Ramaphosa verduidelik oor Zuma se regskostes

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag gesê die rasionaal agter die staat se instemming om voormalige pres. Jacob Zuma se regskoste te dek, was omdat die beweerde misdade plaasgevind het terwyl Zuma ʼn staatsamptenaar was.

Ramaphosa het ʼn verklaring uitgereik in reaksie op vrae wat verlede week deur EFF-leier Julius Malema gestel is oor op watter wetlike bepaling die staat gesteun het toe daar besluit is om Zuma se persoonlike regskostes te betaal in sy lang stryd om te verhoed dat korrupsie-aanklagte weer teen hom ingestel word.

In ʼn geskrewe antwoord aan Malema het Ramaphosa gesê: “Ek is ingelig dat die staatsprokureur, ten tyde van die oorweging van die versoek van pres. Zuma dat regsverteenwoordiging deur die staat betaal word, staatgemaak het op artikel 3(3) van die Staatprokureurwet van 1957 om haar diskresie te lei in ʼn saak waar die staat nie ʼn party was nie, maar belanggestel het of betrokke was, of dit in openbare belang was om sulke verteenwoordiging aan ʼn staatsamptenaar te verskaf.”

Hy het beklemtoon dat Zuma van kriminele oortredings beskuldig is gedurende sy termyne as ʼn regeringswerknemer op provinsiale en later op nasionale vlak.

Volgens Ramaphosa het die departement van justisie artikel 12.2.2. van die Tesourie-regulasies oorweeg, en bepaal daar sal ʼn verpligting wees om die staat terug te betaal indien daar enige verlies ontstaan weens ʼn beampte wat buite die verloop en omvang van sy indiensneming opgetree het.

“Dit is om hierdie rede dat die staatsprokureur dit gepas geag het om die versoek van die voormalige president toe te staan, onderhewig aan die voorwaarde dat hy onderneem (en hy het) om die staat terug te betaal indien daar bevind word dat hy in sy persoonlike hoedanigheid en in sy eie belang opgetree het in die uitvoering van die beweerde oortredings.”

Ramaphosa is verlede week in die nasionale vergadering gepeper met vrae oor die las van Zuma se regskostes op die land.

Hy het bevestig dat Zuma R15,3 miljoen bestee het om die DA se aansoek teen te staan om ʼn 2009-beslissing dat hy nié vervolg moet word nie te laat omkeer.

Malema beweer die ware bedrag was meer as R64 miljoen, maar Ramaphosa sê hy dra geen kennis van dié bedrag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

tamboti ·

Ek se jou wat pres. CR, hoekom verduidelik jy nie eerder hoekom die ANC (aka African National Corruption) nie self die reeds vermorsde regskoste, alle toekomstige regskoste en die volle skade wat JZ die land van SA aangebring het, gaan terugbetaal nie?
Jy, julle ANC en meerderheid parlementslede, het hom ten spyte van sy “”vermeende” misdade, as president op ons geforseer, hom vrye teuels gegee en hoeveel jaar geneem om hom uit die presidentskap te kry (mooi gevra om te bedank!)
Jy, julle die ANC is verantwoordelik en moet die kostes dra! Julle kan hom, sy 5 vrouens en x’se, bywywe en nyatsis, plus 20 -30 kinders en wie weet hoeveel nog, onderhou en pensioen betaal.

Pieter ·

Zuma , malema , ramaposa voëls van enerste vere ons sal moet loop hier is nie meer plek vir n witmens in sa nie en ons is nie deel van bee opertunis se “our people nie”

HPV ·

Daar is nie salf aan die mense te smeer nie! Die een erger as die ander!

Oom Kalahari ·

Die belasting betaler werk net vir ‘n korrupte regering wat geld op elke vlak verduister. Dit is tyd vir: ” Pak jou goed en trek Ferreira”

Lolla ·

Skuldig gaan Zuma beslis wees. Berge bewyse wag vir hom in die hof. Dan sal hy die regskostes moet opdok. Want dis die wet wat Cyril hier aanhaal. Wat deur die vorigge oranje blanje blou ouens geskryf was. Snaaks dat hulle daardie wet nog nie wou verander nie ne?!

Jannie ·

Skuldig of onskuldig daar sal nie ń sent van hom verhaal word nie.

Beter ·

Dit sal beter/ goedkoper wees om nie te vervolg. Al is hy skuldig sal nie n sent terugkom, verder sal hy jammer gekry word en n verskoning uitgedink word om nie tronk toe te gaan nie. Ek sien al die fat cats wat oes in belasting geld. Spaar liewer daai geld, hy moet eendag dalk binnekort voor die Vader rekenskap gee & daar is geen staatsgeld, tydspeel of leuens e!

Martin ·

En daar gaan die gravy trein al weer, die hele ANC is korrup van bo tot onder. Die saak gaan nou uitgerek word (Zuma se ou trick wat ander al aangeleer het) tot in der ewigheid in sodat daar geskep kan word uit die sogenaamde money pit.

johann ·

Zuma het ook n eed afgele waarin hy se hy sal die land lei ens……hy het nie. hy was korrup tydens sy termyne.

Paul ·

Maar dan is dit mos nou reg dat die DA julle in hierdie dae hof toe vat oor jul interpretasie van die wet.

Gestremde ·

Mnr. Ramphosa almal is nie so dom as wat jy dink nie. Ek is nie ‘n regkenner of spesialis nie maar sover ek verstaan kan Staatsprokureurs aangewend word wanneer ‘n amptenaar hom binne die werksgebied skuldig maak aan ‘n beweerde ootreding en die Departement die Saak wil verdedig. (Byvoorbeeld bewering waar Bewaarder die Oortreder aanrand en ‘n Staatsprokureur gebruik word om saak te verteenwoordig). In private hoedanigheid is elke individu ook beperk tot ‘n sekere bedrag dekking deur ‘n Staatsprokureur as die persoon nie in die finansiële posisie is om sy eie regsverteenwoordiger te betaal nie. In die geval van Mnr Zuma is die kriminele klagtes persoonlik van aard en verder kan daar nie op ‘n enkele individu die miljoene bedrag gespandeer word nie. As die president van die land sulke gedrag regverdeig dan weet ‘n mens daar is iets groot fout en lyk dit eerder na nog ‘n kader aanstelling om die beeld van die ANC te probeer bevorder deur die een kader met ‘n ander kader aan te stel wat net ‘n bietjie beter voorkom. Wie het al die moeite gedoen om ons eie Mnr. Ramaphosa en sy familie te gaan “audit” nadat ek verstaan dat van hulle miljoeners en triljoeners is?

christa ·

die ANC bly maar skelm. Hoe ook al hulle skuiwe maak, maar inpalm sal hy aanhou inpalm. CR help ook nog vir sy voorganger al skrum hy weg van die ontkenning

Wonder maar net ·

Hoekom hom vervolg en geld aan regskostes spandeer?. Hy gaan in elk geval vrygespreek word. Spaar die belastingbetalers die onregverdige uitgawe om korrupsie verder te bemagtig. Die regering beskou dit reeds dat bedrog en korrupsie en selfverryking deel van bestuur styl is.

Henk ·

duidelik dieselfde boek, net ‘n ander voorblad. korrupsie en die anc is een!!!!

A. De Jager ·

Daar is net een ding gevaarliker as ‘n adder…dit is ‘n uitgeslape een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.