Rampspanne op hoë gereedheid vir storms in KwaZulu-Natal

KwaZulu-Natal (Foto: TUBS – eie werk, Wikimedia Commons)

Die KwaZulu-Natalse departement van samewerkende regering en tradisionele sake het Donderdag gesê rampbestuurspanne is op hoë gereedheid weens swaar reën.

Volgens Lennox Mabaso, woordvoerder vir die departement, het Weziwe Thusi, LUR vir die departement, gemeenskappe in die provinsie gerus gestel dat rampbestuurspanne op bystand is om enige voorvalle te hanteer weens die swaar reën wat steeds in die provinsie val.

“Persone in laagliggende dele word aangemoedig om voorsorgmaatreëls te tref, aangesien oorstromings kan plaasvind. Ons is nou in die reënseisoen en omdat ons gereeld deur rampe getref word, vat ons nie enige kanse nie,” het Thusi gesê. “Ons doen ook ʼn beroep op persone om steeds water te bespaar, aangesien ons damme nog nie herstel het nie.”

Thusi het inwoners gemaan om te alle tye versigtig te wees, aangesien die swaar reën ook sigbaarheid op die paaie beïnvloed.

Mabaso het gesê daar was nog nie enige rampe aangemeld nie. Die hele provinsie word deurgaans gemonitor.

“Maatreëls is in plek gestel binne die provinsie se 54 munisipaliteite om seker te maak dat betrokke gemeenskappe dadelik bystand kan ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cherokee ·

Wanneer dit droog is kla ons. Wanneer dit reën kla ons. As dit koud is piep ons. As dit warm is sjoe ons. As die wind waai is ons ontevrede daarmee en wanneer daar geen wind is is dit ook rede tot klagtes. As ons ‘n middelpunt bereik sal steeds rede tot klagte gevind word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.