Ramaphosa: Tweede golf moet voorkom word

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidency/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand die land toegespreek oor die land se reaksie op die Covid-19-pandemie. Hy het onder andere sy kommer uitgespreek oor ʼn skerp toename in gevalle in die Oos-Kaap en nuwe regulasies oor internasionale reise en alkoholverkope aangekondig.

Die president het gesê die pandemie is nog lank nie verby nie en sal nog vir ʼn lang tyd met ons wees. Meer as 51 miljoen persone wêreldwyd het reeds die virus opgedoen waarvan 33,6 miljoen reeds herstel het. Minstens 1,28 miljoen persone is oorlede.

Ramaphosa het gesê gevalle het die afgelope twee maande redelik stabiel gebly. “Uit die vordering wat ons gemaak het, en die lesse wat ons geleer het, weet ons nou dat ons op die huidige vlak 1 al die gereedskap het wat ons benodig om ʼn oplewing in gevalle te voorkom. So lank as wat ons, as individue, ondernemings en instansies, aan al die nodige gesondheidsprotokol voldoen en ag slaan op die beperkings wat steeds geld, behoort dit nie nodig te wees om terug te keer na ʼn hoër vlak nie.”

Suid-Afrika het tot dusver 742 394 Covid-19-gevalle aangemeld. Meer as 92% van persone wat die virus opgedoen het, het reeds herstel. Die dodetal staan tans op 20 011.

“Alhoewel ons ʼn redelike lae sterftekoers het in vergelyking met talle ander lande, kan ons nie die verlies en pyn bereken wat dié sterftes veroorsaak het nie. Sedert die aanvang van die krisis was ons doelwit altyd om lewens en mense se lewensbestaan te beskerm.”

Hy het bygevoeg alhoewel die infeksiekoers gestabiliseer het, is daar steeds talle mense wat daagliks die virus opdoen en die land bly kwesbaar. “Ons sien hoe vinnig en dramaties infeksies in verskeie lande styg. Ons sien ook hoe gesondheidstelsels oorweldig word in die lig van ʼn skielike toename. Die toename in gevalle in sommige van dié lande het hulle genoop om weer streng maatreëls in te stel. Ons het ook in ander lande gesien hoe ʼn toename in gevalle alle hoop laat vaar vir ʼn vinnige ekonomiese herstel. Ons moet alles in ons vermoë doen om dit in ons land te voorkom.”

Oos-Kaap moet ʼn wekroep wees

Ramaphosa het sy kommer uitgespreek oor ʼn skielike toename van gevalle in die Oos-Kaap. In die afgelope week was die getal nuwe gevalle in die provinsie 50% hoër as die vorige week. Die getal nuwe gevalle in die afgelope 14 dae was sowat 145% hoër as die vorige 14 dae. Die toename in gevalle word veral in die Nelson Mandela-metro en die Sarah Baartman-distrik opgemerk. Daar was die afgelope maand ook ʼn volgehoue toename in hospitaal-opnames in die provinsie.

“Dit wil voorkom of die toename in gevalle in die Oos-Kaap toegeskryf kan word aan uitbrekings by instansies vir hoër onderrig soos universiteite, skole en persone wat groot byeenkomste bywoon. Wanneer dit gekombineer word waar persone nie sosiale distansiëring toepas nie, nie maskers dra nie en nie goeie higiëne-maatreëls volg nie, word ʼn omgewing geskep waar infeksies kan toeneem.”

Hy het gesê omdat talle persone tussen die Oos-Kaap en ander provinsies beweeg, veral die Wes-Kaap, is dit net ʼn kwessie van tyd voor dié toename in gevalle ook na ander dele van die land kan uitbrei. Hy het gesê die regering sal nou saam met die provinsiale regering, munisipaliteite en ander instansies in die Oos-Kaap werk om seker te maak die toename word beheer en bestuur.

“Wat ons in die Oos-Kaap sien, moet vir ons almal ʼn wekroep wees dat ons nie agteroor kan sit en ontspan nie.”

Hy het gesê ander gebiede, waar daar ʼn toename in gevalle is, word ook gemonitor. Dit sluit Lejweleputswa (Welkom) en Mangaung (Bloemfontein) in die Vrystaat, Frances Baard (Kimberley) en Pixley ka Seme (De Aar) in die Noord-Kaap, en die Tuinroete en Kaapstad in die Wes-Kaap in.

Die noodtoestand word tot 15 Desember 2020 verleng.

Hy maan alle Suid-Afrikaners om maskers te dra, selfs al is dit ongerieflik en warm, veral in die somer, en selfs al is dit ongerieflik omdat jy dalk nie kan hoor wat iemand sê nie of hulle nie herken nie. “Om ʼn masker te dra as ons die huis verlaat is egter baie, baie beter as ʼn tweede golf. Dit is ook baie beter om ʼn masker te dra as om terug te keer na ʼn algehele afsondering en die ekonomie te sluit. Dit is baie beter om ʼn masker te dra as om self die virus op te doen of die virus na ander persone te versprei.”

Hy maan Suid-Afrikaners ook om, veral nou tydens die feesseisoen, groot byeenkomste te vermy en eerder in klein groepies bymekaar te kom. “As ons moet uitgaan, moet ons ons kontak met ander persone beperk. Ek raak al hoe meer bekommerd en is ontsteld oor dit wat ek op sosiale media en op die televisie sien waar mense groot partytjies en byeenkomste hou asof die virus nie bestaan nie. Ek sien foto’s van binnenshuise ruimtes met ʼn groot skare mense waar hulle nie maskers dra nie en daar nie ʼn teken is van sosiale distansiëring nie. Dit is superverspreider-byeenkomste en moet vermy word. Dit is baie gevaarlike gedrag. Dieselfde reëls wat in die vroeë dae van die afsonderingsperiode gegeld het, moet nou ook geld.”

Die president het ook weer ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die Covid Alert SA-app af te laai wat jou in kennis kan stel indien jy aan die virus blootgestel is. Die app deel nie jou ligging of besonderhede nie en is gratis om te gebruik.

Entstof

Pres. Ramaphosa het gesê ʼn doeltreffende en veilige entstof is die grootste verdedigingsmeganisme teen Covid-19 en verskeie entstowwe word tans wêreldwyd ontwikkel.

Suid-Afrika werk saam met verskeie internasionale farmaseutiese maatskappye om ʼn veilige en doeltreffende entstof te bekom.

Na raming sal die Afrika-kontinent sowat $12 miljard en 750 miljoen dosisse van ʼn doeltreffende entstof benodig.

Een van die wêreld se voorste farmaseutiese maatskappye, Johnson & Johnson, het ʼn voorlopige ooreenkoms met ʼn plaaslike maatskappy, Aspen Pharmacare, aangegaan om sy kandidaat-entstof te vervaardig en te verpak. Aspen het die kapasiteit om 300 miljoen dosisse van die kandidaat-entstof te vervaardig by sy aanleg in Nelson Mandelabaai. “Dit is ʼn produk wat mense se lewens kan red en deur Suid-Afrikaanse werkers vervaardig gaan word.”

Hy het gesê dit is bykomend tot die vordering wat Biovac, ʼn plaaslike biofarmaseutiese maatskappy maak in samewerking met die Suid-Afrikaanse regering. Biovac is in ʼn gevorderde stadium van gesprekke met ʼn internasionale vervaardiger wat hom in staat sal stel om ook plaaslik ʼn Covid-19-entstof te vervaardig om seker te maak daar is voldoende voorraad vir ons land en die kontinent.

Ekonomiese herstel

“Ons beweeg nou oor na ʼn periode van verligting na herstel,” het die president gesê, terwyl die ekonomie geleidelik sy deure oopgemaak en beperkings op beweging en aktiwiteit opgehef is.

Daar is egter nog steeds bedrywe wat nie volledig operasioneel is nie en dit sal waarskynlik lank duur vir talle persone om terug te keer werk toe.

Die spesiale Covid-19-verligtingstoelaag word vir ʼn verdere drie maande verleng tot Januarie 2021. “Dit sal ʼn inkomste verseker aan ongeveer 6 miljoen persone wat werkloos is en nie enige ander vorm van regeringstoelaag ontvang nie.”

Die Werkloosheidsversekeringsfonds sal ook sy TERS-voordeelskema vir nog ʼn maand verleng.

Nuwe regulasies op vlak 1 toegepas

“Ons wil alle dele van die ekonomie so vinnig en veilig as moontlik ten volle aan die gang kry,” het hy bygevoeg.

Die vlak 1-regulasies word gewysig sodat normale besigheidsure vir die verkope van alkohol by handelaars sal geld.

Internasionale reise word ook oopgestel vir alle lande – onderworpe aan die nodige gesondheidsprotokol en die toon van ʼn negatiewe Covid-19-sertifikaat.

Die volgende regulasies bly egter van krag:

  • Die aandklokreël tussen 00:00 en 04:00
  • Die getal persone in ‘n winkel, kroeg, fliek, teater of ander openbare ruimte word beperk tot 50% van die normale kapasiteit
  • Byeenkomste word beperk tot 250 persone (binnenshuis) en 500 persone (buite)
  • Dit is verpligtend om ‘n masker te dra in alle openbare ruimtes en om sosiale distansiëring toe te pas

Vyf dag lange rouperiode 

Die kabinet het besluit dat die land van 25 November tot 29 November ʼn rouperiode sal onderneem vir die slagoffers van Covid-19 en die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld.

Die nasionale vlag sal van 06:00 tot 18:00 halfstok hang.

“Ons versoek alle Suid-Afrikaners om ʼn swart band om jou arm te dra of enige ander teken van rou as ʼn teken van respek vir diegene wat gesterf het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Persheks Adri ·

Cyril, ons soek nie die entstof nie nie eers vir mahala nie en nog minder gaan ons die “app” aflaai pffft!

Weereens NIKS gepraat oor plaasmoorde, moord en roof nie en nog minder die blatante rassisme TEEN ons ook nie en ook nie julle korrupsie nie! Dis die belangrikste goed, maar GEEN woord word gesê nie! Jy stel my teleur regtig

Gerrie ·

Ons sal ook aanhoudend en oor dieselfde ding pruttel. Wat moet hy sê oor plaasmoorde en wat het dit te doen met Covid 19 te doen?

Charles ·

Die inperking was van die begin af nie vir gesondheids redes maar vir beheer, die entstof gaan afgedwing word, wag en kyk maar.

Snowball ·

Grootlieg sê toe nou ook niks wat niemand nog nie alreeds weet nie….bla bla bla.. verleng noodtoestand.. bla bla bla.

gehasie ·

Tweede golf? Waar is die eerste golf! Cyril wanneer gaan julle begin optree soos n verantwoordelike regering? Nou het die ANC sy mes ook in vir Wes-Kaap en plaas-arbeiders. Wes-Kaap is omtrent die enigste werkende Provinsie en julle wil dit ook nou vernietig!

Alet ·

Ek sal ‘n wit kruis op my swart Bakkie hê vir daai 5 dae.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die entstof (COVID-19 PASSPORT) soos wat die VSA wil hê is die merk van die dier en die app / toepassing is deel daarvan. Ongelukkig is al my familie se selfone se geheue te klein om NOG ‘n app / toepassing af te laai. Tans hardloop hulle klaar uit geheue met net die minimum basiese toepassings!Ons kan nie die duurder fone met groter geheue bekostig nie.

Nico ·

Jy het dit heeltemal verkeerd, die merk sal op jou voorhoof verskyn, jy sal presies weet wanneer dit gebeur gaan bestudeer Open. 13 dan sal jy sien.

Kobus ·

Gebruik julle maar jul entstof en voel veilig. My beskerming vind ek in die Allerhoogste, nie net op die manier waarop Hy my liggaam geskape het om virus aanslae te oorkom nie maar ook in Sy vermoë om my bo-natuurlik te red soos Hy alreeds in my lewe gedoen het.

Dirk Mostert ·

Die “kenners” het ‘n piek in September voorspel, wat nie plaasgevind het nie (die piek was reeds in Julie, ons middel-winter). Hy hamer op die TWEEDE GOLF wat verwag word. Dis slegs weens die verslegtende wintertoestande in die noordelike halfrond . Coronavirusse aard nie juis in somertoestande nie. Die inentingstoetse was slegs oor ‘n paar maande. Ons weet nog nie watter komplikasies oor ‘n jaar mag intree nie. Dra die owerhede wat die entstof reeds goedgekeur het verantwoordelikheid vir moontlike sterftes en komplikasies a.g.v. die inentings?

Hans ·

Ons sal maar eerder n wit bandjie dra vir al die boere wat vermoor is, dis meer as wat tans aan covid dood is

Jaco ·

Laat ek raai: Aspen Pharmacare wat namens Johnson & Johnson die entstof in SA moet versprei, is 100% BEE, 150% regstellende aksie (geen wit werkers) en dit behoort aan ‘n familielid van ‘n ANC-minister of ANC-parlementslid of ANC-burgemeester of ANC-munisipale raadslid.

Derek ·

Die grendel periode het slegs drie hoogte punte, die ontbloting van korrupsie, die beperking op die verkoop van drank en die curfew, dit is al wat belangrik is. Ons weet almal dat korrupsie en bedrog gebore was met die inbring van affirmative action en BEEE, dit is geen geheim. Ons kan swart dra indien die regering erken dat plaasmoorde net soveel gewig dra dan die virus!

Derek ·

Wat die app aanbetref, ons stel nie belang om dit af te laai nie, Cyril se woorde is “our people” en die blanke is volgens ANC beleid uitgesluit. Die besluit is eensydig deur die ANC gedoen. Sterkte met die beheer van jou mense Cyril!

Nico ·

Rou periode vir die covid sterftes, wat van die plaasmoorde en ander moorde. Gaan jy die covid 19 stop, kom kyk na die drinkplekke in die woonbuurtes en gaan jou aandklok werk. Mnr. president is jou inligting waar of is dit net weer ‘n bang maak storie en hoeveel gaan daaruit kry.

Mariana ·

Jy maak mense kwaad Ramapoza. Besef jy nie dat mense genoeg gehad het nie. Hou jou entstof en app. Stel nie belang nie. Jy moet ‘n slag plaasmoorde en die misdaad in SA aanspreek, maar dit dra jou en jou regering se goedkeuring weg dat boere een na die ander vermoor word. Jy stel ondersoek in na rassisme by skool en keur EFF optredes goed. Ek verstaan nie hoe iemand wat veronderstel is alle inwoners se belange op die hart te dra, so blatant ander pad kan kyk nie.

Mudguard ·

Hou jou entstof en jou app !!!! Ek nies dat die snot so spat, dankie.

Goggie ·

Ek sal met die nodige eerbied ding aan die persone wat as gevolg van Covid-19 gesterf het. Maar: ek sal ook terselfdertyd my hoof buig in meegevoel met ons plaasboere en gesinne se verliese a.g.v moord.

Anoniem ·

Goggie, en ons sal ook onthou hoeveel onskuldige kinders deur bendes doodgeskiet is.

Schalk ·

As ek nie immuniteit gekry het toe ek die virus gehad het nie, gaan ‘n entstof my mos ook nie beskerm nie.

JohanR ·

Jy kan maar net vir die ou lag! Dink nie enigeiemand in die land luister meer na jou nie Ramaparra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.