Ramaphosa: ‘Virus ken geen grense’

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Afrika het wel swak gesondheidstelsels en miljoene inwoners wat in armoede leef, maar pres. Cyril Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die vasteland het ook die kennis om siekte-uitbrekings en pandemies te hanteer.

Ramaphosa het Vrydag telefonies met leiers van verskeie Afrikalande vergader oor maniere om die Covid-19-pandemie te stuit. Dr. John Nkengasong, direkteur van die Afrika- sentrums vir siektebeheer en -voorkoming, en dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het onder meer voorleggings oor die stand van die pandemie in Afrika en die res van die wêreld gedoen.

“Wat hulle gesê het, was uiters kommerwekkend. Dit het bevestig dat ons vinnig moet optree en buitengewone maatreëls moet instel,” het Ramaphosa gesê.

“Daar word algemeen aanvaar dat die virus, indien dit nie in bedwang gebring word nie, ʼn werklike en ernstige terugslag vir al ons lande kan beteken terwyl ons probeer om onder reeds moeilike omstandighede van armoede, ongelykheid en onderontwikkeling ontslae te raak.”

Taakspanne is vir elk van Afrika se vyf streke gevorm en dié spanne gaan siftingstoetse, opsporing en diagnose, infeksievoorkoming en -beheer asook die bestuur van pasiënte en gemeenskapskakeling hanteer.

‘n Gesondheidswerker in uMlazi doen siftingstoetse vir Covid-19. (Foto: Zanele Zulu/ANA)

Afrika steier egter onder ʼn ernstige tekort aan virustoetsstelle, medisyne, maskers en ander persoonlike beskermingstoerusting. Die vasteland werk nou saam met gesondheidsinstellings en ander wêreldleiers om te verseker voorraad bereik die vasteland, asook om plaaslike produksie daarvan ʼn hupstoot te gee.

Die Afrika-Unie het ʼn Covid-19-reaksiefonds op die been gebring en US$12 miljoen is reeds daartoe verbind. Finansiering vir die Afrika- sentrums vir siektebeheer, wat aan die voorpunt van Afrika se reaksie op die virus is, sal ʼn bykomende US$4,5 miljoen se finansiering kry.

Ramaphosa sê Afrika kan nie op sy eie reageer nie en gegewe die tol wat die pandemie reeds op Afrika-ekonomieë geëis het, gaan nog hulp van miljarde dollar benodig word.

Die president sê hoewel lande soos die VSA, Rusland, China en Kuba self sukkel om die pandemie te hanteer, bied hulle steeds hulp aan Suid-Afrika én Afrika.

“Die wêreldwye pandemie het die kwesbaarbaarheid van politieke, ekonomiese en maatskaplike stelsels wat net na binne fokus, aan die kaak gestel. Dit lei tot wat sommiges noem ʼn ‘nuwe, morele ekonomie’ wat om mense en hul welstand draai.”

Ramaphosa sê dit verander ook persepsies oor hoe ontwikkelende lande op nasionale krisisse reageer.

Hy sê as daar een ding is wat die afgelope drie maande oor die virus geleer is, is dat dit nie grense respekteer nie. Armoede, rykdom, nasionaliteit, ras of geslag beteken niks nie terwyl die getal infeksies in ontwikkelde én ontwikkelende lande toeneem.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Ongelykheis is heeltemal reg . Kyk hoeveel spog motors en paleise word daagliks aangeskaf met die geld wat veronderstel was om vir die mense ‘n ordentelike lewe te bied.

Boortor

Beste meneer president. Die geld van die buiteland gaan opdroog. Al gehoor van ” liefdadigheid begin by die huis”? Hulle gaan hulle eie ekonomie eers help en dan vir afrika n paar sente gee. Dit maak sin. Wat help dit hulle om miljoene dollars in n baie diep donker put te gooi wat rommel status het? Niks. Daar is geen wil in meeste Afrika lande om hulle dinge in orde te kry nie. Mooi karre, paleise vir huise en reuse salarisse is koning. Sterkte meneer president! U gaan dit verseker nodig he.

Kosie

Onnoselheid ook nie. Vernietig die hele ekonomie vir wat presies? Wiskunde modelle wat foutief is?

Ougrote

Nogal interessant om te sien die 1ste rangse lande het die meeste infeksies van Covid-19. Om in sulke massas in n klein “omgewing” te bly was en is nog nooit goed gewees nie.

daniel

Ek lees dat die Chinese toets toestelle vervaardig deur BIOEASY uiters onakkuraat is omtrent 70 % foutief.