Ramaphosa wens blitsige Binder geluk

Die Suid-Afrikaner Brad Binder na sy oorwinning by die Tsjeggiese motorfiets-Grand Prix in Brno. (Foto: Red Bull Content Pool)

Selfs pres. Cyril Ramaphosa het die Suid-Afrikaanse motorfietsjaer gelukgewens nadat hy Sondag by die Tsjeggiese motorfiets-Grand Prix in Brno geskiedenis gemaak het.

Binder, van Krugersdorp in Gauteng, het met sy eerste sege ook die eerste Suid-Afrikaner geword om ʼn wedren in die MotoGP-era te wen.

“Brad Binder het alle Suid-Afrikaners [Sondag] met sy geskiedkundige oorwinning trots gemaak. Ons deel in sy opwinding en sien uit na sy lang en suksesvolle loopbaan op die kruin van die sport,” het Ramaphosa gesê.

“Dit het op Vrouedag gebeur en bind ons saam as ʼn land. Brad se oorwinning in die Tsjeggiese Grand Prix gee inspirasie, hoop en trots en lig gemoedere op ʼn tydstip wat ons dit nodig het.”

Ook op sosialemediaplatforms het boodskappe van gelukwense vir Binder ingestroom.

Vir die 24-jarige jaer self was dit ʼn sprokieswedren.

Brad Binder. (Foto: Red Bull Content Pool)

“Ek het van hierdie dag gedroom van ek ʼn klein seuntjie was. Vandag is daardie droom bewaarheid. Ek wens regtig my ouers was hier, want hulle het van die begin af bankvas agter my gestaan,” het Binder gesê.

“Ek kan nie my span genoeg bedank nie. Hulle het die naweek vir ʼn absoluut mal motorfiets gesorg. Dankie aan almal by die huis wat my altyd ondersteun. Ek hoop hierdie is die begin van vele meer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Daniel

Baie geluk Brad!
Die ANC sal dit seker ook nou teiken vir kwotas?

Wilhelm

Ek sal verkies as die politiek heeltemal wegbly van sport af, so eintlik vir my jammer om te hoor dat Ramaphosa ook nou skielik wil geluk sê. Die beste ding van MotoGP is dat daar nie ‘n Lewis Hamilton BLM mannetjie met ‘n houding is nie, en geen politiek betrokke is nie… ek wens dit bly so.

Tewis

Wonderlik!! baie geluk Brad dit was vantasties om dit te aanskou trot op jou. Nooit gedink ek sal die dag beleef waar een van ons SA se manne ń Moto GP sal ry en nog wen ook nog daarby.
PS: nou het ons ons eie Valentino Rossi !!!

JohanR

Wens hy kon soe gou wees om medelye te toon, of selfs eers gepla wees om medelye te toon met die boer/e wat op die selfde dag aangeval is. Moenie die land maak lag nie Cyril. Daar is nie ‘n land wat saamgebind is nie, meer ‘n photo opportunity vir jou en die ANC op Vrouedag!

Nie Verbaas

Ons is trots op jou Brad. Jy is n nederige persoon wat in stilte die wereld wys wat jy in jou het. Moet nooit dat korrupte politici dit ooit verander nie. Hulle is so vals as wat jy kan kry. ANC, kom asseblief met kwota vir die sport. Ons is lus vir lag.