Ramaphosa veilig in Oekraïne ondanks drama op Poolse lughawe

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag veilig in Kiëf vir die Afrika-vredesending aangekom. (Foto: Skermskoot / Twitter / Presidency South Africa)

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag veilig in Kiëf in Oekraïne vir die Afrika-vredesending aangekom, ondanks ʼn hele paar haakplekke op pad na dié oorloggeteisterde land.

Daar was Woensdag en Donderdag groot drama op ʼn Poolse lughawe in Warschau waar bykomende veiligheids- en ondersteuningspersoneel sowel as joernaliste vir ure weens drama oor onder meer vuurwapenpermitte gestrand was.

Die vliegtuig het intussen die groen lig gekry om verder te vertrek, berig News24. Hulle het egter nog steeds nie by Ramaphosa aangesluit nie.

Vincent Magwenya, Ramaphosa se woordvoerder, het op Twitter bevestig dat die onaangename voorval nie die president se veiligheid bedreig het nie, en dat hy deur sy lyfwagte in Oekraïne beskerm word.

Die drama het begin toe Poolse amptenare geweier het dat die president se beskermingseenheid wapens in hul land inbring. Hoewel die Suid-Afrikaanse span daarop aangedring het dat hulle die regte dokumentasie het, wou amptenare glo ook hul vuurwapens afvat.

Die span, sowel as ʼn klomp joernaliste, was gevolglik vir ongeveer tien uur op ʼn vliegtuig op die Warschau-lughawe in Pole gestrand.

Genl.maj. Wally Rhoode, hoof van Ramaphosa se beskermingseenheid, het in ʼn video op sosiale media uitgevaar en Poolse amptenare daarvan beskuldig dat hulle “rassisties” is en Suid-Afrika “saboteer” deur te weier dat personeel en joernaliste hul toerusting van die vliegtuig aflaai.

????RAMAPHOSA’S LIFE AT RISK???? Head of the Presidential Protection Services Wally Rhoode, briefs the media meant to cover President Cyril Ramaphosa on the #AfricanPeaceInitiative about the delays and challenges encountered in Poland. “They want to put the security of our President at risk” #RoadToPeace

Posted by Central News on Thursday, June 15, 2023

 

“Hulle sê ons het nie permitte nie, ons het permitte. Die verskil is, hulle sê ons moet die oorspronklike permitte hê en nie afskrifte nie. Sommiges van ons het ons oorspronklike permitte, ander het afskrifte. Die ambassade hier het permitte uitgedruk – hulle het nie gedink dis nodig vir oorspronklike permitte nie. Nou is dit skielik,” het Rhoode laat Donderdag op die lughawe gesê.

“Hulle vertraag ons, hulle plaas die veiligheid van ons president in gedrang. Ons kon al vanmiddag (Donderdag) in Kiëf gewees het.”

Magwenya het die “kommerwekkende voorval” betreur en sê Suid-Afrikaanse owerhede is met hul Poolse eweknieë in kontak om die situasie uit te klaar, sodat die beskermingspanne en lede van die media by die ander Afrika-leiers kan aansluit en “minstens by die Rusland-been” van die vredesending teenwoordig kan wees.

“Ons is diep ontsteld deur die ervaring wat hulle moes verduur.”

Ramaphosa en die Afrika-staatshoofde het Vrydagoggend per trein in Kiëf aangekom waar hulle met Oekraïne se pres. Wolodimir Zelenski as deel van die vredesending sal vergader.

Dié staatshoofde sal Saterdag in St. Petersburg met pres. Wladimir Poetin van Rusland vergader.

Die afvaardiging van Afrika hoop om as bemiddelaar tussen Oekraïne en Rusland op te tree en sluit leiers van Suid-Afrika, Senegal, die Comores en Egipte in.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.