Ramphele kondig uittrede aan

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Dr. Mamphela Ramphele Foto: Burger Meyer/Maroela Media

Mamphela Ramphele, leier van Agang SA, het Dinsdag haar uittrede uit politiek aangekondig.

“Ek het besluit om uit partypolitiek te tree,” het Ramphele in ʼn verklaring gesê. “Ek het my doel bereik om ʼn politieke voertuig te skep wat ʼn stem gee vir persone wat buite die politieke hoofstroom bly. Ek gaan na die burgerlike samelewing terugkeer om die idealisme wat my my lewe lank nog dryf, weer na te streef.”

Ramphele se besluit kom in ʼn tyd waar Agang SA verdeeld is, terwyl ʼn faksie probeer het om haar uit die leierskap te skop. Lede van Agang SA het in Junie ʼn nasionale uitvoerende komiteevergadering in Alexandra gehou waar die besluit geneem is dat Ramphele nie bevoeg is vir haar amp nie. Die groep het ʼn mosie van wantroue in haar leierskap aanvaar en haar leierskapstyl bevraagteken. Sy is gevolglik geskors, maar ʼn groep van haar ondersteuners het reageer en diegene wat die vergadering bygewoon het, geskors.

Ramphele en Mike Tshishonga, voorsitter van Agang SA, het ook afsonderlike bedrogsake by die polisie aangemeld oor ʼn bankrekening wat oopgemaak is om ʼn terugbetaling van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ter waarde van R200 000, te ontvang.

Die New Age het berig Tshishonga het Ramphele daarvan beskuldig dat sy direkte toegang tot partyfondse het en dat sy die rekening oopgemaak het om toegang te bekom tot die OVK-deposito sonder ʼn mandaat van die party. Tshishonga het aangevoer sy handtekening het op die bankrekening se dokumentasie verskyn sonder sy medewete.

Agang SA het tydens die algemene verkiesing op 7 Mei altesaam 52 350 stemme ontvang. Dit verteenwoordig 0.28% van die 18 654 771 stemme en twee setels in die parlement.

Die Demokratiese Alliansie het vroeg in 2014 aangekondig dat Ramphele sy presidensiële kandidaat sou wees, maar die “vennootskap” het binne ʼn week ineengestort. Ramphele en Helen Zille, leier van die DA, het teenstrydige redes gegee waarom die vennootskap gefaal het. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Demokraat ·

Tata Mamphela Ramphele – ten spyte van goeie kwaliteite, was jy nooit regtig ‘n politikus nie. Jou uittrede is dus nie ‘n verrassing nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.