Ramaphosa vs. Sisulu: Nog ʼn kartets afgevuur

Die stryd tussen pres. Cyril Ramaphosa en sy minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, woed voort. (Foto’s: Twitter/GCIS)

Die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, meen die presidensie se mediaspan het ʼn “doelbewuste wanvoorstelling” van haar vergadering met pres. Cyril Ramaphosa gemaak in nog ʼn aflewering van die dramatiese bekgeveg tussen Sisulu en haar kritici.

Sisulu, ʼn dogter van oudpres. Nelson Mandela se kameraad Walter Sisulu, het voorverlede week ʼn omstrede meningstuk geskryf waarin sy te velde trek teen swart regters. Die rubriek het ʼn herrie ontketen en reaksie van nie net die waarnemende hoofregter en verskeie ander instellings nie, maar ook die presidensie self ontlok.

Die 67-jarige minister het in die mengingstuk, “Hi Mzansi, have we seen justice”, onder meer na ongenoemde senior regters as “geestelik gekoloniseerde Afrikane” verwys wat maar “te bly is om die spoeg op te lek van diegene wat verkeerdelik daarop aanspraak maak dat hulle die meerderes is”.

Die presidensie het Donderdagaand in ʼn verklaring gesê Ramaphosa het die minister tydens ʼn vergadering tereggewys oor haar uitlatings en spesifiek oor haar aanval op die regbank.

Luidens dié verklaring het Sisulu toegegee dat haar woorde “onvanpas” was. “Minister Sisulu trek die verklaring terug en bevestig haar steun vir die regbank,” lui die verklaring.

Dit lees voorts: “Ek aanvaar dat my rubriek teen die regbank en veral swart regters ongegronde, ongevraagde en diep kwetsende opmerkings gemaak het.

“Ek trek my kwetsende opmerkings onvoorwaardelik terug. Ek erken dat baie vroue- en mansregters tans en in die verlede hul land op die regbank met toewyding en patriotisme gedien het en dat sommige geweldige opoffering gemaak het in die stryd teen apartheid en kolonialisme.

“Ek vra om verskoning vir en betreur die pyn wat ek vir die regbank veroorsaak het.”

Die ink op dié verklaring was kwalik koud, of Sisulu het nog ʼn verklaring uitgereik waarin sy ontken dat sy “berou uitgespreek het” oor die meningstuk of ingestem het om dit terug te trek of verskoning daarvoor te vra.

Luidens die jongste Sisulu-verklaring het die minister die president inderdaad Woensdag op sy versoek ontmoet nadat hy ongemaklik was met ʼn spesifieke gedeelte van haar rubriek. Ramaphosa het glo voorgestel dat ʼn derde party of tussenganger help met die bewoording van die spesifieke sin wat hom aanstoot gegee het.

“Ons het ʼn volwasse en sinvolle vergadering gehad en het dit op goeie voet afgehandel. Die president het my inteendeel [Donderdag] gebel en die spesifieke gedeelte – wat gewysig is – en wat hom geaffronteer het, voorgelees. Ons het ons bespreking vriendelik afgesluit,” sê Sisulu.

Haar kantoor sê die minister respekteer die kantoor van die presidensie en dié van die president, maar sy is nietemin bekommerd “dat die president se mediaspan doelbewus moedswillig” was in die verklaring wat uitgestuur is.

Dít omdat sy wat Sisulu is in geen stadium van die gesprek deur Ramaphosa berispe is nie. Sisulu hou ook vol dat sy glad nie ingestem het om verskoning te vra vir die rubriek nie. Sy het net ingestem om ʼn spesifieke sin, met betrekking tot die regbank en een waarteen die president kapsie gemaak het, te heroorweeg.

Sisulu se snydende opmerkings het hewige debat veroorsaak en is olie op die vuur van bespiegelings dat sy beoog om in Desember vanjaar, tydens ʼn ANC-konferensie, Ramaphosa as partyleier uit te daag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Die man kan nie eers met n stout kind raas nie, wie steur hulle nog aan hom?

Pablo ·

Wat n sirkus en dis ver van verby. Ou Ramaphosa se dae is getel. Ou Zuma probeer sy vingers tel. He he heeee.

Johnny ·

Gaan Slap Cyril die moed hê om haar af te dank? Ek wed hy is te slap.

Sê maar net ·

Slange spoeg gif…….Wat ‘n onaangename besigheid.

Jannie van Niekerk ·

Behoede ons landjie wat alreeds in die afgrond in regeer is die afgelope 28 jaar as hierdie antie president word. Arme onderkorporaal Malema, die grootste soldaat en vegter van alle tye, sal soos ‘n kleuterskoolkind lyk teen haar.

JohanR ·

Sisulu moet maar vir haar ‘n nuwe werk soek, alhoewel ek dink nie sy het al ooit ‘n rerige dag se werk in haar hele lewe gedoen nie. Miskien kelnerin by Mugg & Bean? As Cyril ‘n tweede termyn wen dink ek nie sy sal in sy nuwe kabinet wees nie. On kan ook maar net hopp dat Bheki Cele, NDZ, Patricia de Lille en Lindiwe Zulu en Fikile Mblula ook @Voertsak!

My siening ·

Kader gemors hulle roem hul op hul vaders wat almal net so korup was!

Hendrik ·

Ek is seker Walter Sisulu draai in sy graf om as hy sien hoe vêr sy dogter se rassistiese onderrok uithang. Sy is ‘n verleentheid vir ons land, en as Ramaphosa nie drasties teen haar optree nie, sal hy die bietjie respek wat hy nog by sy ondersteuners het, heeltemal verloor.

Pieter9 ·

Ek is hoegenaamnd nie ‘n Sisulu ondersteuner, hoe gouer sy van die to eel vetdwyn hoe beter, maar ek sal my nek uitsteek; ek dink Ramaphosa lieg… hy het al hoeveel keer gewys hoe hy en sy span die waarheid manipuleer. Hy sal’ n groot haas uit die hoed moet ruk vir hierdie een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.