Ramaphosa verdedig Gordhan, swyg oor OB se bevindings

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan,saam met adjunkpres. David Mabuza voor die debat. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in die bresse getree vir die beleërde minister van openbare ondernemings, maar gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die bevindings wat Openbare Beskermer (OB) Busisiwe Mkhwebane teen Pravin Gordhan gemaak het nie.

Ramaphosa het gesê Gordhan het ʼn belangrike rol gespeel in die bevryding van Suid-Afrika en dat hy hom in ʼn belangrike portefeulje aangestel het weens sy bewese rekord.

“Hy het groot druk verduur en weerstaan onder die apartheidsregering én in die demokratiese bestel,” het die president gesê in reaksie op die parlementêre debat oor die presidensie se begroting.

Hy het EFF-leier Julius Malema direk toegespreek en gesê hy kan nie voldoen aan enige politieke oproep om in die openbaar te reageer op die OB se negatiewe bevindings teen Gordhan nie.

“As minister Gordhan of enige lid van hierdie administrasie enige antwoorde op iets moet verskaf, moet hulle verantwoordbaar gehou word. Ek gaan aan hom sê om sy saak in die hof te stel. Maar daardie bevinding moet deur die geskikte regterlike instelling gemaak word,” het Ramaphosa gesê.

Sy reaksie kom nadat Malema gesê het Gordhan moet as minister opsy staan tot sy naam in ere herstel is.

Gordhan het reeds ʼn aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin hy vra dat die inwerkingstelling van remediërende optrede, soos aanbeveel deur die OB, ter syde gestel word hangende die uitkoms van ʼn hersieningsaansoek oor die verslag.

Mkhwebane het bevind dat Gordhan onregmatig die vroeë pensioenuitbetaling van die voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Ivan Pillay, goedgekeur het. Pillay is daarna op ʼn kontrakbasis aangestel.

Mkhwebane het die president beveel om binne 30 dae ʼn plan voor te lê waarin die tugstappe wat hy teen Gordhan beplan, uiteengesit word, asook dat die tugstappe binne 30 dae toegepas moet word.

Ramaphosa het hofstukke ter ondersteuning van Gordhan se saak ingedien en daarin gesê hy glo die minister het ʼn bona fide-saak en dat hy die OB se opdragte aan hom onsamehangend vind.

In ʼn afsonderlike verslag het Mkhwebane bevind die minister is skuldig aan wanbestuur vir sy goedkeuring van die stigting van ʼn geheime intelligensie-eenheid in die inkomstediens.

Die omstredenheid daaroor duur nou al sowat ʼn dekade lank en die eenheid is as onwettig beskryf, hoewel Gordhan volhou dit was wettig saamgestel en dat hy deur verskeie formele ondersoeke daarna reg bewys is.

Die EFF het nogtans ʼn klagte by die OB teen Gordhan aanhangig gemaak.

In sy hofstukke voer Gordhan aan dit is deel van ʼn politieke veldtog teen hom, asook teen diegene wat korrupsie probeer uitwis.

Ramaphosa het gevra dat staatswetstoepassingsinstellings toegelaat word om hulle werk onafhanklik en onpartydig te doen.

“Ons moet hulle die ruimte en hulpbronne gee om hulle werk te doen,” het hy aan die nasionale vergadering gesê.

“Die presidensie kan op geen manier inmeng in die manier waarop dié instellings hulle werk doen nie.”

Hy het politieke partye en Suid-Afrikaners gevra om die werk van die Zondo-kommissie te ondersteun en weer bevestig dat hy bereid is om sélf voor die kommissie, wat staatskaping ondersoek, te verskyn.

“Ek is gereed om voor die Zondo-kommissie te getuig. Almal is gelyk voor die reg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andreas ·

Hier is ‘n juweeltjie oor Julius soos per The Citizen van 18 Julie 2019. Gungubele sê in die parlement om met Malema te debatteer is ‘n mors van tyd:

The African National Congress (ANC) MP accused Malema of leading a cult, with EFF members singing their leader’s song, dancing to his dance, jiving to his jive, walking his walk and even attending “the party you attend”.

“That’s why they call one of your guys the ‘Ice Boy’ because they carry water for you,” Gungubele said in reference to the EFF’s national spokesperson Mbuyiseni Ndlozi.

Andreas ·

Nou waarom antwoord Ramaphosa nie ook direk vir Dr Groenewald oor die boere nie? Hy swyg net elke keer as Dr Groenewald hom aanspreek omdat hy weier om hom oor die moorde op plaasboere uit te laat!

John ·

Dit is duidelik dat die ANC voldoen aan die term, terroriste. Die chaotiese politieke koòperasie van die verwarde NP-ooms voor 1994 met die groep insypelaars en daarna met die vuis-in-die-lug-liefdevolle-Mandela tot vandag met Zuma wat briesend, deliries en paranoìes spoke sien en nou die vrolike CR met sy ontplooiing van die Weermag in die DA-Kaapland… met die polisie lam-gearm. Die ANC is ‘n ou vrot bende wat almal iets teen almal het en sorg dat niemand tog meer buit uitgedeel word as vir homself nie.

Johann Smitb ·

Ek dink dit is niks minder as reg dat Gordhan moet sê wat regverdig ‘n groog pensioen betaling vif aftrede van een van sy landgenote en homdan weer aanstel as ‘n konsultant. Dit lyk kompleet of hy hom net finansieel wou bevoordeel

l

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.