Ramaphosa, Zuma vandag in KZN

ANC-ondersteuners op pad na die Moses Mabhida-stadion in Durban (24 Februarie 2024) (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Pres. Cyril Ramaphosa en sy voorganger, Jacob Zuma, sal na verwagting Saterdag twee verskillende verkiesingsbyeenkomste in KwaZulu-Natal toespreek.

Die regerende ANC gaan ʼn opdraande stryd voer om sy meerderheid in die parlement te behou, maar ook in dié provinsie, Zuma se tuisprovinsie.

“Zuma verteenwoordig die enkele grootste bedreiging vir die ANC in KwaZulu-Natal,” het Zakhele Ndlovu, ʼn dosent in politiek aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban.

Die stryd tussen die twee leiers sal Saterdag in die publiek gevoer word, wanneer die ANC sowat 85 000 ondersteuners by ʼn sokkerstadion in Durban verwag vir die bekendstelling van sy verkiesingsmanifes.

Zuma se byeenkoms vind sowat ʼn uur daarvandaan plaas by ʼn buiteklub in Scottburgh.

KwaZulu-Natal het die grootste ANC-lidmaatskap, maar die party is reeds onder druk van die Demokratiese Alliansie en sy vennoot, die Inkatha Vryheidsparty.

“As die ANC nie goed vaar in KwaZulu-Natal nie, sal hy nasionaal nie goed vaar nie,” het Susan Booysen, ʼn politieke analis vir die Mapungubwe-instituut vir strategiese nadenke, gesê.

Volgens peilings kan die party moontlik so min as 40% haal in die nasionale verkiesing. Dit beteken dat die ANC ʼn koalisieregering moet nastreef om aan bewind te bly. Weens begrotingsbeperkings sal Ramaphosa waarskynlik nie enige groot verkiesingsbeloftes maak nie, meen analiste.

Hy sal na verwagting eerder met die ANC se geskiedenis spog as die bevrydingsbeweging wat demokrasie na Suid-Afrika gebring het en talle uit armoede opgehef het.

Booysen sê toegang tot gesondheidsorg en maatskaplikewelsynstoelaes bly ʼn aantrekkingskrag vir ʼn groot deel van die kiesers.

“Die ANC se grootste werk gaan wees om, ondanks al die ander probleme en sy eie afname, homself as ʼn groot, sterk party voor te doen wat werklik ʼn verskil kan maak.”

Ondersteuners sal na verwagting ook beloftes hoor oor beurtkrag, misdaad en werkskepping.

“Die ANC het nie meer slagspreuke nie,” het Xolani Dube, ʼn politieke analis by die Xubera-instituut, gesê.

Zuma en die MK-party

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Ihsaan Haffejee/AFP)

Zuma sal na verwagting op sy charisma staat maak om kiesers te lok om vir sy nuwe radikale Umkhonto We Sizwe (MK)-party te stem.

Die party, vernoem na die ANC se voormalige gewapende vleuel, het nie enige beduidende beleidsverskille van die regerende party nie.

Die 81-jarige veteraan bly, ondanks skandale en korrupsiebewerings, steeds baie gewild in sy tuisprovinsie.

Volgens die Social Research Foundation dra hy nog meer as 60% van kiesers se goedkeuring weg. MK kan moontlik 20% van die stemme in die provinsie op hom vestig, aldus die opname.

“Hy is ʼn magneet vir mense wat vervreemd geword het van die ANC,” het Booysen bygevoeg. “Party-ondersteuners voel nie heeltemal dislojaal as hulle vir Zuma stem nie, maar weet dat dit die ANC sal straf.”

Landswyd beskou minder as 30% van kiesers Zuma in ʼn gunstige lig.

Suid-Afrikaanse burgers sal op 29 Mei 2024 hul kruisies trek in die nasionale en provinsiale verkiesings. Die president het die dag as ʼn openbare vakansiedag verklaar. Meer as 27 miljoen mense het reeds geregistreer om te stem, aldus die Onafhanklike Verkiesingskommissie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Waarom die paramilitêre uniforms? Teen wie wil hulle veg?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.