Ramaphosa ‘vaag, ontwykend’ oor hulp aan boere

(Argieffoto: Chris van Beljon)

Vrae van die VF Plus aan pres. Cyril Ramaphosa oor daadwerklike en onmiddellike hulp aan boere, soos tariefbeskerming, het ʼn vae en ontwykende antwoord ontlok wat geen vertroue inboesem oor die regering se begrip vir die erns van die krisis waarin landbouers verkeer nie.

Dít volgens Wouter Wessels, die VF Plus se woordvoerder oor finansies, wat gesê het die party het dié vraag gevra aan die hand van die ekonomiese groeiplan van die minister van finansies, Tito Mboweni, waarin die landbousektor geïdentifiseer word as ʼn prioriteit vir arbeidintensiewe ekonomiese groei.

“Die vraag aan die president was of hy te midde van die heersende droogte, hoë insetkoste en die toenemende werklikheid van bankrotskap onder kommersiële boere, tariefbeskerming sal oorweeg as daadwerklike hulp om landbou te ondersteun. Die tyd het aangebreek vir ʼn mate van tariefbeskerming op sekere ingevoerde landbouprodukte,” het Wessels gesê.

“Die president het ontwykend geantwoord en slegs gesê die regering beskou kommersiële landbou as belangrik en dat die departement van landbou ondersteuning en hulp aan boere om die droogte te oorkom moet hanteer en prioritiseer.”

Wessels het gesê dit lyk of daar tussen die regerende alliansie nog gestry word oor die veelbesproke ekonomiese herstelplan. Hy waarsku dat daar nie veel van die landbousektor gaan oorbly as dié stryery langer voortduur nie.

Die VF Plus sê hulp aan boere bly agterweë weens administratiewe rompslomp. In sommige gevalle het boere wat aansoek gedoen het, ná vyf jaar steeds nie droogtehulp gekry nie.

“Die VF Plus besef die noodsaaklikheid van tydige ingryping en hulpverlening in knellende droogtetoestande om te verhinder dat rampsituasies in gebiede ontstaan wat deur tydige hulp en voorsorg wel bestuur kan word sonder om produksie totaal verlore te laat gaan,” het Wessels gesê.

Die party het verlede week ʼn mosie ingedien waarin gevra word dat die regering erken dat die huidige stelsel van rampbestuur in droogtegebiede ondoeltreffend is. Hy vra dat die saak na die portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, asook dié van samewerkende regering en tradisionele sake verwys word, sodat die bestaande rampbestuursmodel hersien kan word.

Wessels het gesê die regering moet dringend begin om die sektor sonder versuim te help.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Ons regering sal vir ons wit boere niks doen nie,so ook die banke.Hulle sal eerder jou grond vat en laat totniet gaan.Voor hier nie hongersnood is nie sal ons boere minderwaardig geag word.

Foxi

Nee, hulp sal hulle nie NOU kry nie, miskien volgende jaar. Bonusse moet nou eers uitbetaal word, kersgeskenke is baie duur.

Feite

Ek wonder wanneer gaan die VF die kloutjie by die oor kry aangaande die ANC en CR se ideologiese rasgebaseerde strategie (reversed apartheid) mbt wit boere. Daar kan tog teen hierdie tyd geen twyfel meer bestaan nie dat die ANC die wit boere net so erg haat, indien nie erger nie, as JM. Dit beteken dat wit boere bitter min staatshulp kan verwag. Die staat is geduldig en vertraag rampbestuur en hulp doelbewus sodat misdaad, droogte en finansiele skuld die wit boere uitmergel met die hoop dat daar bitter min weerstand sal wees teen die tyd dat OSV geimplementeer word.… Lees meer »

Al Tirah

“Boiling the frog” stel nie daarin belang om die boere te help nie. Dit wat hy/anc nou doen is deel van sy/hulle meesters plan om ons te verwoes. Binnekort sal daar baie eiendom beskikbaar wees van die mense wat moes tou opgooi. Die regering is besig met n strategie om ons te verwoes…

Anoniem

Duidelike bewys oor hoe hy teenoor ons Boere voel. Hoekom sal die regering hulle nou help en môre hul plase sonder vergoeding onteien? Ons moet tussen die lyne lees mense, die regering sit geduldig en wag.