Ramptoestand het impak op skoliere, sê SOS

(Foto: Henk Kruger/ANA)

Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het die minister van samewerkende regering Woensdag gemaan om die ramptoestand op te hef. Dit volg nadat die ramptoestand op 15 Januarie vir nog ʼn maand verleng is.

Volgens Solidariteit bestaan daar geen rasionele basis waarop die afgekondigde ramptoestand verder verleng kon word nie. Solidariteit is voorts van mening dat die verlammende gevolge van die ramptoestand vir die ekonomie en onderwys nie langer geduld kan word nie.

Die SOS is veral bekommerd oor die impak wat die voortslepende ramptoestand op skole en leerders het. Volgens die organisasie moet die impak van Covid-19 in skole eerder deur elke skool self bestuur word as wat die regering of die departement van basiese onderwys (BDO) poog om dit vanaf ʼn sentrale punt te doen.

“Die minister moet afstand doen van haar outokratiese beheer oor skole en moet eerder skole se eie mag aan hulle teruggee,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS. Elke skool verstaan die bepaalde behoeftes van sy gemeenskap asook die spesifieke uitdagings waarmee hy gekonfronteer word. Die skole is bevoeg en heeltemal in staat om die risiko’s te bestuur, om in die beste belang van hul leerders op te tree sodat agterstande ingehaal kan word en om toe te sien dat leerders aan so min as moontlik verdere ontwrigting onderwerp word.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen die ekonomiese aktiwiteit van verskeie sektore, soos toerisme, word nog deur die Rampbestuurswet ingeperk. “Dit beteken dat hierdie ondernemings nie ten volle operasioneel kan wees nie en dus nie voldoende inkomste kan verdien om te kan voortbestaan of te herstel nie. Duisende werknemers en sake-eienaars ly daaronder. Mense wil ekonomies herstel en hul ondernemings herbou, maar kan dit doodeenvoudig nie doen nie omdat hierdie irrasionele wetgewing dit nog beperk.”

Hermann voer aan dat dit nooit die doel van die Rampbestuurwet was om absolute vryheid van mag vir ʼn ongekende tydperk aan die betrokke minister toe te ken waardeur landsburgers aan die magsvergrype van die minister en haar bevelsraad blootgestel word nie. Hy is van mening dat die Rampbestuurswet tans eerder landsburgers se basiese vryhede en hul ekonomiese en leeraktiwiteite inperk as wat dit beskerming teen die pandemie bied.

Volgens Hermann word die land nou gyselaar gehou in ʼn ramptoestand vir iets wat nie meer as ʼn ramp beskou kan word nie. Alhoewel die aanvanklike omvang en onsekerheid van die virus destyds ʼn ramptoestand kon regverdig, is dit nie meer die geval nie en moet dit opgehef word.

“Ons word blootgestel aan die magsvergrype van een minister sonder dat sy enigsins verantwoordbaar gehou word vir die implementering van regulasies en beperkings wat sy op mense afdwing,” voeg Hermann by. “Mense verarm omdat hulle nie na behore kan werk nie en kinders het nie voldoende geleentheid om te leer nie. Indien die minister nie voor of op 28 Januarie op ons waarskuwing reageer nie, gaan ons hof toe. Minister Dlamini-Zuma se skrikbewind moet nou end kry.”

Lees die brief hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronel ·

Sterkte, as Vinpro en SAB nie kon regkry nie weet ek nou nie

Marius ·

Dit is tyd dat al die onbevoegde ministers in die pad gesteek word. As gevolg van hul swak leierskap en bestuurs vermoeë het ‘n menigte departemente tot stilstand gekom tot op die punt dat daar geen doelwitte gestel of behaal word nie. Die mense sit net en wag vir hul maandelikse salarisse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.