Ramphadi het sy oog op Parys

Donald Ramphadi in aksie. (Foto: Pieter Cloete)

Wanneer jy ʼn paar balle saam met Donald Ramphadi op die tennisbaan slaan, kom jy vinnig agter dat dié 30-jarige rolstoeltennisster oor hope talent beskik.

Dié Suid-Afrikaanse tennisspeler vertrek eersdaags na Turkye waar hy aan die wêreldkampioenskap gaan deelneem. Daarby is die Paralimpiese Spele ook om die draai

Vantevore het hy al op bane in Madrid en Barcelona asook op Roland-Garros en Wimbledon afgeslaan.

Ramphadi se lewe het in ʼn oogwink verander toe hy as 12-jarige in ʼn rolstoel beland het.

ʼn Siekte wat sy spiere aangetas het, is eers op 12-jarige ouderdom by hom opgemerk.

Ramphadi is nie afhanklik van ʼn rolstoel nie, maar beweeg makliker en sonder pyn met ʼn rolstoel.

Hy het in ʼn eenslaapkamerhuis in Maropeng, ʼn klein nedersetting naby Tzaneen, grootgeword. Hy is een van drie kinders wat sy ma moes bystaan. Sy pa was glad nie in die prentjie nie en sy ma is in 2011 oorlede.

Donald Ramphadi. (Foto: Pieter Cloete)

Die afgelope week het hy met Maroela Media oor sy welslae op die  tennisbaan gesels.

Sy oë skiet elke nou en dan vol trane wanneer hy oor sy kinderjare gesels en die man wat hy vandag is.

“Jy kan vir jouself indink dat dit nie maklik was om niks vir jouself te kan doen nie – jy is heeltemal afhanklik van jou ma,” sê hy. “Maar ek sien die glimlag op haar gesig,” en voeg by dat hy weet sy ma “hou hom van bo-af dop”.

Ramphadi het eers vyf jaar ná sy siekte weer sy kragte opgebou om na homself om te sien.

“My lewe het onherroeplik verander. Die lewe wat ek geken het, het opeens verander. Ek was op pad skool toe om ʼn toets te skryf. Ek het nie geweet dat my lewe opsy gedraai sou word nie.”

Hy was nog altyd ʼn sportiewe seun wat daarvan gedroom het om vir Orlando Pirates op die sokkerveld uit te draf.

Hy is vir die eerste keer by die Letaba-skool vir kinders met spesiale behoeftes aan rolstoeltennis blootgestel.

“Ons was ʼn handjievol kinders en die onderwysers het my aangeraai om net ʼn paar balle te staan. Sjoe, ek het dadelik versot geraak op die sportsoort.

Donald Ramphadi. (Foto: Pieter Cloete)

“Ek het besef dit is wat my toekoms inhou. Die sport het my baie omtrent myself geleer.”

Hy is die no. 1-speler in Afrika en Suid-Afrika en beklee die vyfde plek op die wêreldranglys.

Die aard van die medalje op die paralimpiese verhoog is nie iets waaraan Ramphadi hom veel steur nie – hy is verlig om in Parys in aksie te wees.

Hy dra elke wedstryd aan sy seun op. “Ek wil nie hê my seun moet swaarkry soos wat ons gekry het nie. Ek wil ʼn pa vir my seun wees. Ek dink nie graag aan die seer nie – my storie is een om te deel.”

Ramphadi wil graag teruggee aan die gemeenskap waar hy grootgeword het om die kinders meer oor rolstoeltennis te leer.

“Nie almal van ons het dieselfde gawes nie. Ek is in ʼn bevoorregte posisie om finansieel sterk te staan en om my waardering aan die onderwysers te gee, wil ek ʼn liefdadigheidsorganisasie stig.”

Ramphadi wil nog vir die volgende 15 jaar as kompeterende speler meeding.

Ramphadi is die eerste Suid-Afrikaanse man om ʼn Grand Slam-dubbelspeltitel te wen sedert Wesley Moodie in 2005. Die Suid-Afrikaners David Adams en Piet Norval kon dit onderskeidelik in 2000 en 1999 ook regkry.

Siyabulela Nkachela, ʼn agent en afrigter van Tennis Suid-Afrika, is Ramphadi se mentor. Hy is vir hom soos ʼn pa – iets wat hy nooit geken het nie.

“Ek en Siya het saam gaan sit en die planne vir die toekoms uitgewerk. Ek weet waartoe ek in staat is.”

Nkachela sê geduld, toewyding en waardering vir wat jy het, is eienskappe wat hy by Ramphadi geleer het.

Hy verwys na hom as #DonatheWarrior.

“Soms verg dit om in iemand te glo.

“Donald por my om die beste te lewer wat ek kan – waarop ek ook al my gedagtes vestig, as gevolg van sy kanniedood houding in goeie én slegte tye.

“Ek hoef net te kyk waar ons was toe ons hierdie reis in Augustus 2021 begin het en waar ons nou is. Enigiets is moontlik as jy glo.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Voorwaar ‘n merkwaardige prestasie en hy behoort ‘n inspirasie te wees vir baie ander mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.