Ramaphosa versoek om omstrede kopieregwet te onderteken

Argieffoto (Foto: Bookish Relish)

Siggestremdes in Suid-Afrika word ontneem van toegang tot miljoene publikasies, omdat die wysigingswet op kopiereg nog nie goedgekeur is nie.

Die regtegroep Blind SA het gesê data wys blinde mense het net toegang tot sowat 5% van alles wat wêreldwyd gepubliseer word.

Om dít te verander, is die Marrakesh-verdrag in 2013 aangeneem om verbeterde toegang tot gepubliseerde werk vir siggestremdes te verseker.

Amper ses jaar later het meer as 60 lande die verdrag bekragtig – waaronder ook nege Afrikalande – maar nié Suid-Afrika nie, het Christo de Klerk, voorsitter van Blind SA se braillekomitee gesê.

“Ons regering se standpunt is dat die kopieregwysigingswet eers onderteken moet word, alvorens die Marrakesh-verdrag bekragtig kan word,” het De Klerk in ʼn verklaring gesê.

“Ongelukkig word die proses al jare lank vertraag weens ʼn gekibbel oor die wet,” het hy gesê.

Die parlement het die wet onlangs goedgekeur, maar teenstanders daarvan het ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om dit nie te onderteken nie. Hulle voer aan dit gaan kunstenaars nie teen plagiaat beskerm nie en gaan tot uitbuiting lei.

De Klerk het gesê dié standpunt is ten beste ʼn misverstand oor die bepalings in die wet, maar waarskynlik eerder ʼn doelbewuste wanvertolking daarvan.

“Meneer, die president, moet asseblief nie langer die boekedroogte van jou lees-gestremde burgers laat voortduur nie,” het De Klerk gevra.

“Moet asseblief nie jou handtekening weerhou weens die verkeerde inligting wat versprei word deur diegene met finansiële motiewe, gegrond op korporatiewe hebsug, soos filmmakers, platemaatskappye en uitgewers nie.

“Pleks daarvan om kos uit die monde van skrywers, musikante, kunstenaars en akteurs te neem, sal die ondertekening van die wet verseker hulle kry dit wat hulle toekom,” het De Klerk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

Die probleem is dat die ‘agbare’ president self skyn blind te wees wat in SA aan’t gebeure is. My pa het altyd gesê dat jy maar iemand moet opgebruik soos wat hy/sy is. Dit daar gelos.

marous ·

Kan glad nie sien of aanvoel dat daar fout is nie . Teken en kry klaar !

Tertius ·

As dit verkeerd is om grond sonder vergoeding te ontein dan is dit ook verkeerd om kopie-
reg sonder sonder die regmatige vergoeding te vervreem. Dit is nie hebsug nie maar hulle
reg om vergoed te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.