Ramaphosa wil Jiba, Mrwebi ondersoek

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Pres. Cyril Ramaphosa het adv. Nomgcobo Jiba, die nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, en adv. Lawrence Mrwebi, die spesiale direkteur van openbare vervolging, in kennis gestel van sy voorneme om ondersoeke in te stel na hul geskiktheid vir hul poste.

Ramaphosa het Jiba en Mrwebi versoek om teen 10 Augustus redes te verskaf waarom hulle nie geskors moet word hangende die ondersoeke teen hulle nie.

“Ek kan nie die belangrikheid van die publiek se vertroue in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en sy mees senior bestuur genoeg beklemtoon nie. Dit is ʼn grondwetlike instelling wat die kern is van die behoorlike administrasie van geregtigheid. Twyfel oor die geskiktheid en integriteit van enigiemand in ʼn senior amp bring dié vertroue en die vermoë van die NVG in gedrang,” het Ramaphosa in briewe aan Jiba en Mrwebi gesê.

“Die bewerings wat tydens die onderskeie uitsprake gemaak is, is al jare lank in die openbare domein. Ondanks die feit dat die litigasie nie ʼn gevolgtrekking kon maak nie, het die uitlatings van dié lede van die regbank die beeld van die NVG geskaad en dit sal so voortgaan totdat die kwessie behoorlik aangeraak is.”

Jiba en Mrwebi is albei 15 September 2016 op spesiale verlof geplaas en van die rol van advokate geskrap weens verskeie omstrede besluite. Hulle het daarteen geappelleer en die appèlhof het in Julie vanjaar die skrapping tersyde gestel.

Die appèlhof het bevind die Algemene Balieraad van Suid-Afrika het versuim om te bewys dat Jiba skuldig was aan wangedrag in haar hantering van die Richard Mdluli-saak.

Die Balieraad se klagte teen Mrwebi het ook verband gehou met die Mdluli-saak. Daar is spesifiek aangevoer dat hy ʼn wanvoorstelling gemaak het van die omvang van sy konsultasie met die NVG se adv. Sibongile Mzinyathi voordat ʼn besluit geneem is om aanklagte van bedrog en korrupsie teen Mdluli, die voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, terug te trek.

Die appèlhof het bevind die Balieraad kon wel vasstel dat Mrwebi hom aan wangedrag skuldig gemaak het, maar die straf om hom van die rol te skrap, is nie geregverdig nie omdat sy gedrag nie tot sy eie persoonlike voordeel was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ramapaddapot ·

Ondersoek eerder jouself – jy jouself is ‘n probleem

zeno ·

Lekker lag ek nou, vir bostaande kommentaar, dit is goed gestel en die waarheid.

Paul ·

Julle hier bo is 100% korrek, CR rig net soveel skade aan die land se ekonomie met sy beleid aan as die korruptes en die Zuma kaders. Gemeet teen wat hy aanvang maak die ondersoeke nie ‘n vaal kol nie. Ons sien mos hoe duik die rand, die rentekoerse, beleggings beteken niks, oral is negatiewe groei. Dankie Cyril!

Alida ·

Hy grawe sy eie graf. Wonder of hy die verbande op die plase en huise ook gaan vat met die grond debat. Die boere en huiseienaars moet noual n stewige neseier bymekaar maak om elders skuldloos oor te begin. CR het seker nie daaraan gedink hoeveel skade die banke gaan ly nie.

Kobus ·

CR het nie baie steun in die ANC se topstruktuur nie. Hy moet beleid uitvoer. Alles gaan daaroor om die verkiesing re wen. Maar daar is nie regtig hoop nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.