Ramptoestand oor krag: Só verander regering sy deuntjie

(Argieffoto: Dall-E)

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn nasionale ramptoestand oor die kragkrisis afgekondig ten spyte van die herhaaldelike versekering van onder meer die departement van openbare ondernemings, Eskom en die nasionale rampbestuursentrum dat voldoende wetgewing bestaan om die kragkrisis hok te slaan.

Só lui ʼn aanvullende verklaring van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, in die organisasie se dringende hooggeregshofaansoek om die verklaring van die ramptoestand ter syde te laat stel. Dit is Dinsdagmiddag op die respondente beteken.

Die verklaring berus op die rekord van besluitneming wat Ramaphosa moes lei om hieroor te besluit. Dié rekord bevat egter verdoemende bewyse dat diegene betrokke by die besluit self geen gronde daarvoor kon gee nie – maar nietemin later haas onverklaarbaar van plan verander het daaroor.

Ramaphosa het dus op 10 Februarie nietemin ʼn nasionale ramptoestand afgekondig.

“Dit lyk of die uitvoering van ʼn besluit van die ANC-lekgotla die duidelikste doelwit was vir die afkondiging,” lui Hermann se verklaring.

Só verloop besluitnemingsproses

Die rekord van besluitneming wys onder meer dat Ramaphosa vir insette van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake gevra het nadat Wes-Kaapse premier Alan Winde hom op 17 Januarie in ʼn skrywe vra om ʼn ramptoestand oor die kragkrisis in te stel.

In haar antwoord aan Ramaphosa [op 23 Januarie] sê Nkosazana Dlamini-Zuma, toe nog minister van dié departement, dat die departement net ʼn ramptoestand kan instel indien die situasie nie deur bestaande wetgewing hanteer kan word nie. Dit kan ook eers gedoen word wanneer die nasionale rampbestuursentrum ʼn gebeurtenis as ʼn ramp verklaar het.

Die direkteur-generaal van die departement van openbare werke het op sy beurt “bevestig dat daar in hierdie stadium voldoende nasionale wetgewing is om die beurtkragkrisis te hanteer”.

Die rampbestuursentrum se antwoord was dat die energiekrisis dalk binne die breë raamwerk van ʼn ramp val, maar nie ingevolge die Wet op Rampbestuur nie. Die sentrum verklaar voorts ook “voldoende nasionale wetgewing bestaan” wat die president in staat stel om die energiekrisis te hanteer.

Op 1 Februarie vergader die rampbestuursentrum twee keer met sleutelbetrokkenes en weer bevestig die departement van openbare ondernemings en Eskom dat bestaande wetgewing voldoende is.

Dieselfde dag verskyn verskeie mediaberigte wat verwys na oproepe uit ANC-geledere dat Ramaphosa die instel van ʼn ramptoestand moet oorweeg. Ramaphosa word onder meer aangehaal dat werk reeds onderweg is om te bepaal of aan al die wetlike vereistes vir die verklaring van ʼn ramptoestand voldoen word.

Op 6 Februarie bevestig die nasionale rampbestuursentrum weer bestaande wetgewing is voldoende om die kragkrisis te hanteer. Die sentrum se aanbeveling lui “die klassifikasie van ʼn ramp ingevolge art.23 en die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand ingevolge art. 27 word nie in hierdie stadium gesteun nie”.

Hermann sê in sy verklaring hieroor: “Drie keer, oor ʼn tydperk van minder as ʼn maand, het die nasionale sentrum tot die gevolgtrekking gekom dat nasionale wetgewing voldoende is om die energiekrisis te pak en dit nie gepas is om die energiekrisis as ʼn ramp te klassifiseer nie.

“Soortgelyk was die minister se siening ten alle tye dat geen ramptoestand geregverdig is nie.”

Skielike ommeswaai

Hierna sing die sentrum skielik ʼn ander deuntjie.

Op 8 Februarie, ʼn week ná die ANC-lekgotla, vergader Dlamini-Zuma met die hoof van die rampbestuursentrum en word sy ingelig dat die sentrum nou sy mening oor die ramptoestand aangepas het.

Die sentrum se assessering lui nou dat die uitwerking van die kragkrisis wel as ʼn nasionale ramptoestand beskou kan word en dat die besluit gegrond word op die uitwerking daarvan op die ekonomie en die gevaar van ʼn algehele netwerkineenstorting.

Die sentrum voer nou ook aan die “doeltreffendheid” van bestaande wetgewing kan nie bepaal word nie.

Hermann sê in sy verklaring die sentrum waarsku nietemin dat die instel van ʼn ramptoestand tot regstappe teen die regering kan lei. Verskeie instellings voer aan dat die wetlike vereistes daarvoor nie nagekom word nie en dat die Wet op Rampbestuur nie gebruik kan word om “kwessies te pak wat as regeringsmislukkings” beskou kan word nie.

ʼn Dag later, op 9 Februarie, het die minister en die hoof van die rampbestuursentrum egter hul onderskeie besluite oor die klassifikasie en afkondiging van ʼn ramptoestand geneem.

Op 10 Februarie, tydens sy staatsrede, maak Ramaphosa die besluit bekend, en regulasies wat met die ramptoestand verband hou word weke later in die Staatskoerant bekend gemaak.

Ramp afgekondig, want ANC sê só

Hermann sê dit is “verstommend” dat ʼn ramptoestand steeds ingestel is, al het sleutelrolspelers herhaaldelik te kenne gegee dat bestaande wetgewing die kwessie doeltreffend kan bolwerk.

“Oënskynlik was die enigste groep wat gevra het dat ʼn ramptoestand ingestel word… die nasionale uitvoerende komitee van die ANC.”

Hermann se verklaring lui ook dat indien omstandighede nie ʼn ramptoestand op 23 Januarie regverdig het nie, dit ook nie op 8 Februarie die geval sou wees nie, “mits iets natuurlik tussenin verander het, soos die mandaat van die ANC-lekgotla”.

Solidariteit voer aan die klassifikasie en afkondiging van die ramptoestand kan hersien en ter syde gestel word omdat dit onder meer:

  • deur ʼn regsdwaling beïnvloed is;
  • geneem is omdat irrelevante oorwegings in ag geneem is en relevante oorwegings verontagsaam is;
  • wetgewing oortree of nie deur die bemagtigende bepaling toegelaat word nie;
  • só onbillik is dat geen billike persoon die besluite sou geneem het nie; en
  • ongrondwetlik en onregmatig is.

Solidariteit voer aan die minister se besluit, sonder om terselfdertyd regulasies ook bekend te maak, wys dat dit gedoen is “sonder enige duidelike doelwit… minstens nie ʼn regmatige een nie”.

Solidariteit voer ook aan die rampregulasies hersien kan word weens ʼn gebrek aan konsultasie daaroor en omdat geen rede daarvoor bestaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Watsenaam ·

Die groot induna het gepraat hy is baas, en almal buig voor hom. Tiepies. Dalk is sy vingers ook diep in die skandaal. Daarom smeer hy als toe. Die ramptoestand word natuurlik gebruik om almal se aandag van die werklike slegte gebeure te probeer af lei.

Kokerboom ·

Dirk die ANC regime het land totaal gekaap en steur hul aan geen insette of wetgewing

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis nou wat die Yanks die Deep State noem.

Johanna ·

Jul Moet mos by die tyd weet mens Kan hul NIE vertrou NIE. Hulle swaai Om vinniger as wat mens asemhaal. Ouman seker bang hul skop him uit soustrein nou Dan’s hy na hul pype

Theunis ·

Net nog ‘n kenmerk van die ANC “Moet nie doen wat ons doen maar doen wat ons sê, ons pas nie aan by die situasie nie maar pas eerder die situasie aan volgens wat ons sê”

Samuel ·

Die Hoof Kader is baie bang vir die organisasie wat hy kamtig lei. Ruggraatlose jellievis.

Nici ·

Ek het nie besef Alan Winde en die DA is verantwoordelik vir die ramptoestand nie.

Harley Davidson ·

Ramaposa stel teleur ,hoe kan iemand soos hy ‘n leier van ‘n land word al is dit ‘n piesang Republiek.

Pippie ·

Kan ons hulle nie as onbevoeg laat verklaar en vervang met ‘n regering wat eers ‘n IK toets moet ondergaan?

André ·

En daar is tannie zuma weer. Elke keer wanneer daar gekonkel word is sy voor in die koor.

Pierre ·

Ramptoestand sal verseker dat die KARPOWERSHIP impak wetgewing kan omsuil en opwekking sonder oorsig goedgekeer kan word, daar is al lank spekulasie rondom onderhandse ooreenkomste met rol spelers.

Amelia ·

Presies die russe is nie verniet kort kort hier nie Sal my glad nie verbaas as land kla “verkoop” is aan russe nie

Tommie ·

Oooohhhh dit is so hartseer ???? ????.
Dit is ‘n sirkus en Ramaphosa is die Hoof-nar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.