‘Ramptoestand moet nie weer verleng word’

Premier Alan Winde.

Die presidensiële koördineringsraad, wat onder andere uit premiers bestaan, moet dringend vergader om te besluit watter stappe gedoen moet word om die nasionale ramptoestand te beëindig.

Volgens Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het die regering onlangs uitlatings gemaak wat verwys na die nasionale ramptoestand en die gepaardgaande regulasies wat binnekort tot ʼn einde sal kom.

“Hoewel dit baie belowend is, is daar nog geen duidelike tydaanduidings vir presies wanneer dit sal gebeur nie. Dít is ten spyte daarvan dat die ramptoestand oor minder as twee weke verval.”

Winde het begin Februarie aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf en ʼn vergadering versoek oor die beëindiging van die nasionale ramptoestand. Die president het versoek dat hy met Nkosazana Dlamini-Zuma hieroor beraadslaag, waarna sy voorgestel het dat die kwessie deur die presidensiële koördineringsraad bespreek moet word.

“Daar is egter nog nie ʼn datum of tyd verskaf vir wanneer dit sal plaasvind nie en gegewe die naderende sperdatum versoek ek dat Ramaphosa die raad dringend byeenroep. Hierdie vergadering moet geskied lank voordat die regulasies op 15 Maart 2022 verval, om te verseker dat dit nie net vooraf verleng word nie.”

Daar is eenvoudig geen dwingende redes vir die verlenging van die nasionale ramptoestand nie, sê Winde. “Ons moet ons Covid-19-reaksie deur bestaande openbare gesondheidsmaatreëls bestendig en provinsies bemagtig en in staat stel om in die toekoms te reageer.”

Solidariteit en die regering gaan mekaar op 20 April in die hof aanvat oor die opheffing van die ramptoestand.

Volgens Solidariteit is daar geen rede dat die ramptoestand steeds van krag moet wees nie. “Die voorwaardes vir die ramptoestand het verval en daarom moet dit ook beëindig word. Die hofdatum bied aan Suid-Afrikaners werklik hoop dat die einde van die ramptoestand in sig is,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Die ramptoestand verleen abnormale magte vir abnormale omstandighede aan die regering. ʼn Regering mag nie ʼn dag langer as wat nodig is dié magte hê nie. Ons moet onthou dat die magte wat die regering tans het dieselfde magte is waarvolgens besluit is watter skoene gedra mag word en beveel is dat warm kos nie verkoop mag word nie.”

Solidariteit het ʼn beroep op die regering gedoen om nie in Maart die ramptoestand te verleng nie. “Die regte stap vir die regering sal wees om die ramptoestand self op te hef en nie te wag vir ʼn hof om hom te verplig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
George

Tyd dat ons ook opruk. Dra my masker al vir baie lank nie meer nie. Letterlik net by die tills, anders nee wat. Dis sleg vir my gesondheid, so as jy kan kies vir vaccine, kan ek kies met die.

Jacobus

Die spul klou krampagtig aan die noodtoestand. Wonder waarom? – beloftes van groot finansiële insentiewe – dis nie meer ‘n geheim nie! Al moet ons die wat feite ophaal eenvoudig kanselleer!

Charles

Simbool van onderdanigheid, verder beteken dit niks nie, behalwe om jou vrylike asemhaling te beperk, die masker.

Pierre

Wat beteken die ramptoestand nog, ek as burger van die land kan vrylik beweeg waar ek wil, doen wat ek wil, eet wat ek wil, al wat oorbly is dra van maskers wat my nie pla nie aan die anderhand is daar die magbehebde ANC wat die ramptoestand uitbyt deer prosedures te vermy en mag uit te oefen wat hulle werklik nie beskore is nie.

Sterkte dit gaan wees soos om n dronk man se drank te probeer afneem.

Louis

Kopxoek gaan dit weer verleng. Sy dink mos sy is president