Ramaphosa: Vlak 2 van afsonderingsperiode aangekondig

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Saterdagaand gesê die land skuif om middernag op 17 Augustus 2020 oor na vlak 2 van die afsonderingsregulasies.

Die president het gesê die land het goeie vordering gemaak in die stryd teen Covid-19. “Oor die afgelope drie weke het die getal nuwe gevalle gedaal van ʼn piek van meer as 12 000 per dag tot ʼn gemiddeld van ongeveer 5 000 nuwe gevalle per dag die afgelope week. Die herstelkoers het gestyg van 48% tydens my vorige toespraak tot die huidige 80%.”

Die getal Covid-19-gevalle wat tot dusver in die land aangemeld is, staan op 583 653, maar die getal aktiewe gevalle daal daagliks en staan tans op ongeveer 105 000.

“Dit wil voorkom of die virus in verskeie provinsies ʼn hoogtepunt bereik het, insluitend die Wes-Kaap, die Oos-Kaap, Gauteng en moontlik ook KwaZulu-Natal. Al hoe minder persone by ons gesondheidsfasiliteite toon simptome,” het hy gesê. “Daar is ook al hoe minder mense wat hospitalisasie vereis en die aanvraag na koronavirus-toetse het ook gedaal.”

Die getal pasiënte wat gehospitaliseer is, het afgeneem van 10 000 aan die begin van die maand tot ongeveer 4 000 pasiënte. “Dit is ʼn beduidende verligting in die druk op ons gesondheidsorgfasiliteite.”

Die dodetal staan op 11 667.

Die president het gesê alle tekens wys daarop dat die land waarskynlik die piek in die Covid-19-pandemie bereik het. “Alhoewel daar tekens van hoop is, moet ons op ons hoede bly. Soos wat ons die afsonderingsregulasies verslap, is daar nie ʼn daling in die risiko van oordrag nie. Trouens, die risiko van oordrag raak al hoe groter wanneer meer mense terugkeer werk toe, al hoe meer mense rondbeweeg en daar al hoe meer geleenthede is om met ander persone in aanraking te kom.” Hy het gesê indien die land nie waaksaam bly nie, kan daar maklik weer ʼn tweede golf van infeksies plaasvind – en moontlik erger as ooit vantevore. “Ons het gesien hoe dit in ander lande gebeur, waar streng maatreëls weer op kort kennisgewing ingestel moes word toe die infeksiekoers toegeneem het ná regulasies verslap is.”

Die president het gesê talle persone is dalk met die virus besmet, maar toon nie enige simptome nie. “Ek kan die virus hê, net soos jy. Kom ons tree op asof ons die virus het, sodat ons verantwoordelik kan bly optree en seker maak dat ons nie ander aansteek nie.”

Vlak 2 word ingestel

Gelei deur die raad van gesondheidkenners en ná gesprekke met provinsiale en plaaslike regering, het die kabinet besluit om die hele land op vlak 2 van die afsonderingsregulasies te plaas – met effek vanaf middernag op Maandag, 17 Augustus 2020. “Vlak 2 beteken daar is ʼn matige verspreiding van Covid-19 met ʼn relatief hoë gereedheid in ons gesondheidsorgstelsel. Die skuif na vlak 2 beteken dat ons byna alle beperkings kan ophef om ekonomiese aktiwiteit te laat hervat in meeste bedrywe. Ekonomiese aktiwiteit word toegelaat met die nodige en behoorlike streng gesondheidsprotokol en voorsorgmaatreëls in plek.”

Vlak 2-regulasies:

  • Alle beperkings op interprovinsiale reise word opgeskort
  • Akkommodasiegeriewe en toere word toegelaat kragtens goedgekeurde protokol om sosiale distansiëring te verseker
  • Restaurante en kroeë mag bedryf word kragtens goedgekeurde protokol en slegs tydens sekere tye en met ʼn beperking op die getal mense
  • Die verbod op die verkope van tabakprodukte word opgehef
  • Die verbod op die verkope van alkohol word opgehef, met streng voorwaardes;
    • Alkohol mag op die perseel by gelisensieerde instansies genuttig word – slegs tot 22:00
    • Drankwinkels mag alkohol verkoop van Maandag tot Donderdag en tussen 09:00 en 17:00
  • Beperkings op kuier by familie en vriende word opgehef, maar almal word gemaan om baie versigtig te wees en slegs oor-en-weer te kuier wanneer dit nodig is

Regulasies wat van krag bly:

  • Sosiale distansiëring moet steeds toegepas word, maskers moet gedra word en spesiale sorg moet geneem word om bejaardes en persone met onderliggende toestande te beskerm
  • Huidige beperkings op internasionale reise
  • Geen byeenkomste van meer as 50 mense nie (insluitend begrafnisse en godsdienstige byeenkomste)
  • Geen toeskouers by sportbyeenkomste nie
  • Aandklokreël bly van krag tussen 22:00 en 04:00

Ramaphosa het gesê persone word steeds gemaan om so ver as moontlik by die huis te bly en van die huis af te werk, veral indien die persone ouer is as 60 of onderliggende toestande het.

Die nasionale ramptoestand word verleng tot 15 September 2020.

Klik hier om die president se volledige toespraak te lees

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Jan ·

Na mate bewyse instroom dat inperkingsmaatreëls geen regverdigbare verskil maak nie, vertrou ek dat dit die regering en die media sal laat besef watse massiewe skade hulle deur oorreaksie aan die land en sy mense gedoen het en steeds doen en maatreëls sal instel om te verseker dat daar voortaan met meer oorleg en omsigtigheid gehandel sal word.

Francois Le Cochon ·

As jy covid kry gaan jy verseker n ander deuntjie sing.

Mariana ·

As ek so na die townships kyk met hulle GEEN social distancing nie….. die virus het nie daar ‘n groot impak gehad nie

Francois Le Cochon ·

My famielielid narkotiseer by n staatshospitaal gaan verseker met jou verskil.

katerinadiekat ·

Ek kan nie wag om weer behoorlike menthol sigarette te rook nie. Ek het nie vir een dag sonder sigarette gesit nie, danksy my man wat vir ons siggies in die hande bly kry het. Maar menthols was maar bitter skaars. Soos my vriendin gese het, die lewe is klaar so bitter, nou moet mens nog bitter … sigarette rook. Want na 40 jaar se rook is dit nie vir net so ophou nie.

Kobus ·

Weer teenstrydighede. Restaurante mag tot 10 uur oop bly maar niemand mag tussen 10 uur saans en 4 uur soggens ry nie. Verstaan ek verkeerd?

Stella ·

Elke persoon moet sorg dat hy of sy di regte ding doen. Mense wat ni wil hoor sê di oumense moet mar voel. Ons gan hierdi jaar al is ons nou op level 2 ni rondry of kuier ni. Ni restourante of bioskope of kerk toe ni. Ons gan mar eerder dit veilig speel. Eerder bang Jan as dooie Jan.

Francois Le Cochon ·

Stella, jy is duidelik een van min wat die virus verstaan. As almal die regte ding gedoen het, was ons al op vlak 1.

Alleen Wolf ·

Dink jy rerig so, dit het nog nooit oor die virus gegaan nie maar oor ‘n magsbehepte ANC wat jou beheer

Jaco ·

Ons mag weer rook en drink, maar kerke bly vir alle praktiese doeleindes steeds toe.
SA gaan eendag soos die ou kommunistiese Oos-Duitsland lyk: almal werk vir die staat, almal het werk en ‘n dak oor die kop en die lewenstandaard is redelik goed, MAAR baie persoonlike vryhede en godsdiensvryheid sal WEG wees

Snowball ·

Wil met jou saamstem, maar twyfel oor die lewensstandaard. Almal bly in ‘n pondokkie, dra ‘n grys jassie en rubber stewels, tand koolsop of pap en werk vir die staat. Almal gelukkig? Almal het mos nou ewe veel boggerol. Almal behalwe die vet katte van die ANC, natuurlik.

Cheryl ·

Jaco jy is reg. Bitter min mense verstaan waaroor dit regtig gaan en sien nie die agenda agter die hele storie raak nie. Wêreld word gekonditioneer en voorberei vir die koms vd een wêreld stelsel.

Alleen Wolf ·

Ek hou ook nog nie my asem op nie, daar is alweer ‘n ministeriele komitee aangestel om te besluit oor die alkohol regulasies, ek wet kopdoek is aan die stuur daarvan en kan steeds met belaglike reels vorendag kom

Die Wolf ·

Bly die aandklok reel bly van toepassing. Sal die rif raf in beperk. Moet asb nie nou sekerheidsmaatreels oorboord gooi nie.

Die Wolf ·

Haar joppie is moontlik in gevaar? Maar nou ja,jakkals verander van haar maar nie van streke nie.

ElizeK ·

Oh my hat. Restuarante mag nou oopbly tot 22:00, maar ons mag nie na 22:00 op die pad wees nie. Is daar regtig niemand in die kabinet of die raad wat hierdie reels maak, wat sinvolle besluite kan neem nie. MEESTE van hulle het dan nou grade van doktors tot advokate agter hul name. Wat n grap!!!!

johan ·

Wonder maar net of kopdoek nie voor Dinsdag vir CR gaan aanspreek en dan verander hy weer die rookverbot soos laas nie.

Danie ·

Dis hoekom daar ‘n hele maandag voorlê voordat die nuwe reels in werking tree.
Sodat CR gekorrigeer kan word.

Ellie ·

Jy mag jou drink dingetjie gaan koop tussen Maandag en Donderdag, 9-5, maaaaaar, mag jy jou drink dingetjie nuttig oor die naweek by jou gunsteling restaurant????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.