Ramaphosa wens SA voorspoed, vrede toe in 2020

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siya Duda)

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy gebruiklike nuusbrief aan Suid-Afrikaners gesê mense moet bemoedig word deur die vooruitgang wat die land maak, ten spyte van talle uitdagings.

“Terwyl die 25ste jaar van ons demokrasie ten einde loop, kyk ons terug op ʼn jaar wat gevul was met hoogte- en laagtepunte; ʼn jaar waarin ons groot vooruitgang gemaak het, maar ook verskeie terugslae beleef het.”

Ramaphosa sê die vreedsame verkiesing in Mei het net weereens aan die wêreld gewys dat Suid-Afrika ʼn dinamiese demokrasie is waar burgers daartoe verbind is om ʼn nuwe samelewing te bou wat gegrond is op dít wat alle Suid-Afrikaners wil hê – en waar alle Suid-Afrikaners tuishoort.

“Vir baie Suid-Afrikaners duur hul swaarkry egter voort. Terwyl ons ekonomie werk geskep het, was dit nie naastenby genoeg om die styging in werkloosheidsyfers en groeiende armoede te bekamp nie. Baie Suid-Afrikaners se lewens het ten goede verander, maar talle ander moet nog die voordele van ekonomiese hervorming en nuwe beleggings eerstehands beleef,” het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê die land het die afgelope jaar groot wreedheid teen vrouens en kinders gesien. “Ons het vrees in ons huise, skole en op straat beleef.

“Tog, as ʼn nasie, het ons saamgestaan in ons vasberadenheid om die mans wat dié misdade  pleeg, wat geen respek vir die lewens, waardigheid en regte van vroue en kinders het nie, te stuit.”

Volgens die president is die land ook ʼn tree nader daaraan om gehalte gesondheidsorg aan alle burgers te verskaf en om grond te gee aan diegene wat dit bewerk en nodig het.

Hy het gesê vordering is ook gemaak om gratis tersiêre onderrig aan alle studente uit arm en middelklasgesinne te verskaf en te verseker dat kinders by vroeë kinderontwikkelingsprogramme baat.

Ramaphosa het gesê vordering word gemaak om beleggings te lok en instelling te herbou wat noodsaaklik is vir ʼn suksesvolle demokrasie.

Hy het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om elkeen te help om die land op te bou en gesê deur krag en durf kan daar van hierdie land ʼn sukses gemaak word.

“Ek wens jou en jou geliefdes ʼn suksesvolle en vreedsame 2020 toe. Voorspoedige Nuwejaar aan elkeen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.