Ramaphosa veroordeel staatskaping, korrupsie

Cyril Ramaphosa, president van die ANC tydens die feesvieringe in Oos-Londen (13 Januarie 2018) Foto: MyANC, Twitter)

Cyril Ramaphosa, president van die ANC, het Saterdag streng optrede beloof teen diegene wat verantwoordelik is vir korrupsie en staatskaping en het onderneem om eenheid in die ANC en in die land te bewerkstellig.

Ramaphosa het tydens die ANC se jaarlikse 8 Januarie-verklaring by die party se 106de verjaarsdag by Buffalo City-stadion in Oos-Londen, waar pres. Jacob Zuma deur ʼn groot deel van die skare uitgejou is, die aanstelling van die kommissie van ondersoek om staatskaping te ondersoek, verwelkom.

Korrupsie in staatsbeheerde ondernemings het die regering se programme, om armoede en werkloosheid aan te spreek, ondermyn, het hy aan die duisende ondersteuners gesê.

Korrupsie het sleutelinstansies verswak, ontmoedig belegging, en dra by tot verdeling binne die ANC en sy alliansievennote. Teenkorrupsiepogings sal meer doeltreffend gekoördineer word en alle vorme van korrupsie sal aan die lig gebring word en die skuldige partye sal vervolg word. “Dit sluit korrupsie, samespanning en ander kriminele aktiwiteit in die privaat sektor in, wat met dieselfde ywer en vasberadenheid beveg moet word.”

ʼn Topprioriteit is om diegene te vervolg wat verantwoordelik is vir staatskaping. “Ons sal korrupsie en staatskaping in alle vorme aanspreek. Dit sluit in die onmiddellike aanstelling van ʼn kommissie van ondersoek oor staatskaping. Die ondersoek en vervolging van diegene wat verantwoordelik is, sal die hoogste prioriteit geniet,” het hy bygevoeg. Die ANC sal ook enige lid, wat die party in die “jaar van hernuwing” wil verdeel, aanspreeklik hou.

Die ANC se nuwe nasionale leierskap het ʼn duidelike mandaat om die party, die alliansie en die mense van Suid-Afrika te verenig. “Die ANC se 54ste nasionale konferensie, wat in Desember 2017 in Johannesburg vergader het, het erken dat die beweging verdeel is weens faksies, korrupsie en mededinging om hulpbronne.”

Strukture is verswak en die mense het vertroue verloor in die ANC. “Die afstand tussen verkose leiers en die kieserskorps het ook die band tussen die ANC en die mense beskadig. Ons sal uitreik na ons mense deur die verskeie strukture, van sportliggame tot handelskamers, gemeenskapsorganisasies en geloofsgroepe. Ons sal na die veterane van die beweging uitreik om seker te maak dat hulle ook ʼn betekenisvolle rol speel in die opbou van die ANC en om die waardes te herstel. Ons sal seker maak dat die ANC versterk word as die voorloper in die proses van maatskaplike transformasie.”

Die ANC sal ook sy fokus hernu op voormalige pres. Nelson Mandela se visie van ʼn nierassige samelewing waar die maatskaplike en ekonomiese grense, wat wit en swart Suid-Afrikaners geskei het, afgebreek word en om ʼn samelewing te bou waar swart armoede en wit bevoorregting iets van die verlede word, en dit vervang word deur respek, solidariteit en nierassige-gelykheid.

“Ons sal Madiba se visie aanwakker van ʼn demokratiese samelewing waar alle burgers gelyke geleenthede het om hul eie lot te bepaal. Ons sal dit bereik deur die verstewiging van verteenwoordigende en deelnemende demokrasie, en om seker te maak dat mense ekonomiese geleenthede het met die vermoë om keuses te maak oor hul eie lewens.”

Gratis onderwys

Oor Zuma se skielike aankondiging net voor die ANC-konferensie in Desember oor gratis tersiêre onderrig, het Ramaphosa gesê dit is noodsaaklik om toegang tot ekonomiese geleenthede uit te brei vir Suid-Afrikaners uit arm en werkersklas huishoudings wie se jaarlikse inkomste minder is as R350 000 per jaar. “Dit sal gedoen word deur volledige beurse vir opleiding en studiemateriaal vir kwalifiserende Suid-Afrikaanse studente by openbare tegniese en beroepsgerigte opleidingskolleges (TVET) en universiteite met gesubsidieerde behuising of vervoer, beperk tot ʼn spesifieke vlak vir diegene wat kwalifiseer, en dit begin met eerstejaarstudente in 2018.”

Bestaande NSFAS-studente (nasionale finansiële hulpskema vir studente) van 2018 en in die toekoms se lenings sal in volle beurse omskep word. Ramaphosa het nie besonderhede bekend gemaak oor gratis tersiêre onderrig of die implementering daarvan nie.

Grondonteiening sonder vergoeding

Oor die grondkwessie het Ramaphosa gesê die ANC bly verbind tot grondonteiening sonder vergoeding. “Ons sal dit op só manier doen dat dit voldoen aan die grondwetlike vereistes en ekonomiese ontwikkeling, landbouproduksie en voedselsekerheid bevorder. Ons sal ook terselfdertyd die enorme potensiaal van landbou nastreef om industrialisasie te bevorder, werk te skep en ons ekonomie te transformeer.”

Dit sal gedoen word deur die modernisering van landbouproduksie en om die vaardigheidspoel in die bedryf te ontwikkel, wat nie net voedselsekerheid sal verbeter nie, maar ook landbouprosessering en -insette sal ontwikkel, en uitvoere sal verhoog, wat ʼn beduidende impak sal hê op die volhoubaarheid van landelike gemeenskappe, het Ramaphosa bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Cherokee ·

Dat Ramaphosa die stoel met ± 200 stemme voor Zuma weggeraap het, is nie werklik ‘n yslike pluspunt nie. Dit is ook maar net-net miskien verkiesliker. Hy gaan net ‘n voortsetting wees van die huidige anc (an da) beleid. Ek lees die kommentators hier vir wie hy nie meer Ramaphosa is nie maar skielik Cyril geword het. Jul bewondering is misplaas.

Chaine ·

En wat van winkels wat af gebreek word en moored ? gaan dit ook ge stop word

Hanna ·

Gaan Cyril Ramaphosa die Kinder mishandeling en moord, Mense Handel, Plaas moorde, Verkragtings, Ontvoerings, Kapings, Brand stigting, Vee diefstal, Winkel plunder en ander belangrike sake wat die man, vrou, our van dae en kind op straat raak, aanspreek???
Korrupsie, staats Kapings, fonds misbruik, is goed en wel maar dis dit is van minder belang.
ONS LANDS BURGERS – ONS GEWONE MENSE HET HULP EN INGRYPING NODIG.

Hennie ·

Woorde wat opkom: Klinkende simbaal…leë blik…50cc schooter…blah blah blah plus belasting!

Jerry ·

Dit klink goed. Kom ons gee CR n kans voordat ons ons vooroordele uitspreek. Die man het gehuil toe sy naam aangekondig was as ANC president. Dit wys vir my hy het n sagte hart met goeie bedoelings en nie n hart van klip met slegte bedoelings soos Zupta. Hy was die een wat Mandela wou he moes hom opvolg. Die Afrikaners wat tydens die onderhandelinge met CR te doen gehad het, praat almal met die hoogste lof van hom. Afri-Forum en Solidariteit sal Afrikaner belange beter na omsien deur n hand van vriendskap na CR uit te reik.

Eish ·

Eish Jerry, in n Westerse beskawing waar Westerse waardes gegeld het, sou ek jou positiewe ingesteldheid kon deel. Ons kom egter al bykans n kwarteeu in die nuwe bedeling en ek betaal nog een strook aanmekaar die prys van gewese bevoorregting sonder dat daar n einde in sig is. Die Madiba visie is die enigste verwysing na ons as minderheidsgroep en wat hy te sê het daaroor, klink vir my alteveel na nog slae wat uitgedeel gaan word. As amptelike slaansak wat 23 jaar diens agter die blad het, weet ek van geen slaansakke ter wêreld wat gevorder het na boksers nie. Daar is geen land ter wêreld wat rasseintegrasie ooit suksesvol kon bestuur nie. Daar is geen minderheidsgroep ter wêreld wat ooit die kettings van meerderheidsoorheersing kon afskud nie.

Adam ·

Eish, jy som die situasie perfek op in die laaste twee sinne van jou kommemtaar. Dit sal ook nooit verander nie.

ferd ·

Dis net klomp gepraat en no hy glo hy het gewerk dis hul manier van werk om te praat en vergaderings te hou

Burger ·

Daar is geen veskil tussen Staatskaping en grondonteiening sonder vergoeding nie. Die staat word gekaap dan die land. Alles word herverdeel sonder enige teen prestasie. CR se welvaart is ook aan hom gegee, hy het nie daarvoor gewerk nie.

jaco ·

As die ANC in 1994 dadelik net toegepas het wat toegepas is in kommunistiese lande waar hulle in exile was, was ons vandag soos daardie lande, sonder:
-Plakkerskampe
-Reusagtige werkloosheid
-Swak staatshospitale
-Lae standaard onderwys
-perfekte spoorwegstelsel wat nou byna tot niet is
-Misdaad wat totaal onbeheerbaar is
-En ‘n hele rits ander goed
Ek bewonder nie kommunisme nie, maar selfs dit, saam met wegneem van vryheid van spraak en godsdiensvryheid, sou beter gewees het as SA se huidige gemors.
Al die nonsens wat die ANC-SAKP alliansie in SA veroorsaak het, sou nooit in bv. Oos-Duitsland, Hongarye, Pole en die Sowjet-Unie gebeur het nie.

Eddie ·

Ek dink Rampie sê net wat die mense dalk wil hoor ; dis dieselfde poeding net ‘n ander sous !

Jurie ·

Ek dink voordat julle sulke negatiewe kritiek lewer moet julle julself vergewis van die feite.CR verwys na die Grondwet,kyk asb na Art 25 daarvan.Hy gaan def nie al die probleme eensklaps oplos nie,maar dit is n begin.

Emiel ·

Ramaphosa, vertel ons liewer hoe jy jou miljoene bekom het. Staatskaping, korrupsie of beide?

Martin ·

Hy was deel van die staatskaping, nou is hy grootbek omdat hy die presidentskap in die oog het.

Jacques venter ·

Hallo Martin
As hy deel was van staatskaping, waarom laat hy dit dan ondetsoek?

Penellope Jones ·

Daar is nogal ‘n groot verskil tussen veroordeel en daadwerklik iets daaraan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.