Ramaphosa verdedig besluit oor staatsdienssalarisse

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer sy begrotingsrede in die parlement. (Foto: GCIS)

Suid-Afrika bestee veel meer as wat ons verdien, skryf pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief. “Gevolglik leen die land al meer geld en die koste om hierdie lenings te delg, neem toe. Dit is nie volhoubaar nie.”

Die president sê die begrotingsrede verlede week deur Tito Mboweni, minister van finansies, was ʼn ontnugterende ontleding van die land se ekonomie. “Die syfers sê die duidelik: As ons nie nou iets doen om die skip om te draai nie, gaan daar selfs moeiliker tye vir ons voorlê.” Dit is waarom dit nodig is om die salarisrekening van staatsdiensamptenare te besnoei, voer Ramaphosa aan.

Volgens Ramaphosa het verskeie faktore die ekonomie gebring waar dit nou is. “Ons ekonomie het nie veel gegroei die afgelope dekade nie, grotendeels weens die wêreldwye ekonomiese krisis in 2008 en die gevolglike afname in die vraag na minerale wat ons uitvoer. Terselfdertyd het staatskaping en korrupsie die regering, bedryfsdoeltreffendheid en finansiële volhoubaarheid by verskeie openbare instellings, insluitend staatsentiteite, gekniehalter.”

Hy sê pogings om die ekonomie te laat herlewe en instellings te herbou word nou ondermyn deur die elektrisiteitskrisis, wat groei verder inperk en ʼn bykomende las op openbare finansies plaas.

“Ons prioriteite met hierdie begroting is dus om die ekonomie weer te laat groei, besteding in die openbare sfeer in te perk en skuld te stabiliseer,” sê Ramaphosa.

Cosatu se hoofkantoor in Johannesburg. (Foto: Twitter)

Hy noem weer dat ʼn groot gedeelte van die besparings afkomstig sal wees van ʼn afname in die koers waarteen die salarisrekening van staatsamptenare toeneem. “Dit sal gefokusde gesprekke met ons maatskaplike vennote, maar veral vakbonde in die openbare sektor, noodsaak. Ek is tevrede dat alle partye bereid is om in ernstige onderhandelings betrokke te raak om ʼn oplossing vir hierdie probleem te vind,” sê Ramaphosa. Verskeie vakbonde het reeds sedert die begrotingsrede hul ontevredenheid met die besluit rondom die salarisrekening, uitgespreek.

Ramaphosa het beklemtoon dat die regering nie die grootte van die staatsdiens drasties wil sny nie, maar die koers waarteen salarisse groei, wil bekyk. “Jare lank al groei die salarisrekening van staatsdienswerkers met baie meer as inflasie en ons sal aandag daaraan moet  gee as ons die staat se finansies onder beheer wil kry.”

Volgens Ramaphosa word die meeste geld bestee aan vergoeding van werknemers en gevolglik word minder geld bestee aan dienslewering en kapitaalprojekte. “Die salarisrekening van staatsdienswerkers is ook nie die enigste gebied waarop ons sny nie. Ek het besluit daar sal vanjaar geen verhoging in die salarisse van senior openbare ampsdraers wees nie,” sê hy. “Ons sal ook sekermaak dat geld nie verlore gaan weens korrupsie of wanbesteding nie.

“Ons moet nou realisties wees, nie dogmaties nie en saamwerk, eerder as om met mekaar te stry. Opofferings moet gemaak word. Ons is saam in hierdie ding,” sluit Ramaphosa af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

SomeOne ·

wow, het jy darem die lig gesien doer ver in die tonnel, al was dit net n vuurvliegie wat daar is
maar soos in soveel gevalle gaan daar weer toegegee word aan al die eise wat gevra gaan word

Erik ·

Ek het maar gemengde gevoelens hieroor. Ek voel sny eerder aan daardie staatsamptenare se salarisse wat belaglike hoë salarisse ontvang(die met die duur karre wat hul sukkel om te bestuur), maar dit nie altyd verdien nie… Los die onderwysers en verpleegsters se salarisse uit! Dis nie hulle skuld dat die regering nie hul skuld kan beheer nie, maar hulle word nou ‘gestraf’ en moet saamwerk? Ons regering se denkwyses maak my meestal siek!

Nette ·

Staatskaping…presies net wat dit is. Het al die mense in die staatsdiens hulle hande vuil gemaak? Definitief nie. Hoeveel van die wat wel ons land bankrot gemaak het is al agter tralies? Niemand! Ek stel voor begin daar.

Johan Venter ·

Dankie vir die lesing Cyril, dankie dat jy jou nuutgevonde kennis met ons leke deel. Dankie dat jy uiteindelik die wiel herontwerp het … ons luister ….

Johan Venter ·

Natuurlik het Cyril net soos hy altyd doen in die algemeen gepraat en nooit verduidelik hoe hy presies by die antwoord van sy som uitkom om oor drie jaar ‘n besparing van R160 miljard te toon nie. As hy dit nou verder in syfers kon afbreek sou mens dit nogal waardeer het. In effek is ons nog glad nie wyser nie.

Maar kom ons kyk nou wat die ekonome se reaksie binne ‘n dag of so sal wees wat hulle van Cyril se verduideliking dink.

Aai ·

Watse jaar ookal bit beter sal gaan sal hulle net weer hulle vriende en familie in posisies druk.

Jannie van Niekerk ·

Geagte mnr Ramaphosa, Dit is nie die staasmaptenare wat te veel salarisse kry nie, dit is die LP’s en tradisionele leiers. Moenie aan die polisie, ondewys, gesondheidsdienste of korrekteiwe dienste se salarisse raak nie. Besnoei eerder LP’s se salarisse met 95% en hulle byvoordel met 100%. Julle sal dan nogsteeds genoeg inkomste oorhou om baie luuks te kan leef. Besnoei Tradisionele leiers se inkomste met 100%. Hulle dra niks tot die landsbestuur of ekonomie by nie en word dus salarisse en byvoordele betaal sonder om enige werk te verrig.

Werner ·

Die probleem is dat die ouens nie realisties kan wees nie so hier kom n rowwe rit

Nie Verbaas ·

Almal is al jare lank bewus van opgeblaaste salarisse van baie staatsdiens amptenare maar niks was daaraan gedoen nie. Ongekukkig sal hulle nog moet sny aan die hoeveelheid amptenare ook.

Snowball ·

Hou sommer ook op om toelaes te betaal vir kamtige ‘konings ‘ en hulle uitgebreide families. Belaglike omkoopstelsel.

Spiekeries ·

Ja meneer die president, wie moet aanspreeklikheid aanvaar vir die onverantwoordelike groei in die amptenare se salarisse?? So is die staatskoffers ook leeg gemelk!

Belinda ·

As dit jou visie is en jy dit volhou Mnr die President, dan is jy op die regte pad en sal jy jou sukses sien!!! Jy kan ‘n land red, sny onnodige koste en onnodige salarisse, slap vliee wat net hang om kantore vol te kry. Die privaat sektor kan al vir 3-4 jaar nie verhogings betaal nie oor die slegte ekonomiese toestand.

Gato ·

Cyril moet dalk begin deur die vakbonde duidelik te laat verstaan dat hulle nie die land regeer nie en nie moet inmeng en allerhande eise stel nie. Die Eskom en SAL planne is ook onder druk omdat die vakbonde dit wil kelder.
Vat vir ‘n slag verantwoordelikheid en bestuur die land soos ‘n regte regering dit behoort te doen. Die ANC wag altyd totdat alles verval het of ‘n helse krisis ontstaan het soos Eskom dan will hulle groot planne in plek sit. Dit is te laat en te min mnr die President.

Maria ·

Die brutaliteit waarmee gewone belastingbetalers gelouter word is sy grootste fout. As hy hand in eie sak steek, in die spieel kyk, sal hy iemand sien wat fabelagtig ryk geword het uit ‘n korrupte stelsel van swart bemagtiging wat net hom en sy vriende bevoordeel het

Anoniem ·

Uit die spreekwoordelike perd se bek. Die staat se salarisse groei teen ‘n hoër % as die inflasiekoers, terwyl die privaatsektor wat die staat van geld voorsien moet sukkel om kop bo water te hou en nie verhogings of bonusse kan betaal nie. Hoe regverdig jy dit? Die unies dreig die heeltyd om te staak, terwyl etlike duisende van hulle dansende lede nie eers naastenby hulle salarisse verdien nie. Daar is egter ook gevalle waar hardwerkende staatsdiens amptenare vir etlike jare op dieselfde salarisskaal sit, in bestuurs poste geplaas is en nie naastenby vergoed word vir die werk wat hulle verrig nie. Ek ken baie van hulle wat vir 35-40 jaar in die staatsdiens gewerk het, maar wat op ‘n karrige pensioen gaan aftree.

Jacobus ·

Rein gedagte Cyril. Tot Cosatu en die ander unies aanhou om te dink die stert swaai die hond moet jy maar dit saam met jou trein en Wakanda moet “file” saam met die ander beloftes.
Onthou ‘n slag wie die hond dik voer!

Johan Venter ·

Ek sal graag Cyril se wiskundige berekeninge wil sien van presies hoe hy by die antwoord uitgekom het.

Johan Venter ·

Terloops, Cyril bak blatant kluitjies hier bo in die derde paragraaf, ekonome het voorheen al gesê daardie bewering van hom, wat hy al dikwels in die verlede opgehaal het, is onwaar en het uitgewys dat die grootste oorsaak by verre die ANC se ekonomiese en ideologiese beleid is wat die land se groei in die grond in geboor het.

Tienie ·

Job’s for all…

House’s for all…

Wat het nou daarvan geword.

Na die ANC oorgevat het by de Klerk was dit die vinnigste waar hulle werk kon gee.

CR die vader van stakings in hierdie land gedurende die 1980’s as my geheue my nie in die steek laat nie…..

Simon ·

Let wel wat die narre se: “dat die regering nie die grootte van die staatsdiens drasties wil sny nie, maar die koers waarteen salarisse groei, wil bekyk. ” In die vorige Regering is die salarisrekening tot net 20% van ‘n departement se totale toekenning uit die begroting beperk. Buig of bars elke liewe pos was gemotiveer en daar was nie sprake van oortollige personeel nie. Die persentasie van die huidige salarisrekening staan nou op tussen 40 to 60 % in die meerderheid departemente. Die rede vir die hoe salaris rekening is dus nie net uitermatig hoe salarisse nie, maar ook hopeloos teveel personeel wat heeldag sit en niks doen omrede daar nie werk vir almal van hulle is nie. Dus, Ramaphosa en Mboweni , is maar net met truuks besig onder andere om die werkloosheid syfer nie skade te doen nie. Demmit man! Het julle murg in julle pype?! HOU die wat werklik nodig is en iets beteken, en FIRE DIE RES!

Johan Venter ·

Kyk, Cyril is werklik vol wyshede soos hy hier bo sê die rede waarom Suid-Afrika nie groei nie, is nog steeds weens die wêreldwye ekonomiese krisis in 2008.

EO ·

Almal in hoë posisies kry miljoene per jaar. Die wat wel die werk doen se salarisse moet eerder aangepas word. Dan sal daar meer dinge gebeur. Hulle sal dan nie so traag wees om mens te help n ie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.