Ramaphosa-toespraak: Ja vir drank, nee vir tabak op vlak 3

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat Suid-Afrika op 1 Junie na vlak 3 van die afsonderingsvlakke skuif. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Daar is goeie nuus en slegte nuus vir Suid-Afrika op vlak 3 van die afsonderingstydperk.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand in ʼn toespraak gesê die land skuif op 1 Junie na koronavirus-vlak 3. Dít terwyl daar nou 22 583 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus in Suid-Afrika is. Die sterftesyfer staan op 429.

Dit is nou reeds 10 weke sedert ʼn ramptoestand in Suid-Afrika afgekondig is en Ramaphosa sê ter voorbereiding van die verwagte toename in infeksies word 20 000 hospitaalbeddens vir Covid-19-gevalle opsygesit en 27 veldhospitale word landwyd gebou. Sommige van dié hospitale is reeds gereed om pasiënte in te neem.

“Die koronavirus-pandemie in Suid-Afrika gaan vererger voor dit verbeter,” het Ramaphosa gewaarsku.

“Die duur, skaal en uitwerking van die pandemie gaan van ons optrede as ʼn samelewing en ons gedrag as individue afhang.”

Ramaphosa het gesê daar is die afgelope ruk met uiteenlopende groepe vergader en hoewel die afsonderingstydperk doeltreffend was, kan dit nie onbepaald volgehou word nie.

Die kabinet het dus besluit dat die hele land na vlak 3 skuif.

Dís wat jy op vlak 3 kan verwag

Alkohol

Ramaphosa het gesê die verkoop van alkohol gaan voortaan onder streng voorwaardes toegelaat word en ook net op spesifieke dae en vir beperkte ure.

Verdere aankondigings hieroor sal gedoen word sodra besprekings met die bedryf afgehandel is.

Tabakprodukte

“Die verkoop van tabakprodukte bly verbode op vlak 3 weens die gesondheidsgevare wat met rook gepaard gaan,”  het Ramaphosa gesê.

Oefening, aandklokreël

Mense sal steeds toegelaat word om hul huise te verlaat om aankope te doen of dienste, ook mediese dienste, te bekom.

“Mense sal enige tyd van die dag  kan oefening doen, solank dit nie in groepsverband is nie,” het Ramaphosa gesê.

Die aandklokreël word opgehef.

Byeenkomste

Openbare byeenkomste word steeds verbied met die uitsondering van begrafnisse, wat nie deur meer as 50 mense bygewoon mag word nie.

Enige ander kulturele-, sport- en ontspanningbyeenkomste bly verbode.

Ramaphosa het gesê kerkdienste bly ook steeds verbode, hoewel verdere besprekings daaroor voortduur.

Bedrywe

“Die terugkeer werk toe sal geleidelik geskied sodat werkplekke koronavirus-gereed gemaak kan word. Dit moet gedoen word op ʼn manier wat die kans op infeksie verminder en vermy,” het Ramaphosa gesê.

Onderhewig aan die voorgeskrewe maatreëls, mag die vervaardigings-, myn-, konstruksie-, finansiële dienste, IT, kommunikasie, staatsdiens, media, asook die professionele- en sakesektor hul bedrywighede hervat. Sektore wat reeds heropen het, mag steeds met hul werk voortgaan.

Alle groot- en kleinhandelaars word toegelaat om op vlak 3 ten volle te heropen.

Sekere ekonomiese bedrywighede wat as hoë risiko beskou word, bly opgeskort.

Restaurante, kroeë en tavernes bly dus gesluit, behalwe vir aflewering of om etes op te laai. Deurry-geriewe word ook heropen.

Plaaslike vlugte sal geleidelik teruggebring word.

Persoonlike sorgdienste, soos haarkappers en skoonheidsalonne, bly ook gesluit.

Ramaphosa sê samesprekings is ook met die gasvryheidsbedryf gehou wat verskeie voorstelle gedoen het oor die maatreëls wat hy in werking kan stel wanneer die bedryf heropen word.

Skole

(Argieffoto: Unsplash)

“Ons prioriteit is die gesondheid en welstand van ons kinders en ʼn hele geslag leerders moenie permanent deur dié pandemie benadeel word nie,” het Ramaphosa gesê.

Volgens hom volg die regering ʼn versigtige en geleidelike infaseringsproses om skole te heropen.

Klasse vir gr. 12- en gr. 7-leerders word op 1 Junie hervat – maar ingevolge streng maatreëls.

“Die skoolkalender sal hersien en die kurrikulum sal verklein word sodat ons steeds die 2020-skooljaar kan herwin.”

Ramaphosa het gesê daar is verstaanbaar kommer oor die heropening van skole. Geen ouer sal gedwing word om sy kind skool toe te stuur as hulle bekommerd is oor die kind se veiligheid nie.

Vervoer

Ramaphosa het gesê een van die grootste uitdagings met ʼn afwenteling na vlak 3 – wanneer nagenoeg agt miljoen mense weer sal kan terugkeer werk toe – is die verhoogde gevaar van oordrag op openbare vervoer.

Pendelaars moet maskers dra, hande was en ʼn veilige afstand van ander mense handhaaf.

Voertuie moet ook gereeld ontsmet word.

“Ons nasionale grense bly gesluit, buiten vir die vervoer van goedere en die repatriasie van burgers,” het Ramaphosa gesê.

Brandpunte

(Foto: Nardus Engelbrecht/AP)

Ramaphosa het gesê die skuif na vlak 3 beteken ʼn beduidende aanpassing in die aanslag om die pandemie te beveg.

In sommige dele van die land word groot getalle van die nuwe koronavirus daagliks bevestig en waar infeksies bly styg. Die gebiede sal tot brandpunte verklaar word en is ʼn gebied waar meer as vyf mense per 100 000 mense die siekte opdoen, of waar nuwe infeksies teen ʼn vinnige koers groei.

Die metrogebiede wat reeds tot brandpunte verklaar is, is: Tshwane, Johannesburg, Ekurhuleni, Ethekwini, Nelson Mandelabaai, Buffalo City en Kaapstad.

Ander gebiede is die Weskus-, Overberg- en Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap, Chris Hani-distrik in die Oos-Kaap en iLembe-distrik in KwaZulu-Natal.

“Ons is veral besorg oor die situasie in Kaapstad en in die Wes-Kaap in die algemeen, waar meer as die helfte van die land se infeksies is. Ons gee dringend hieraan aandag,” het Ramaphosa gesê.

ʼn Span permanente gesondheidsorgwerkers sal na elk van die brandpunte gestuur word. Die spanne sal bestaan uit onder meer epidemioloë, verpleegpersoneel, gemeenskapsgesondheidswerkers, openbare gesondheidsorgkenners en nooddienswerkers. Die groep Kubaanse dokters in Suid-Afrika sal dié spanne ondersteun.

Elke brandpunt sal aan toetsdienste, isolasie- en kwarantynfasiliteite, behandeling, hospitaalbeddens en opsporingsdienste gekoppel word, het die president gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Willem ·

Hulle het agter gekom die oefentye werk nie en dit was n simpel idee. Jammer vir die sogenaamde 70000 troepe . Aandklokreel ook skielik oorbodig ai ons slim ministers

Herman ·

Jammer, maar met drank gaan daar net probleme kom. Ek het jare terug opgehou en weet mens raak loskop na n paar sopies. Huis moleste gaan gou broei en mense gaan beginne kuier. Die pad terug fase 4 of 5 gaan gou weer ingestel word. Rook het nie n effek om mense se denke nie, al weet ons dit is ongesond

Janine ·

Praat vir jouself. Nie almal van ons raak uitspattig nie. Ons drink by ons huise.

Marius ·

Beter as vorige 1 maar ek dink nogsteeg jy kort n paar groter albasters nodig om party van jou mense te se waar is hulle plek in die ry ek verstaan nog nie ek mag dagga kweek en rook maar nie n sig koop nie asb help my my kop is te plat vir dit

Plaaskind ·

EK KON NIE HELP OM NOU TE GIGGEL VIR JOU KOMMENTAAR NIE MARIUS. OULIKE WOORD KEUSE. HA HA.

Pieter ·

Die ANC regering moet vir ons kom wys hoeveel van die mense wat gesterf het van die virus was rokers. En hoeveel was H. I. V en het T. B gehad. Nou moet rokers die gemors twak koop van zuma

Leon ·

Ek is dalk dom, maar ek sien niks hier vir die oor sestigs. Moet seker ook teruggaan werk toe.

Pieter ·

Ou rupert het mos miljoen gegee vir die cr17 veldtog. Nou gee ou cyril weer vir hom mijoene van ons belasting geld om dat B. A. T toe is weens die virus. Dit is al hoekom hy so stil is. Twee gat jakkels

Jakes ·

Zn Roker wat wil rook is een storie…….maar n dronk roker is n heel ander storie.
As die verbod op twakkies gelig word, het die mad hatter niks oor om te doen of se nie…..hy kan klaar nie meer mense vang war oefen nie…..wat sal hy dan nou doen met sy manne.
Regte misdaad is vir hom heel te veel om te verstaan.

Michael 1 ·

Ek kan verstaan hoekom dlamini zuma die sigarette verbod in plek wil hou want haar seun trek voordeel daaruit, maar wat is Ramaposa se agenda

koos10 ·

BAIE lank laas terug vir CR so senuweeagtig gesien. Van sy gewone hande taal was daar niks te bespeur nie. DNZ het hom seker uit die gehoor dop gehou, of hy weet dat SA nou die finale breekpunt bereik het en dat die hospitale die miste van sy probleme is.

Die Wolf ·

Binnelandse vlugte? In effek mag jy nou weer oor provinsiale grense beweeg,

ES ·

Ek is nie ‘n roker nie, maar ek dink dit is onregverdig om drank in te sluit maar tabak uit te sluit. Baie mense maak gebruik van tabak as ‘n stres-demper. Alkoholmisbruik is baie gevaarliker as wat enige sigaret kan wees.

Al hoe meer mense glo die regering is besig met ‘n angenda – ons sal maar sien wat bring die pad vorentoe.

Ivana ·

Nee ons moenie wag om te sien nie, ons mense moet begin saamstaan

Objektief ·

Kyk nadie ANCdamesoptelevisie ense virmyhulle hareen naelsblyvir 9weke indie selde toestandasvoor die inperking. Hoeveel vanhulle het skelm laathareen naelsdoen?

Pieter ·

He He He He He, nog steeds geen twakkies nie!! Die ou tannie staan sterk!! Welgedaan!!

Pieter ·

Nee pieter mense rook nog steeds. Al wie nou voor deel trek is haar seun. Wakker skrik

Emily ·

Wag tot jou plesiertjies weg gevat word. Jy het nie n idee waarvan jy praat nie.

Alida ·

Hulle het n agenda. 11 miljoen mense rook wettige sigarette, blankes het n behoefte aan n haarkapper, blankes is bang om hul kinders skool toe te stuur. Maak jul eie afleidings. CR bombamdeer ons net met syfers maar se eintlik NIKS want hy dans na sy onderdane se pype.

Amanda ·

Gee net die bevolking die geleentheid om verantwoordelikheid vir hulleself te vat. Wettig alles, laat mense toe om te beweeg. Hou op “spoonfeed” Kweek so n bevolking wat in die toekoms na hulleself sal kan kyk en nie die belastingbetaler se probleem word nie. Mense wat alles verniet kry leer nooit om te dink nie, ja hulle verloor die vaardigheid om te kan verantwoordelikheid neem vir hulleself. Tans sit ons met n hopelose bevolking wat net kan “demand” .

Roebs ·

Goeie more Geagte Presedent
My moeder is al 75 jaar oud sy rook al van dat sy 19 is, ek wil graag weet hoe se jy vir my moeder dat sy nie meer sigarette kan kry nie, hoe verduidelik jy vir my moeder dat sy nou ewe skielik moet ophou rook.. Hoe verduidelik jy vir haar dat sy haar R1800 moet gebruik om R1000 se sigarette te koop? Sy moet lewe en het ook goedjies om te betaal… Hoe verwag jy dat sy haar geldjies moet gebruik om uitgebuit te word deur die regering. Stel asb die verbod op rook op dat mense soos my ma nie hulle ore van hulle koppe af moet betaal aan sigarette.

Koos ·

Ek haat rook wat my kwaad maak is al die rokers wat ek ken koop nou die gemors sigarette teen ‘n moewiese prys (my vrou inkluis) en maak net nog ‘n zuma ryker.Arme Ramaposa moet maar luister maar vir die zuma vrou hy het net nie die albasters om haar teen te staan nie.

Amanda ·

Wettig die verkoop van sigarette. Die hele aangeleentheid werk nie, daar is hope sigarette in omloop. So ek kan nou dagga in my tuin kweek vir “huislike gebruik” en dan kan ek dit sommer by die huis rook!!!
Die aandklokreel is geskiedenis, wat word nou van die hordes troepe? Waarvoor is hulle nou eintlik opgelei, oorlog of handlanger joppies? Hulle kry salarisse wat ons as belastingbetalers voorsien. Hoeveel mense het corona vrygespring deur die verbod op alkhol??????? Hoeveel mense het besmetting vrygespring deur die aandklokreel ???? Dink bietjie mooi.

gatgogga ·

Oor ‘n kort rukkie kom Ramapauser agter die staatskas is dolleeg. Dan wil hy weer meer belasting uit ons kry.
Dan moet ons hom herinner hoe hy tabak belasting inkomste van die hand gewys het.

KB ·

Net soos Prof. Glenda Gray voel ek die regering en die NCC het verskuilde agendas. Ek glo hulle nul, zero, zulch.
Ek kan maar net my hande saamslaan oor hulle kinderlike (kinderagtige) reëltjies wat hulle saamflans.
Mag ons wakker word en volwasse aksies teen hierdie Kleuterskool neem.

Ivana ·

Ek stem, ons SA’ners moet begin saamstaan, vertel mense oral waar jy kom, die regering is besig met ander dinge en ons gaan nie wag. Hulle kweek paniek by die ongeletterdes en kwesbares, meer as wat die virus regverdig. Dis net n rookskerm vir hul bose planne

Toy ·

Ek verstaan nie drank, veroorsaak meer ongelukke en aanrandings ens, maar sigarette mag nie op vlak 3 verkoop word nie, hier is iets aan die gang ons mense is nie stupid nie. Die aandklokreel kon net so gebly het as hulle wou kon hulle dit 9 uur in die aand gemaak het.

Ivana ·

Geen reel maak sin nie. Drank is n euwel. Jy slaan nie jou vrou of man en kinders as jy n pakkie sigarette gerook het nie, maar jy kan wel as jy bottel drank uitsuip. Rokers, hou vir so 2weke op om Zuma se rubbish te koop en kyk wat gebeur

david ·

Ai tog , sommige mense leer maar stadig…! Nou kan daar alkohol verkoop word net op sekere dae en ure…..Kroee en tavernes (sjebeens) bly egter gesluit.
Dus kan die voorstedelike drankwinkels en van die groot winkels wel drank verkoop, onder streng voorwaardes……en dit is uitsluitelik vir tuisverbruik..
Indien Cyril nie geweet het nie, daar bestaan al jare lank wetgewing hieroor.
Voorheen mag jy nie alkohol wat jy gekoop het binne die winkel verbruik nie,,ook nie daarbuite
nie..dis drink in die openbaar en onderhewig aan arrestsie.
Met ander woorde , dis slegs vir tuisverbruik.
Nou waarom moes mense wag vir vlak drie net om aan dieselfde regulasies te voldoen wat al jare bestaan.?
Die twee hoof Apostels teen alkohol en sigarette is duidelik Bheki Cele—volgens Google opgelei as ‘n onderwyser, en Nkosazana Dlamini Zuma, medies opgelei…..nou wie is Cyril-hulle se regsadviseurs ?
Geen wonder SA se hoofegter Mogoeng Mogoeng raak beswaard oor hierdie regulasies nie………

Ansie ·

Dit lyk my die gesamentlike besluitnemers het ‘n gemiddelde IK van <5. Drank is baie erger en veroorsaak baie meer probleme as tabak. NDZ se sussie Bathlabile se dop het seker opgeraak. Jammer dat sy nie rook nie. En was daar nie stories dat 'n sekere Zuma-kind betrokke is by swartmarksigarette nie? Nee wat Cyril, onder jou is die land steeds korrup.

Africangrey ·

Die ergste kom nog

As mens weer sigarette mag koop, gaan ons driedubbel die prys moet betaal, om op te maak vir die verlies tydens die lockdown, hulle sien mos nou almal betaal duur, n roker wil rook, n drinker wil drink, dis mos nou logies, hier waar ek bly is alles toegestaan, dis net dat n pakkie sigarette ipv 6 euro, nou 11 euro en 40 sent kos, maar ons betaal dit maar, mens moet mos rook, ek wil nog baie praat, maar ek vetrou julle verstaan wat ek sal kwytraak……….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.