Ramaphosa vra uitstel oor Zondo-verslag

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het die hooggeregshof gevra vir ʼn nuwe spertyd waarteen die derde en laaste gedeelte van die verslag na staatskaping bekendgestel moet word, asook die datum waarteen hy stappe ingevolge die aanbevelings in die verslag moet doen.

Waarnemende hoofregter Raymond Zondo, kommissievoorsitter, het die Pretoriase hooggeregshof ook verlede week gevra vir nóg uitstel vir die bekendstelling van die laaste gedeelte van die verslag. Die sperdatum vir die oorhandiging daarvan is 28 Februarie, met die kommissie wat vra dat dit nou tot 30 April verleng word.

Volgens die kommissie sal die derde gedeelte van die verslag sowat 1 500 bladsye beslaan, naastenby dieselfde hoeveelheid as die eerste en tweede gedeeltes saam. Die kommissie sê die versoek om uitstel is betreurenswaardig, maar word aan verskeie faktore toegeskryf. Dit sluit in Zondo se voorbereiding vir sy onderhoud vir die pos van hoofregter.

Indien die aansoek toegestaan word, sal die kommissie die laaste gedeelte van sy verslag teen die einde van April, of ʼn gedeelte daarvan teen die einde van Maart en die laaste gedeelte in April, oorhandig.

Ramaphosa het op grond hiervan die hof gevra om ook sy sperdatum te verleng. Hy het vier maande tyd om stappe te doen oor die aanbevelings in die verslag, ʼn spertyd wat op 30 Junie verstryk.

Die president het die aansoek Sondag ingedien, met die verwagting dat Zondo se hofaansoek suksesvol sal wees.

Geofrey Mphaphuli, waarnemende hoof van regs- en uitvoerende dienste in die presidensie, sê in ʼn beëdigde verklaring die president staan nie die aansoek teen nie, berig News24. Hy sê in sy beëdigde verklaring die kabinetslede en hul personeel, asook ʼn span in die presidensie, is reeds besig om die eerste twee gedeeltes van die verslag te lees en te ontleed sodat hulle die president kan adviseer oor wat om oor die bevindings te doen en hoe om die aanbevelings in werking te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Hoekom? Is die tronke te vol?

Casper

Daar was alreeds verskeie keer uitstel verleen en elke keer kos dit die belastingbetalers geld.Dit blyk dat dit Zondo nie slapelose nagte gee nie.Ramaohosa wil hierdie uitstel gebruik om die regte skuiwe te maak om diegene wat hom kan inkrimineer te beskerm.Van hierdie verslae sal niks van kom nie en dit het miljoene rand gekos.Dit laat my wonder of Zondo geskik is vir die pos as hoofregter,ek glo nie.

Elise Georgina Irene

Hulle sal ook nog uitstel vra as dit nodig is om toilet toe te gaan…!

Alex

Soos met alles speel hulle vir tyd. Nog n bietjie tyd om jog gou te plunder en geld te vat voor daar n stokkie voor gesteek moet word

Misky

So die belastingbetaler betaal vir Zondo om voor te berei vir sy onderhoud???? Het ons nie genoeg biljoene verloor met sy gesloer nie? Stop die soustrein asb.