Ramaphosa stuur omstrede kopiereg-wet terug vir hersiening

Foto ter illustrasie/Maroela Media

Pres. Cyril Ramaphosa het die omstrede Wysigingswetsontwerp op Kopiereg na die parlement terugverwys vir hersiening uit kommer dat dit nie voldoen aan die Grondwet nie.

Die presidensie het ʼn rits moontlike probleme uitgewys en gesê outeurs kan die kopiereg op hul werk verbeur, dit kan tantiemes verminder, dit is ʼn oortreding van die internasionale organisasie oor intellektuele eiendom (WIPO) se voorwaardes en dit skend handels- en bedryfsvryheid.

Ramaphosa het “voorbehoude dat verskeie dele van die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg neerkom op terugwerkende en arbitrêre ontneming van eiendom omdat kopiereg-eienaars op ʼn kleiner deel van die vrug van hul eiendom sal kan aanspraak maak as wat voorheen die geval was”, het die presidensie verduidelik.

Hy het ook die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Kunstenaars terugverwys na die wetgewer vir hersiening.

“Die wysigingswetsontwerpe is na die president verwys vir goedkeuring en bekragtiging. Die president is egter besorg dat die wetgewing teen die Grondwet gedaag kan word.”

Ramaphosa het ook wydverspreide kommer uitgespreek oor die uitsonderings in die kopieregwetsontwerp om werke in braille te vertaal.

“Voorstanders van die uitsondering beweer dat visuele gestremde persone sonder sodanige uitsondering beperkte toegang tot outeursregte literêre werke sal hê, aangesien sulke werke nie oorvertaal kan word in braille en ander formate nie. Opvoeders en bibliotekarisse soek ook groter en makliker toegang tot verskillende tipes werke.”

Die Kopieregkoalisie van Suid-Afrika (CCSA) het Ramaphosa se besluit verwelkom en gesê hy hou lankal vol dat die wetsontwerp nie aan die Grondwet voldoen nie. “Suid-Afrikaanse kunstenaars en kreatiewe persone sou van hul intellektuele eiendom ontneem word,” het die organisasie gesê. “Hierdie besluit beskerm die lewensbestaan van Suid-Afrikaanse kreatiewe bedryf, inhoudvervaardigers en honderde duisende werkers wat in dié bedryf werksaam is.”

Die besluit volg kort ná Ramaphosa ook besluit het om die hoogs omstrede Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting terug te verwys, sewe jaar ná dit goedgekeur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mallie ·

Ek wonder net, al hierdie kommentare wat ons lewer, sien die mense van belang ooit die goed of is dit net n uitlaatklep vir ons furstrasies?

JohanR ·

Mallie…..ek se ook dit is maar ‘n uitlaatklep, maar soe laat ons mekaar, ons families en hulle families en hulle families en soe aan en soe aan om NOOIT vir die ANC te stem nie. Ons hoor dan ook wat mense soos AfriForum, Solidariteit ens te se en bespreek het.

Benn ·

Ek verstaan dat kopiereg beskerm moet word maar ek glo dat mense wat net Braille kan lees ook toegang moet kan he tot wat ookal geskryf is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.