Ramokgopa is minister van elektrisiteit  

Dr Kgosientsho Ramokgopa (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Dr. Kgosientsho (Sputla) Ramokgopa is pas as die tydelike minister van elektrisiteit aangewys.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand skuiwe aan sy kabinet aangekondig en Ramokgopa is aangewys as die minister wat die land uit die kragkrisis moet lei.

Ramokgopa, ʼn voormalige Tshwane-burgemeester, dien sedert 2019 as hoof van die beleggings-en-infrastruktuurkantoor in die presidensie.

Volgens Ramaphosa sal Ramokgopa verantwoordelik wees vir die oplossing van die elektrisiteitskrisis. “Die primêre taak van die minister sal wees om die erns en frekwensie van beurtkrag as ʼn saak van dringendheid aansienlik te verminder.

“Om effektief toesig te hou oor die reaksie op elektrisiteitskrisis sal die aangestelde minister politieke verantwoordelikheid, gesag en beheer hê oor alle kritieke aspekte van die energie-aksieplan.”

Ramokgopa sal koördinering van die talle departemente en entiteite wat by die krisisreaksie betrokke is fasiliteer, saam met Eskom-leierskap werk om die prestasie van bestaande kragstasies om te draai en die verkryging van nuwe opwekkingskapasiteit te versnel.

Volgens Ramaphosa sal hy ingevolge artikel 97 van die Grondwet sekere bevoegdhede en funksies, vervat in relevante wetgewing, aan Ramokgopa oordra.

“Die minister in die presidensie vir elektrisiteit sal in die amp bly solank as wat dit nodig is om die elektrisiteitskrisis op te los.”

Nuwe minister sal kragkrisis pak

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Ramaphosa het tydens sy staatsrede aangekondig dat dié nuwe portefeulje geskep word. Die nuwe minister van elektrisiteit sal volle verantwoordelikheid aanvaar vir die bestuur van die regering se reaksie op die energiekrisis.

Die minister sal die dryfveer wees van alle optrede deur die Nasionale Energiekrisiskomitee om as ʼn saak van dringendheid ʼn einde aan beurtkrag te maak.

“Die minister van elektrisiteit sal dagin en daguit slegs konsentreer om die beurtkragkrisis te pak, asook saam met die bestuur en raad van Eskom werk,” het Ramaphosa vroeër gesê.

Ramaphosa het ook tydens sy staatsrede ʼn ramptoestand aangekondig om die kragkrisis te takel. Dit het tot hewige kritiek – en reeds verskeie hofsake om dit te betwis – aanleiding gegee.

Die regulasies wat met die ramptoestand verband hou, is verlede week in die Staatskoerant bekend gemaak.

Dit lui onder meer dat kwytskelding van beurtkrag vir noodsaaklike infrastruktuur en dienste net toegestaan mag word indien dit “tegnies moontlik” is, en dan ook net in oorleg met die vereistes van die stelseloperateur sodat dit nie “gaan lei tot ʼn verhoogde risiko of hoër fases van beurtkrag” nie.

Ministers mag, soos nodig, maatreëls instel om struikelblokke vir die ontwikkeling of konstruksie van nuwe opwekkingskapasiteit uit die weg te ruim en moet die sekuriteit en beskikbaarheid van die lewering van goedere en dienste tydens die nasionale ramptoestand handhaaf.

Die invoer van krag van buurlande en die afhandeling van kontrakte hiervoor moet versnel word en daar moet voorsiening gemaak word vir die werwing en plasing van vaardige personeel en die aanstelling van oorspronklike onderdeelvervaardigers by Eskom sodat die kragvoorsiener se opwekkingsherstelplan vinniger vrugte sal afwerp.

ʼn Kabinetslid mag ook nou enige ander stap doen om die verergering van die ramp te verhoed, of om dit te verlig, in bedwang te bring of die uitwerking daarvan te minimaliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Henk ·

Hierdie mense besef nie eers die oorsaak van beurtkrag nie. Wat gaan hulle doen om dit te beheer? Kry solank die popcorn reg.

Wit Leeu ·

Uiters swak ! Ramokgopa weet niks van niks ! Skep maar lekker tewyl jy kan !

Martin ·

Uiteindelik iemand in beheer wat die “oplossing” is vir ons regering se wanbestuur en oorsaak van die krag krisis in ons land. Ek hoop net nie Romokgopa bly langs my nie anders gaan hy ook 3-4 keer per dag beurtkrag ondervind soos ek. Een ding wat lekker is van die beurtkrag, my korttermyn versekering ken my al by my voornaam as gevolg van die hoeveelheid eise wat ek al ingesit het van elektroniese toebehore wat beskadig het as gevolg van beurtkrag. My eise gaan nou sommer vinnig deur wanneer dit ingesit word deur my, dankie Eskom julle is die beste.

Hennie ·

As kabinetsminister kry hy n generator! Geen beurtkrag vir hom nie

Harley Davidson ·

Sputla was ‘n teleurstelling toe hy burgemeester van Pretoria was so tyd sal leer hoe hy gaan doen in die lagwekkende pos waar hy nou is.Ek glo Ramaposa en Biden is nou die voorlopers om die wêreld se mees onbevoegde leiers te wees.

KB ·

ʼn “Dr.” in WAT? Oe, hulle is lief vir titels…
Die enigste plek waar sy spoed-la gaan inkom is by kortsluitings. Mag Ramokgopa ook ʼn paar kry.

Danie ·

Dalk moet ons ophou bekommerd wees en die sirkus geniet.Gooi solank n sterk een met ys.

Doompie Daan ·

Kom ons hoop en vertrou dat die nuwe minister vir elektrisiteit daarin sal slaag om die waarheid en korrupsie as oorsake vd kragkrisis “kaalkop” te ontbloot!

Maritza ·

En wat gaan hy anders doen as De Ruiter? Net nog n mors van geld

John ·

Hy behoort nie te lank in die pos te wees nie…aangesien hulle se hy sal bly tot die probleem uitgesort is….

Amelia ·

Watter buurlande voorsien ons van krag ons voorsien zim van krag of is dit lesotho weat ons van krag voorsien is buurland nie buurlande nie

Amelia ·

Gaan seker lewenslank minsister wees met daai pay en voordele ens sal daar niks gedoen word nie o goeiste griet

Chris dupreez ·

Was hy nie die Tshwane burgermeester wat betrokke was by die groot bedrog met die pre paid meters in die begin nie. ?

Linda ·

Ramaphosa het nou aandag gegee aan die krag krisis . Van bad na worst.

Marcello ·

Aai!! Dit is lagwekkend, hoe wil hy die korrupsie en agterstallige onderhoud stop sit in Eskom. ??? Andrè was gekritiseer, so hoe gaan hy dit doen? Andrè wat ‘n briljante sakeman en leier was, kon nie sy werk doen sonder inmenging deur die ANC nie. As die regering net ophou inmeng, gaan daar MISKIEN iets van kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.