Rampokkery-klag teen Booysen laat vaar

Johan Booysen. Foto: Karen Sandison/African News Agency(ANA)

Aanklagte van rampokkery teen Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, is teruggetrek.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Dinsdag aangekondig dat adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, die besluit geneem het.

Die voormalige waarnemende nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Nomgcobo Jiba, en die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolgings, adv. Shaun Abrahams, het onderskeidelik op 17 Augustus 2012 en 16 Februarie 2016 magtiging verleen vir vervolging op aanklagte van rampokkery, het Bulelwa Makeke, woordvoerder van die NVG, gesê.

Booysens en die ander beskuldigdes het aansoeke in die hooggeregshof gebring om die aanklagte ter syde te laat stel.

“Batohi moes dus nou besluit wat die NVG se posisie in die litigasie sou wees. Dit het onder meer vereis dat sy haar moes vergewis van die geldigheid van die magtigings. Sy het toe ’n paneel aangestel om die magtigings te hersien, en om bevindings en aanbevelings aan haar voor te lê.”

Die paneel het uit twee direkteurs van openbare vervolgings, advv. Rodney de Kock en Ivy Thenga, sowel as die adjunkdirekteur van openbare vervolgings, adv. Shareen Riley, en senior staatsadvokaat Elijah Mamabolo, bestaan.

“Die paneel het sy hersiening afgehandel en ʼn verslag met aanbevelings aan die nasionale direkteur van openbare vervolgings verskaf. Die eenparige gevolgtrekking van die paneel is dat ‘ten opsigte van die magtigings ’n behoorlike saak nie gemaak is met die dokumente wat voorgelê is nie’. Die paneel het aanbeveel dat die magtigings van beide advv. Jiba en Abrahams ongeldig is,” het Makeke gesê.

Batohi het na deeglike oorweging van die verslag, ander relevante materiaal en ʼn gesprek met die paneel tot die gevolgtrekking gekom dat die magtigings ongeldig is. “Gevolglik sal die aanklagte van rampokkery teen al die beskuldigdes teruggetrek word. Rakende die oorblywende aanklagte, wat moord, huisbraak, diefstal en regsverydeling insluit, sal die nasionale direkteur van openbare vervolgings die dossiers terugverwys na adv. Elaine Zungu, waarnemende direkteur van openbare vervolgings in KwaZulu-Natal, om die bewyse van elke saak te herevalueer en te besluit of daar voortgegaan word met vervolging.”

Booysen, wat in Februarie verlede jaar uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens getree het, en 27 ander speurders in sy eenheid is daarvan beskuldig dat hulle by die sogenaamde Cato Manor-moordbende betrokke was.

Die groep is van ʼn reeks misdade beskuldig, insluitend rampokkery en dat hulle minstens 28 mense doodgemaak het. Die beamptes is in 2012 in hegtenis geneem nadat Sunday Times die storie aan die lig gebring het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

10 Kommentare

ChrisE ·

As ek die manne is maak ek ‘n saak teen die staat, (vir wat dit mag werd wees) en looi hulle, vir verskeie klagtes. As jy wil pak uitdeel op gerugte en verdagmakery moet jy jou feite agtermekaar kry, anders gaan jy pak kry.

kas ·

Die groot sondebok is Jiba wat van Booysen wou ontslae raak oor hoe profiel ondersoeke.Ek wonder van wie het het die opdrag gekom.Ek kan net raai.Ja as die ander klagtes laat vaar word kan hy groot eise teen jiba en die staat instel.

Johann M van Heerden ·

Johan Booysen is duidelik ‘n man van staal. Bly vir hom, maar dit was so onnodig. As ek hy is maak ek ‘n saak teen die mense wat hom aangekla het en eis skadevergoeding.

JohanL ·

Dit is die soveelste saak in die hof waar die hof ‘n besluit neem en dan ook nog ten gunste van Booysen. Almal weet nou dat Johan Booysen onskuldig was. Maar dit is nou tyd dat die party wat vals klagtes opgedis het, vervolg moet word.

Sarel ·

Eis teen die manne in Private hoedanigheid laat hulle betaal. Lyk vir iemand is haar sout werd saam met die Paneel.

aj ·

Jiba en Abrahams moet PERSOONLIK vir kwaadwillige vervolging en bedrog vervolg word. Hulle moet ‘kaal uitgetrek’ word met eise vir skadevergoeding!

Mag hulle vrot in die tronk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.