstarrige houding die oorsaak van al die skade. Bedank as premier en Jy sal dalk onthou word as n uitsondering binne die uiters korrupte ANCircus.

jaco ·

Waarom leer die ANC dan niks by hulle pêlle in Kuba en China nie? Sulke opstandelinge en geweld is ongekend in daardie lande. Selfs die ANC se ander oud-vriend Robert Mugabe het vir meeste van sy jare aan bewind ook sommer vinnig die polisie en weermag ingestuur as daar net ‘n fraksie van Suid-Afrikaanse styl betogings uitgebreek het.

Moeg vir sa ·

Wonder hoeveel van die 400 sit nog in die tronk?Nie een nie!!!!!!

Casper Labuschagne ·

Voorloper van ‘n nuwe bedeling vir provinsies?

Die feit dat ons nege provinsies het, is ‘n oorblyfsel van die eise om ‘n federale bestel tydens die destydse onderhandelinge by Kodesa. Die aanspraak op federalisme is afgewater tot provinsies met ‘n mate van selfbestuur en eie verteenwoording. Die funksie van die provinsies was om die mag van die sentrale regering af te water. Dit is geen geheim dat die ANC graag die provinsies sou wou afskaf, of verminder, ten gunste van sentrale beheer wat dan sal inval by hul langtermyn sosialistiese oogmerke.

Nou sien ons vir die eerste keer direkte ingrype op ‘n groot skaal vanaf die sentrale regering en waar die regering sekere funksies van die provinsie oorneem. Die krisis in die Noordwes mag dalk die regverdiging wees waarom die ANC vorentoe die provinsiale bestel sal wysig, veral omdat hulle die jaar die twee derde meerderheid het om reeds die grondwet te wysig ter wille van onteiening sonder vergoeding.

Dit voorspel ook niks goed in die toekoms vir ‘n provinsie onder die bestuur van ‘n ander party as die ANC, soos byvoorbeeld die Wes Kaap, wat dalk ‘n beleid wil toepas wat teenstrydig is met die ANC se ideologie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.